Polisie gedagvaar vir baba se dood

Die polisiewoordvoerder het bevestig die klag van strafbare manslag word deur die Omahekestreek se departement vir interne ondersoeke hanteer.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith – Die bedroefde gesin wie se maand oue babaseun verlede maand glo agterin 'n polisievangwa dood is as gevolg van roekelose en nalatige bestuur, dagvaar nou die polisie.

Die menseregteprokureur mnr. Norman Tjombe het Sondag bevestig hy sal die gesin verteenwoordig en dat 'n tans onbepaalde bedrag vir pyn, lyding en skok weens die dood van die minderjarige en die beraamde begrafnisuitgawes geëis sal word.

Hy het bygevoeg, benewens die siviele saak sal die gesin eis dat tugstappe teen die betrokke polisiebeamptes geneem word en strafregterlike klagte is teen die betrokke beamptes aanhangig gemaak.

Tjombe sê die baba, wat op Onafhanklikheidsdag vanjaar gebore is, is nog nie begrawe nie, omdat die gesin op 'n behoorlike nadoodse ondersoek aandring.

Die ouers, me. Lucia Cloete en mnr. Stephanus Eiseb, het die voorval by die polisie aangemeld kort nadat hul maand oue baba dood is.

Verlede week het die polisie gesê 'n klag van strafbare manslag word tans ondersoek.

Die polisiewoordvoerder, adj.komm. Kauna Shikwambi, het Sondag bevestig die klag van strafbare manslag, wat deur die gesin aanhangig gemaak is, word deur die Omahekestreek se departement vir interne ondersoeke hanteer.

Sy het bygevoeg 'n lykskouing sal uitgevoer word om die oorsaak van die baba se dood te bepaal en dat die verslag tans hangend is.

Op die baba se amptelike doodsertifikaat staan: “Unkown and unspecified causes of morbidity”.

Gabriel Cloete is op 21 April vanjaar dood, presies 'n maand ná sy geboorte.

Volgens die gesin het hulle op 21 April die Epako-polisiekantoor genader om 'n saak van diefstal aan te meld, en gevra 'n polisiebeampte moet hulle vergesel om te help om 'n gesteelde kombers terug te kry.

Die oupa van die baba beweer in 'n video-opname die paartjie moes ure by die polisiekantoor wag om die diefstal aan te meld. Hulle het hul eenjarige kleuter en jong babaseun saamgeneem.

Hulle beweer toe hulle uiteindelik gehelp is, was die beampte wat die vangwa bestuur het, onbeskof en skynbaar dronk.

Volgens die oupa het sy seun vertel die polisiebeampte het wild en roekeloos bestuur. Die gesin, wat agterin die vangwa was, is rondgeslinger. In 'n stadium het die baba geval en sy kop gestamp. As gevolg daarvan, sê hulle, is hy onmiddellik dood.

Hulle sê die polisiebeampte het geweier om hulle by die huis af te laai en hulle moes noodgedwonge hul baba se lykie huis toe dra.

Die betrokke polisiebeamp­tes se name is nog nie bekend gemaak nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!