Polisie onderdruk betogings nu00e1 verkiesing
Polisie onderdruk betogings nu00e1 verkiesing

Polisie onderdruk betogings ná verkiesing

Kiesers in Sierra Leone sal nog 'n paar dae moet wag om te hoor wie die land se nuwe president is.
NAMPA
Onlustepolisie het Woensdag skermutselinge in Sierra Leone se hoofstad, Freetown, in die kiem gesmoor te midde van politieke spanning wat aan die styg is, nadat die owerhede die kantoor van 'n leidende opposisiekandidaat besoek het.

Minstens een persoon is ná die opstand vir steekwonde behandel. Die opstand het uitgebreek nadat die polisie die opposisieparty se kantore sonder 'n lasbrief wou deursoek, het 'n woordvoerder van die Sierra Leone Volksparty (SLPP) gesê.

Hul kandidaat, Julius Maada Bio wat in die 2012-verkiesings verslaan is, het later op regstreekse TV die ­regeringskuif veroordeel.

“Die tellery van stemme het begin, en ek het telefone en skootrekenaars wat ek gebruik om die uitslae op te tel,” het hy gesê. “Ek het 'n stemtel-sentrum in my kantoor ingerig, wat nie teen enige landswette is nie. Dit is wettig.”

'n Woordvoerder van die huidige president van die regerende APC-party het ontken die owerhede het probeer om oproer te stook.

“Die polisie en die regstaat bly in plek,” het Abdulai Bayratay later op dieselfde TV-netwerk gesê. “Die APC probeer nie om die vrede in die land in die gedrang te bring nie.”

Woensdag se verkiesing was die vierde sedert Sierra Leone se bloedige burgeroorlog in 2002 beëindig is en die vorige verkiesing, in 2012, was grotendeels vreedsaam.

Die wedloop om die presidentskap was druk met altesaam 16 kandidate wat hulle verkiesbaar gestel het. Die wenner sal die land moet help herbou ná die verwoestende Ebola-epidemie van 2014 – 2016 .

Freetown is in Augustus verlede jaar ook deur 'n dodelike modderstorting getref wat die lewe van minstens 1 000 mense geëis het.

Die uittredende president, Ernest Bai Koroma, het in die aanloop tot die verkiesing gesê: “Dit is tyd vir mense om verantwoordelik te wees met hul stemmery. Ek is bereid om die mag aan wie ook al verkies word, te oorhandig om my op te volg.” Die voorloper is Samura Kamara, Koroma se gekose opvolger, en Julius Maada Bio.

'n Tweede verkiesingsronde sal waarskynlik moet plaasvind. Waarnemers sê dit is onwaarskynlik dat een kandidaat die vereiste 55 persent van die stemme sal behaal.

Koroma het twee termyne as president gedien en kon volgens grondwetlike bepalings nie vanjaar weer as kandidaat staan nie. Sierra Leone het 3 miljoen geregistreerde kiesers uit 'n totale bevolking van 7 miljoen. Uitslae word binne tien dae verwag.

– Nampa/AP

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer