Polisie, militu00eare polisie van teistering beskuldig
Polisie, militu00eare polisie van teistering beskuldig

Polisie, militêre polisie van teistering beskuldig

Verdagte met naald gesteek
Catherine Sasman
Catherine Sasman - ’n Jong vlootoffiser het Vrydag ’n tussentydse interdik teen die Namibiese polisie verkry ná hy hulle van hardhandige ondervraging, teistering en marteling beskuldig het. Die polisie beskuldig hom op hul beurt daarvan dat hy wapens uit Angola na Namibië gesmokkel het.

Die vlootoffisier, Natangwe Angula, het verlede Vrydag (7 Okt.) in ‘n dringende aansoek in die hoërhof gevra dat twee wetstoepassingsagentskappe en staatsveiligheid-instansies verbied moet word om hom te teister en sy persoon te bedreig.

Die saak is vir 15 November op die hofrol geplaas. Voor dan moet die twee respondente, polisiekommissaris lt. genl. Sebastian Ndeitunga, en die minister van veiligheid en sekuritiet, genl.maj. (afgetree) Charles Namoloh, bewyse lewer waarom ‘n interdik en bevel om hulle van onwettige gedrag te weerhou om Angula se regte te skend, nie uitgereik moet word nie.

Angula het in sy eedverklaring gesê sy beproewing het op Saterdagoggend 3 September begin toe hy buite die erf op Walvisbaai, waar hy agter in ‘n woonstel bly, ontspan het. Daar het hy drie of vier geparkeerde polisievoertuie in die straat opgemerk.

Toe hy later na sy woonstel stap, het die vrou van wie hy huur, Mamuno Iikela, hom vertel dat die polisie met haar oor ‘n huisbraak gepraat het en van haar wou weet of ‘n manlike Angolees in een van haar woonstelle bly.

Later die oggend het Angula weer buite die erf gesit toe hy deur die polisie, twee in burgerdrag en ‘n vroulike offisier in uniform, genader is. Hulle het hom op sy bynaam, Deko, aangespreek.

Hy voer aan die polisie wou van hom weet of hy AK47-aanvalswapens geberg het en wanneer hy van Angola af teruggekeer het. Die militêre polisie het ‘n uur later opgedaag en die vrae herhaal.

Angula sê die polisie het ook die eienaar van die perseel daarvan beskuldig dat sy haar huis in ‘n “militêre basis waar wapens gestoor word”, omskep het.

Hy sê die teistering het aangehou en teen 18:00 Saterdag het hy en sy broer, wat in die weermag is, na die Kuisebmund-polisiekantoor gegaan om ‘n verduideliking te kry.

Daar is hulle meegedeel dat die polisie bloot hul werk gedoen het. Terug by die huis het sy gesien die polisie gaan voort om die perseel dop te hou.

Sondagoggend 4 September het die vroulike polisiebeampte met lede van die spesiale reserwemag by die huis opgedaag en sy woonstel deursoek op soek na wapens wat glo uit Angola gesmokkel is.

Angula sê tydens die hele voorval het die polisie nie ‘n deursoekingsbevel getoon nie en was ook traag om hulle te identifiseer.

Een het homself as speurdersersant Kabuku geïdentifiseer en die ander een het gesê hy is hoofoffisier John Katenda van die militêre polisie.

Die ondervraging het Dinsdag 6 Desember vroegaand toegeneem toe die polisie hom meegedeel het dat hulle “met hom gaan rondbeweeg.”

Hy sê hy is agter in ‘n voertuig met die registrasiemerk GRN 10, gelaai waarmee hulle na die Rooikop militêre basis buite Walvisbaai gery het. Ná ongeveer 25 minute se rondryery, is hy weer oor vermeende wapensmokkelary gevra en gesê dat die polisie “bereid was om hom fisies te elimineer.”

Angula sê in die daaropvolgende dae het die polisie hom dopgehou en hom voortdurend agtervolg. Op 29 September het hy die regsmaatskappy, AngulaCo. Incorporated, genader wat ‘n brief aan die polisie en die ministerie geskryf het waarin navraag oor die rede vir sy ondervraging gedoen is.

Die polisie en die ministerie het nie op die briewe gereageer nie en op 5 Oktober is Angula deur vier mans genader wat op diskrete wyse hul wapens aan hom gewys het. Hulle het gesê hulle het ‘n brief van skulderkentenis wat hulle wou hê hy moes onderteken.

Hulle het hom opdrag gegee om in ‘n voertuig te klim en met hom na die omgewing van die Welwitschia-hospitaal, onderweg na die Rooikop militêre basis, gery. Van daar het hulle hom na Duin 7 geneem, waar hy ‘n graaf gegee is en aangesê is om ‘n gat te grawe. Hy sê hy is ook met ‘n inspuitingnaald gesteek. Hy kon egter nie sê wat die inhoud in die spuit was nie.

Angula het op die vlug geslaan toe ‘n voertuig met toeriste daar aangekom het. Hy het in die duine gaan skuil totdat hy veilig gevoel het. Hy het van daar na die openbare vervoernaaf gestap waar hy ‘n saamrygeleentheid na Omwuandi in die noorde van Namibië gekry het.

Sy familie het hom na Windhoek gebring waar hy Vrydag in ‘n hofaansoek ''n interdik teen die polisie gevra het.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer