Polisie red ses mense uit Lu00f6wenrivier
Polisie red ses mense uit Lu00f6wenrivier

Polisie red ses mense uit Löwenrivier

Die spesiale reserwemag het tot die redding van vier Namibiërs en twee Duitse toeriste gekom.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



'n Span van die Namibiese polisie se spesiale reserwemag het Dinsdag ses mense gered wat in 'n voertuig in die kolkende Löwenrivier suid van Keetmanshoop vasgevang was.

Die Namibiese polisie se bevelvoerder van die ||Kharasstreek, komm. Rudolf Isaak, sê die bestuurder van die blou VW Kombi het waarskynlik nie rekening gehou met die krag van die rivier nie.

“Die voertuig se enjin het gevrek toe die bestuurder deur die rivier gery het. Die voertuig is toe deur die sterk stroom van die sementblad af gesleur,” het Isaak gister aan Republikein gesê.

Die voorval het Dinsdagoggend sowat 25 km suid van Keetmanshoop op die Klein Karas-pad plaas­gevind. Isaak sê goeie buie het sedert die naweek in die omgewing buite Keetmanshoop uitgesak wat die Löwenrivier laat afkom het.

“Ek het 'n span van die spesiale reserwe­mag met die spesiale noodreddingsbakkie uitgestuur om die vasgekeerdes te gaan help.

“Dit was baie moeilik vir die manne in die sterk stroom en hulle het regtig hul lewe in gevaar gestel om die mense uit die rivier te red,” het Isaak gesê.

“Die noodreddingsbakkie se katrol is ingespan en die manne het as 'n span al langs die katrolkabel in die rivier na die voertuig geloop. Intussen het die water het al hoe sterker gevloei.”

Hulle was dieper as kniediep in die water.

Volgens Isaak het die span van meer as tien polisielede die insittendes van die voertuig op hul rûe uit die rivier gedra.

Die noodreddingsdienste was ook op die toneel.

Isaak sê die insittendes was die bestuurder van die voertuig, mnr. Laribee Adams, sy vrou, me. Rene Adams, asook mnr. Hendrik en me. Susanne Peters en twee Duitse toeriste, mee. Rebekka Nordell en Deborah Rhode.

“Almal is veilig aan wal gebring, niemand is beseer nie en die voertuig is ook met die katroltou uitgesleep. Die mense het net met lof van die polisie gepraat wat hulle betyds gered het,” sê Isaak.



WEERWAAK

Die Nambiese weerkantoor het 'n weerwaak uitgereik en mense gewaarsku om die nodige voorsorgmaatreëls te tref met hewige reënval wat oor die Noordweste, sentrale hoogland en suidoostelike streke kan voorkom.

In die binneland sal dit vandag mooi weer en baie warm wees in die westelike deel van die ||Kharas- en Hardap­streek.

Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie warm wees met geïsoleerde tot verspreide donderbuie. Wydverspreide donderbuie sal oor die Noordweste, sentrale hoogland en suidoostelike dele voorkom.

Dinsdagaand het 'n wolkbreuk gepaardgaande met swaar donderweer op die Elisenheim-landgoed net noord van die hoofstad uitgesak en 28 mm is gisteroggend uit die reën­meters gegooi. Ander reënvalsyfers wat op die Facebook-blad “Reën in Namibia” gerapporteer is, is Olympia 40 mm, Brakwater 22 mm, Ruacana 22 mm, Opetjie 20 km voor Klein Aub 8 mm, Otjiwarongo-suid 3 mm, asook buie op Tsumeb, Rehoboth en Uhlenhorst.

Wat die riviervlakke betref, styg die Zambezirivier steeds en dit is 6,48 meter diep by Katima Mulilo teenoor verlede jaar die ooreenstemmende tyd toe dit 6,3 meter gemeet het. Volgens die Namibiese hidrologiese dienste styg die Kavangorivier ook steeds en meet tans 3,98 meter diep by Nkurenkuru en 6,22 meter diep by Rundu. Die watervlakke in sommige dele van die Cuvelai-opvangsgebied styg ook nog.

Die damvlakke soos op 9 April gemeet in vergelyking met verlede jaar se vlakke in dieselfde tydperk staan op: Von Bach 52,8% (58,6%), Swakoppoort 36,5% (38,6%), Omatako 9,4% (53,7%), Hardap 47,1% (69,9%), Naute 71,7%, (97,7%) en Oanob 66,5% (91,2%).

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer