Polisie steel glo duisende
Polisie steel glo duisende

Polisie steel glo duisende

Twee geregsdienaars van die tuindorp is self agter tralies weens beweerde diefstal.
Denver Kisting
Denver Kisting



Twee polisiebeamptes wat hulleself glo gehelp het aan gesteelde geld, is onlangs borgtog geweier.

Konstabels Johnson Tjenda en Shaleene van Wyk het Vrydag in die landdroshof op Okahandja hul eerste verskyning gemaak.

Dít kom nadat hulle onderskeidelik Donderdag en Vrydag in hegtenis geneem is.

Die twee junior beamptes het glo munt geslaan toe hulle betrokke was by die inhegtenisneming van 'n veiligheidswag wat luidens 'n Nampa-berig met nagenoeg N$310 000 die hasepad gekies het.

Die man moes glo die geld, wat aan 'n vul­stasie op die tuindorp behoort, by 'n plaaslike handelsbank gaan deponeer het.

In plaas daarvan het hy toe na bewering verlede Maandag met die kontant in 'n taxi op die vlug geslaan.

Hy het na verneem word by 'n padblokkade tussen Okahandja en Karibib sy rieme styfgeloop.

Voor die twee polisiebeamptes self einde verlede week in aanhouding beland het, is geglo slegs N$147 000 van die aanvanklik verdwene geld is teruggevind.

Dit het sedertdien op die lappe gekom dat hulle na bewering die verskil in hul eie sakke gesteek het.

'n Polisiebron op Okahandja het oor die naweek Republikein se aandag op die jongste kinkel in die kabel ­gevestig.

Adj.komm. Edwin Kanguatjivi, die nasionale polisiewoordvoerder, het Maandag by navraag die voorval ­bevestig.

Tjenda het Vrydag aangedui hy wil sy eie verdediging behartig terwyl Van Wyk gesê het sy sal om regshulp aansoek doen.

Me. Veruka Ngembo het namens die staat suksesvol borgtog teengestaan.

Die twee polisiebeamptes moet weer op 14 Mei vanjaar in die landdroshof verskyn.

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer