Pogings laat vaar om rampboot te red
Die Japanse vistreiler, die Fukuseki Maru No. 7, het op 'n tweede rotsrif vasgeval.
Des Erasmus - Die gevreesde Skedelkus van Namibië het nog ‘n skeepswrak geëis.
‘n Japanse vistreiler, die Fukuseki Maru No. 7, kan nie terug na dieper water gesleep word nie waar dit in die nag van 21 en 22 Maart enkele kilometer suid van die wrak van die Winston op ‘n rotsrif geloop het.
Bevestiging is op Walvisbaai deur mnr. Paul van der Merwe van Walvis Bay Diving gegee dat pogings laat vaar is om die Fukuseki Maru van die rotsrif na dieper vaarwater te sleep. Al wat nou oorbly, is om nog van die boot se toerusting te red wat nog te redde is.
Die gesamentlike poging van die afgelope drie weke om die Japanse langlynboot vir tunavangste van die rotse te sleep, het in daardie stadium reeds ‘n geskatte N$50 miljoen beloop. Dit kan selfs meer wees as die basiese aanvanklike boukoste van die Fukuseki in 1996. Die res van die astronomiese prys wat die kus van skedels opgeëis het, word saamgestel deur duur toerusting op die boot en die kosbare vrag wat dit gedra het.
Onder die vrag was ‘n geskatte 80 ton tuna, vangste wat aanvanklik hoofsaaklik teenoor die Angolese kus behaal is. Tuna is ‘n duur smulspesie wat volgens een bron tot US$45 per kilo kan kos.
Die afgelope drie weke het tot een van die grootste reddingspogings in jare langs die Namibiese kus gelei. Deel van die reddingsaksie was die sleepboot SA Amandla wat ná ‘n noodvaart uit die hawe van Tafelbaai kom help het.
Baie helikoptervlugte is na die terrein onderneem om eers die bemanning van 21 op vaste grond te kry en daarna van die vrag te red. Die boot moes ligter gemaak word om by te dra tot pogings om dit met hoogwaters van die rotse te sleep.
Die buitelandse versekeraars van die Fukuseki was op die toneel met bystand wat deur Walvisbaaise duikers verleen is. Swaar vragmotors van Walvisbaai was ook op die toneel om van die vrag na veiligheid te bring.
Japan was deur ‘n sterk afvaardiging tegnici verteenwoordig wat per vliegtuig na Namibië en die ramptoneel gebring is.
Hoop het verlede week opgevlam om die Fukuseki weer in vaarwater te kry toe die SA Amandla daarin geslaag het om die boot aan sy agterstewe sowat 100 meter dieper die see in te trek. Daar het dit op ‘n tweede rostrif vasgeval.
Die operasie ‘n entjie suid van die grens van die Skedelkuspark by die Ugabrivier kan nou nog ‘n paar weke duur. Die departement van maritieme sake moet eers ‘n kennisgewing uitreik waarin die eienaars bemagtig word om met die aftakeling van die boot voort te gaan.
Skeepswrakke het ‘n toerismewaarde, maar in die geval van die Fukuseki is dit taamlik uitgesluit, aangesien die wrak sowat 900 meter van die strand lê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie