Polisie ontdek dwelmnes
Polisie ontdek dwelmnes

Polisie ontdek dwelmnes

Twee vermeende jong dwelmsmokkelaars, die dwelmbaas vir wie hulle na bewering gewerk het en laasgenoemde se vriendin is in Windhoek aangekeer.
Tanja Bause
Tanja Bause – 'n Berugte, vermeende Windhoekse dwelmbaas wat in die onderwêreld as Bruno bekend staan, is gister saam met drie buitelanders borgtog geweier en bly in aanhouding.

Die 30-jarige mnr. Buruxa Butkus, of Bruno, is saam met die drie buitelanders in hegtenis geneem toe die Namibiese polisie se eenheid vir dwelms vroeg Vrydagoggend 'n suksesvolle klopjag in dié woonbuurt uitgevoer het.

Volgens die woordvoerder van die Namibiese polisie, hoofinsp. Kauna Shikwambi, het die verdagtes, mnre. Lee Douglas Surtees Jenkins, ’n 19-jarige Britse burger, Westley Welgemoed, ’n 19-jarige Suid-Afrikaanse burger, en me. Verena Salzmann, ’n 30-jarige Duitse burger, gister in die landdroshof in Windhoek op klagte van die handel in en vervoer van dwelms, die aanranding van ’n polisiebeampte, ’n poging om van wettige bewaring te ontsnap, klagte ingevolge die narkotikawet en die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad, verskyn.

“Butkus het op dieselfde klagte in die Windhoek Sentrale hospitaal verskyn nadat hy vir onbekende mediese redes daar opgeneem is,” het Shikwambi gesê.

Volgens die polisie is daar in sy huis op verskeie dwelms beslag gelê. Dit sluit onder meer skunk (dagga), MDMA, LSD, Ecstacy, magic mushrooms, kokaïene, skedule 5-medisyne, steroïede en naalde in.

Die waarde van die dwelms beloop na raming N$200 000.

Daar is ook op ’n pistool en ammunisie beslag gelê.

Republikein het gister betroubaar verneem Jenkins en Welgemoed is na bewering deur Butkus gebruik om dwelms vanaf Suid-Afrika na Namibië te smokkel. Hy en Salzmann is glo in 'n verhouding.

Borgtog is nie toegestaan nie en die saak is tot 7 September vir verdere ondersoek uitgestel.

“Ons wil graag erkenning gee aan wetsgehoorsame inwoners wat inligting met die polisie deel, wat tot groot suksesse en inhegtenisnames soos dié lei.

“Ons moedig alle Namibiërs aan om met die polisie saam te werk deur alle verdagte en/of misdadige aktiwiteite aan te meld sodat ons misdadigers saam kan beveg, veral dié wat daarop uit is om die jeug te vernietig. Alle wenke sal anoniem hanteer word,” het sy gesê.

Lewende ietermagô

Tydens nog ’n suksesvolle operasie het lede van Khomas se beskermde hulpbronne-afdeling Saterdag om 14:00 twee Namibiese mans van 29 en 24 op Okahandja in hegtenis geneem.

Hulle was glo in die besit van ’n lewende ietermagô sonder ’n wettige permit. ’n Klagte van die besit en hantering van ’n beskermde wildsoort is teen hulle gelê.

Huisbraak

Vrydag om 20:30 het vier mans, gewapen met ’n pistool, mes en panga, by ’n huis in Ipumbu ya Shilongostraat in Academia ingebreek. Die verdagtes het glo ’n egpaar in die huis met hul wapens gedreig en vasgebind.

Elektroniese toerusting wat televisiestelle, skootrekenaars en selfone, ’n vrieskas en sy inhoud, asook droë kosse, is gesteel.

Die verdagtes het die gesteelde items glo in die egpaar se dubbelkajuitbakkie gelaai en daarmee op die vlug geslaan. Saterdag om 01:00 is die bakkie sonder sy battery in die Havana- informele nedersetting se stortingsterrein gevind.

Niemand is al in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die polisieondersoek duur voort.

In nog ’n voorval van huisbraak het vier verdagtes om 01:10 Sondag glo by ’n huis in Sean McBridestraat in Auasblick probeer inbreek.

Die verdagtes het glo klapmusse gedra en was met twee pistole gewapen. Hulle het die elektriese heining na bewering deurgesny en toegang tot die perseel verkry.

Volgens die polisie se misdaadverslag was sewe mense in die huis. Twee van die inwoners het die verdagtes glo gesien en die ander gewaarsku.

Die inwoners wou die verdagtes voorkeer, maar het daarteen besluit toe hulle die wapens sien. Een van die verdagtes het glo ’n skoot afgevuur wat ’n muur getref het. Die inwoners én verdagtes het weggehardloop. Niks is gesteel nie en die polisieondersoek duur voort.

’n Chinese burger (47) is Vrydag op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako in hegtenis geneem. Hy was glo in besit van US$215 900 en kontant in verskeie ander geldeenhede, wat saam na raming N$100 000 beloop.

Die verdagte was na wat verneem word op pad China toe en het nie die geld aan die lughawe-owerhede verklaar soos die wet vereis nie. Die polisie het op die geld beslag gelê.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer