Polisie soek geld vir oorskot
Polisie soek geld vir oorskot

Polisie soek geld vir oorskot

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Die Namibiese polisie soek dringend N$5 miljoen om so gou as moontlik die oorskot onopgeëiste liggame te veras wat tans in die polisie se lykhuis in Windhoek gestoor word.
Vrydag het die getal liggame, wat “onbekende geraamtes en beendere” insluit, op 184 gestaan, teenoor die 24 waarvoor daar eintlik voorsiening gemaak word. Van die liggame was reeds in ’n ontbinde staat, met sommige wat reeds vanaf 2012 hier wag om deur familie opgeëis te word.
Die hoof van die Namibiese polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, het Vrydag gesê geld word dringend benodig om die lyke te veras.
“Ons soek dringend N$5 miljoen om van die oorskot ontslae te raak.”
Volgens Ndeitunga is die polisie besig om ’n skrywe op te stel wat aan die prokureur-generaal gerig sal word om op sy beurt ’n versoek aan die ministerie van finansies te rig om die geld vir dié doel aan die polisie toe te ken.
Op ’n vraag of hy die lykhuis besoek het, het Ndeitunga gesê hy is deur dr. Paul Ludik, direkteur by die Instituut vir Nasionale Forensiese Wetenskap,­ oor die situasie ingelig. Ludik is volgens hom vir die oorhoofse bestuur van die lykhuise en outopsies verantwoordelik.
Ao. Oscar Shatipamba, hoof van forensiese patologie vir die Khomasstreek, het vroeër in ’n onderhoud gesê die polisie maak nie in sy be­groting vir die verassing van onopgeëisde liggame voorsiening nie.
Die laaste verassing van ­armlastiges was in 2012, toe die ­ministerie van ­gesondheid en maatskaplike dienste liggame in die staat se lykhuis en terselftertyd dié in die polisie se lykhuis veras het. Volgens ingeligte bronne gaan die staat se lykhuis in Windhoek wat teenaan dié van die polisie geleë is, ook onder dieselfde probleme gebuk.
Intussen het ’n begrafnisondernemer in Windhoek gesê ’n verassing beloop tussen N$7 000 tot N$10 000. Dié prys kan egter aansienlik verlaag word, sou onder meer ’n goedkoop kis gebruik word. Van die vaste fooie vir ’n verassing sluit ’n N$1 000 in vir drie dokters wat die liggaam moet afteken. Die Windhoekse ­munisipaliteit se verassingsfooi is N$685.30.
Die ondernemer het egter ­beklemtoon ’n verassing kan vir so min as N$3 200 gedoen word wat die begrafnisvoordeel is wat aan ­pensioenarisse met hul dood uit­betaal word. Dit sluit die askissie in.
Volgens die ondernemer kos ’n gewone begrafnis tussen N$5 000 en N$10 000, wat die kis en graf insluit. Sou ’n begrafnis oor ’n naweek in die Gammams-begraafplaas in Windhoek plaasvind, kos ’n graf N$2 100, terwyl ’n teraardebestelling in die week die graf se prys tot N$1 400 verlaag. By die Opanganda-begraafplaas tussen Khomasdal en Katutura kos ’n graf gemiddeld N$300 en N$400.
Op die lys van onopgeëisde liggame wat huidig by die polisie se lykhuis gestoor word, was daar Donderdag dié van 12 babas.
Van die oorsake van dood sluit ’n stilgeboorte en verskeie vrugafdrywings in. Van die ontbinde lykies is reeds in 2012 uit Noordoewer na die lykhuis gebring, terwyl ander in ­rivierbeddings, die Kupferberg-stortings­terrein, die Gammams-suiwerings­werke en by die Goreangabdam in die hoofstad gevind is.
Verskeie van die lys van 76 onopgeëste liggame waarvan die sterfdatum sover as 20 Februarie 2012 dateer, word die naam van die oorledene slegs as “onbekende geraamtes of gebeendere” aangedui met die oorsaak van dood wat “onbekend” is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!