Polisie sing Kalahariwoestyn-lofliedere
Sedert geïntegreerde teenmisdaadoperasies in werking gestel is, daal misdaad in die land, sê die polisie.
Denver Kisting
Sedert die polisie verlede jaar met ander owerhede begin kragte saamsnoer het om misdaad te bestry, het misdaadbedrywighede met nagenoeg 9% afgeneem.
So sê adj.komm. Edwin Kanguatjivi, die nasionale polisiewoordvoerder.
Ten tyde van die inwerkingstelling van Operasie Hornkranz tydens die derde kwartaal van verlede jaar was die aantal misdaadvoorvalle wat landswyd in daardie drie maande aangemeld is 25 942.
In die tweede kalenderkwartaal van 2019, dus van April tot Junie, is 23 693 misdade aangemeld – 'n afname van 9% vergeleke met die laaste kwartaal van die 2018-kalenderjaar toe Hornkranz afgeskop het.
Kanguatjivi sê dit bewys die operasies werp vrugte af.
Hy het dié opmerkings die afgelope week in die hoofstad gemaak tydens die aankondiging dat Hornkranz se opvolger, Kalahariwoestyn, se tweede fase Maandag hervat.
Albei operasies was in omstredenheid gehul – veral toe mnr. Charlie Black (22) by 'n Kalahariwoestyn-padblokkade doodgeskiet is – na bewering deur kpl. Gerson Nakale (38), 'n lid van die weermag.
Ofskoon die polisiewoordvoerder die afname in misdaad toeskryf aan die operasies, kon hy nie sê hoe die owerhede 'n onderskeid tref tussen die welslae van gewone misdaadbestrydingsoperasies en dié veldtogte nie.
Eweneens kon hy nie syfers verskaf om aan te dui of daar 'n toename in misdaadbedrywighede was sedert die eerste fase van Kalahariwoestyn op 30 Junie ten einde geloop het nie.
Hy sê vir die duur van die eerste fase van Operasie Kalahariwoestyn is 762 mense in verband met ernstige oortredings aangekeer.
Dié oortredings sluit moord, poging tot moord, verkragting, aanranding met die doel om ernstig te beseer, die onwettige besit van wild, huisbraak met die doel om te steel en diefstal in.
'n Totaal van 1 234 mense is in dieselfde tydperk vir minder ernstige oortredings in hegtenis geneem, het Kanguatjivi gesê.
Die totale aantal inhegtenisnemings tydens die eerste fase is dus 1 996.
Kalahariwoestyn het op 11 Mei 2019 afgeskop.
Die operasies bestaan uit samewerking tussen die Namibiese polisie, Windhoek se stadspolisie, korrektiewe dienste en ander rolspelers, soos immigrasie- en doeanebeamptes.
Kanguatjivi het die afgelope week bewerings oor gewelddadigheid aan die hand van dié magte as meestal versinsels afgemaak.
Maar, het hy gesê, alle beamptes word tans vir drie dae opgelei om tragedies soos Black se skietdood te probeer verhoed.
Rooftogte, veral gewapende rooftogte, het in die afgelope ses jaar met 44% die hoogte ingeskiet.
Dié syfer is vervat in misdaadstatistiek van die afgelope agt jaar.
Dr. Johan Burger, navorsingskonsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) in Suid-Afrika, het vroeër gesê dit dui op “toenemende betrokkenheid van georganiseerde misdaad”.
Dié tipe misdaad noodsaak “'n totaal ander benadering” om dit doeltreffend hok te slaan, het die kenner in 'n onderhoud met Republikein gesê.
Georganiseerde misdaad word gepleeg wanneer “mense (die) geleentheid sien om ryk te word uit misdaad”.
Burger werk sedert Januarie verlede jaar nou saam met die Namibiese polisie aan 'n misdaadbestrydingstrategie in die land.
Samesprekings hiervoor het reeds in 2010 afgeskop en is in 2017 goedgekeur.
Om agter die kap van die byl van plaaslike misdaad te kom, het Burger en sy span vergaderings in al 14 streke belê.
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie