Polisie rand glo mense op Rehoboth aan

Tanja Bause
Tanja Bause – Die Namibiese polisie op Rehoboth word daarvan beskuldig dat hulle die afgelope twee naweke verskeie mense aangerand het.

Tydens die jongste voorval is die Claasen-broers Saterdag omstreeks 02:00 ma bewering saam met vriende voor ’n kroeg aangerand.

“Ek en my broer het saam met twee vriende ná die sluiting van die kroeg op die sypaadjie gestaan en wag vir ons saamrygeleentheid toe die polisie opgedaag het,” het Mervin Claassen (25) gesê.

“Hulle het ons geklap terwyl hulle ons deursoek het. Hulle het my broer Michael (20) op die bakkie gelaai. Ons saamrygeleentheid het intussen opgedaag en ek en my vriend het in die kar geklim. Die polisiebakkie het ons agtervolg en toe ons stop, het hulle my uitgehaal en op die bakkie gelaai,” het Mervin gesê.

Volgens hom moes die twee broers plat op die bakkie lê, terwyl polisiebeamptes die bakkie volgesit het en hulle glo voortdurend geslaan het.

“Hulle het met ons op die pad uitgery wat na Bahnhof buite Rehoboth lei. Hulle het die bakkie gestop en ons beveel om af te klim.

“Hulle het ons aanhou slaan toe ons van die bakkie afgeklim het. Ek het vir hulle gesê ‘ouens, los ons’ en die polisie het gesê ons moet ‘asseblief’ sê. Hulle het ons uiteindelik net daar gelos en ons het na ’n familielid se huis toe gestap en gevra wat ons moet doen,” het hy gesê.

Die seuns is toe met hul ma na die polisiekantoor om ’n klag van aanranding teen die polisie te lê.

“Maar ons is gesê ons kan dit nie nou doen nie en moet Sondag terugkom,” het Mervin gesê.

Sondag omstreeks 11:00 is die broers weer met hul ma terug polisiekantoor toe.

“Die polisie het ons daar laat sit. Hulle het ons nie gehelp tot 16:00 toe nie, toe ons uiteindelik ’n saak teen die polisie kon open. Terwyl ons in die polisiekantoor gesit het, het een van die beamptes wat ons aangerand het daar opgedaag en gesê ‘onthou, ons kan ook ’n saak teen julle maak, ek sal julle dagvaar en dit is van str*nt praat dat julle oorgekom het wat julle oorgekom het’.”

Michael is glo met ’n knopkierie oor die boude geslaan, en toe hy met sy hande probeer keer het, is hy glo oor sy hande geslaan. Mervin is na wat verneem word in die kop geskop.

“Dit is twee baie rustige en nederige seuns. Toe hulle by my huis aankom, was hulle vol bloed, met kopwonde en opgeswelde hande. Hulle was nie in ’n goeie toestand nie.

“Wat vir my as ma baie hartseer is, is dat my kinders van ’n veilige plek verwyder is en na die veld geneem is. Hulle is daar geslaan en gelos en moes terugstap,” het die broers se ma gesê.

Weermag

Mnr. Rodney Skrywer (40) is glo só deur lede van die Namibiese weermag aangerand dat hy in die hospitaal wakker geword het.

Volgens hom was hy Vrydag om 00:00 by ’n kroeg toe ’n ander man met hom skoor gesoek het.

“Ek het hom gestamp en hy het geval. Die man het sy broer gaan haal, maar ek het huis toe gery. Ek het besluit om terug kroeg toe te gaan. Met my aankoms by die kroeg kom daar toe soldate aan. Hulle het gesê ek moet deursoek word. Toe ek my arms optel, het hulle my begin klap.”

Skrywer sê hy het toe weer huis toe gery.

“By die huis het ek besluit ek kan dit nie daar laat nie en het terug kroeg toe gery. Ek het toe die man wat ek gestamp het en sy broer gesien. Hulle was op pad polisiekantoor toe. Ek het gedink hulle wil ’n saak teen my open. Ek het hulle agtervolg en by die polisiekantoor het die polisie gesê ons kan eers die volgende dag ’n klag kom lê.”

Volgens Skrywer het hy buite die polisiekantoor gestaan toe soldate van die bakkie afgespring het en hom bestorm het.

“Ek het stewels op my rug en in my maag gevoel en die volgende oomblik het ek in die hospitaal wakker geword. Ek is Maandag om 14:00 ontslaan en het ’n saak van aanranding teen die soldate geopen.”

‘Voor kroeg geklap’

Op 17 Mei is mnr. Niklaas Jager (42) na bewering ook deur die polisie aangerand.

“Ek het klaar gewerk en het na ’n kroeg gestap om vir myself ’n bier te gaan koop. Voor die kroeg het ek ’n vriend raakgeloop en ons het op die sypaadjie gestaan en gesels. Dit was omstreeks 20:40,” het Jager gesê.

Volgens hom het polisiebeamptes en soldate toe by die kroeg stilgehou en mense begin deursoek.

“Nadat die derde groep polisiebeamptes my wou deursoek, het ek gesê ons is reeds twee keer in ’n kort tydjie deursoek en dit is nie nodig om ons weer te deursoek nie. Ek het ’n mussie op my kop gehad wat ek afgehaal het. Ek het die mussie van my regterhand na my linkerhand verplaas toe ek geklap is. Daar is gesê ek meng in en ek is in die polisiebussie gelaai,” het hy gesê.

Volgens Jager het die polisie ’n rukkie met hom rondgery voordat hy saam met ander mans op ’n bakkie gelaai is. Hy is later in die straat afgelaai en het huis toe geloop, sê hy.

“As ek dronk was of met ’n oop bier in my hand op straat gestaan het, sou ek die optrede verstaan het. Maar ek was nie en het nie. Ek het wel toe ons die derde keer deursoek moes word, astrant begin raak. Ek het na die bevelvoerder gegaan en wou met hom praat, maar hy wou glad nie luister nie en het net beveel dat ek in die bussie gelaai moet word.”

Adj.komm. Eric Clay, koördineerder van misdaadondersoeke in die Hardapstreek, het die sake teen die polisie bevestig en het gesê dit word ondersoek.

“Die dossiere is na die interne afdeling gestuur wat sulke gevalle ondersoek en ’n ondersoek is van stapel gestuur.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!