Polar lap selfs meer ‘staatsgeheime’ as Strava uit
Dié maatskappy is die tweede een wat private inligting verklap nadat drawwers in Januarie gehoor het die oefentoep Strava deel sy gunstelingroetes op ’n wêreldkaart.
Petrus Malherbe - Duisende eienaars van Polar-fiksheidsbandjies, waaronder soldate, het onwetend hul ligging op ’n wêreldkaart gedeel waartoe enigiemand teoreties toegang kan kry.
Polar is die tweede maatskappy wat sulke inligting blootstel nadat kranige drawwers in Januarie gehoor het die oefenapp Strava deel sy gunstelingroetes op ’n wêreldkaart.
Die gewildste roetes het helder gegloei op Strava se kaart, en in sommige gevalle het soldate op dié manier onwetend die ligging en uitleg van hul militêre basisse aan die vyand verkondig.
Op sy beurt maak Polar dit moontlik vir gebruikers om op ’n kaart aan te dui waar hulle dié dag gedraf het.
Die Nederlandse koerant De Correspondent wys daarop dat dié inligting meestal vryelik beskikbaar is vir enigiemand om te sien, waaronder die naam van die persoon wat daar gehardloop het.
Die Polar-fiksheidsbandjie meet ook ander inligting, soos jou hartklop, spoed en hoe laat jy gehardloop het. Hierdie inligting kan spioene help om jou roetine te bepaal. As jy elke dag van jou huis af begin draf, sal die kaart dit ook so aandui, wat jou huisadres aan booswigte verklap.
Gebruikers kan kies om dié funksie af te skakel, maar meeste mense het nie eens besef dit gebeur nie, berig die koerant.
De Correspondent sê Polar se Explore-kaart bevat ’n volledige rekord vir elke drafsessie van gebruikers sedert 2014.
Die koerant kon met die kaart meer as 6 400 gebruikers identifiseer wat die diens naby geheime liggings soos ’n militêre basis gebruik het.
In al die gevalle kon De Correspondent die gebruikers se naam en huisadres bekom.
Polar vra in reaksie op die berigte in ’n verklaring om verskoning en sê hy was nie bewus dat booswigte sy stelsels so kan uitbuit nie.
Die Explore-funksie is tydelik gedeaktiveer in die Polar-toep sodat die maatskappy kan uitpluis hoe om dit steeds deel van sy aanbod te maak sonder dat ander mense toegang tot sensitiewe inligting kan kry.
Die maatskappy het wel klem daarop gelê dat geen gebruiker se inligting gelek is nie.
Ná die herrie oor Strava se kaart het die maatskappy stilletjies opgehou om soveel data van sy gebruikers te versamel. Die toep het ook begin om gebruikers pertinent te vra of hulle bereid is om hul drafroetes op ’n wêreldkaart aan te dui. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie