'Polisie' laai aktivis in Zim in SA bakkie
'Polisie' laai aktivis in Zim in SA bakkie

'Polisie' laai aktivis in Zim in SA bakkie

Pres. Jacob Zuma en pres. Robert­ Mugabe hou môre in Pretoria samesprekings oor onder meer immigrasie, verdediging, handel en beleggings.
Erica Gibson



Die inhegtenisneming van 'n Zimbab­wiese pastoor en politieke aktivis in Harare verlede Sondag het 'n onverwagte Suid-Afrikaanse kinkel gekry nadat 'n video aan die lig gekom het wat toon hoe polisielede hom in 'n bakkie met 'n Gautengse nommerplaat laai.

Evan Mawarire, 'n pastoor en die leier van die #ThisFlag-beweging in Zimbabwe, is Sondag by sy kerk in Harare gearresteer nadat hy die vorige dag 'n Facebook-bespreking gehad het waarin hy pres. Robert Mugabe gekritiseer het oor die ekonomiese krisis in die land. 'n Video van sy inhegtenisneming deur lede van die Zimbabwiese polisie en intelligensiebeamptes toon hoe hy in 'n Isuzu-dubbelkajuitbakkie met die Gautengse registrasienommer CC57TV GP gelaai word.

“Word buitelandse voertuie nou gebruik om amptelike take in Zimbabwe te verrig?” wou een gebruiker op Twitter weet.

Die lede in die voertuig was nie in uniform nie, maar in pakke klere. Volgens Doug Coltart, 'n menseregteprokureur van Zimbabwe, is dit gewoonlik die polisie se misdaadondersoekeenheid wat gevangenes soos hy vergesel, maar ver­skeie beamptes van die gevreesde Sentrale Intelligensie-organisasie (CIO) het aanstellings in dié eenheid.

Rapport het die registrasienommer nagespeur en vasgestel dat die Isuzu-bakkie verlede jaar op 12 Augustus in die naam van Auction Nation met 'n posadres in Sandton geregistreer is. Dié onderneming verkoop hoofsaaklik voertuie wat in ongelukke beskadig is.

Daar is 'n polisieklaring dat die voertuig nié gesteel is nie en dat dit as gebruikte voertuig verkoop sal word.

Gift Ngwenya, direkteur en afslaer van Auction Nation, het by navraag gesê hy het geen idee hoekom die voertuig in Zimbabwe steeds onder sy onderneming se naam geregistreer is nie. Ngwenya het toevallig as jongeling sy tande as afslaer by Zimbabwe se tabakveilings gesny, maar bedryf reeds vir jare sy onderneming in Suid-Afrika.

Volgens hom is die enigste verklaring dat die eienaar dalk nooit die voertuig in sy eie naam geregistreer het nie. Hy sê verder dat hy soms winskopies soos dié nuwe Isuzu verkoop.

“Ons doen wat ons kan om te verseker dat die eienaarskap wel gewysig word.”

Hy het onderneem om die registrasienommer na te speur om vas te stel hoekom dit klaarblyklik nou deur intelligensiebeamptes in Zimbabwe in wetstoepassing gebruik word en op dié manier Suid-Afrika se naam in die gedrang bring. Hy het egter nie soos beloof aan Rapport terugvoering gegee of op enige verdere e-posvrae gereageer nie.

Volgens Rapport se bronne is die polisie lank reeds besig met 'n ondersoek om te bepaal hoe gesteelde en ander voertuie onwettig oor die grens geneem word.

Die betrokke voertuig is reeds op 18 November verlede jaar deur 'n Zimbabwiese “sakeman” en nog 'n Zimbabwiër, wie se name aan Rapport bekend is, sonder enige probleme deur die Beitbrug-grenspos na Zimbabwe geneem. Die sakeman sou die nodige dokumentasie van eienaarskap moes hê om die voertuig sonder meer landuit te neem.

Vuyo Mhaga, woordvoerder vir Fikile Mbalula, minister van polisie, het aan Rapport bevestig die voertuig is nie as gesteel in Suid-Afrika aangemeld nie.

“Suid-Afrika het géén jurisdiksie om in Zimbabwe by enige wetstoepassing betrokke te wees nie. Ons sal die saak verder ondersoek.”

Pres. Jacob Zuma en pres. Robert Mugabe ontmoet môre in Pretoria vir samesprekings oor onder meer immigrasie, verdediging, handel en beleggings.

Intussen berig Philda Essop dit is onduidelik of Mugabe se vrou, Grace, hom na Suid-Afrika sal vergesel. Suid-Afrika het in Augustus diplomatieke immuniteit aan Grace toegestaan ná bewerings dat sy Gabriella Engels (20), 'n Johannesburgse model, in 'n hotel met 'n elektriese verlengkoord aangerand het. Grace het Suid-Afrika inderhaas ná die voorval verlaat.

Haar regsverteenwoordigers was vroeër vandeesmaand in die hooggeregshof in Pretoria in verband met die saak teen haar. AfriForum, wat vir Engels verskyn, het 'n hofaansoek ingedien om die toestaan van diplomatieke immuniteit aan Grace ongeldig te laat verklaar.

Sy het vroeër na berig word in Zimbabwe gesê haar kritici het die voorval georkestreer om haar beeld skade te berokken en haar politieke loopbaan te vernietig. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!