Polisie warm op voortvlugtige se spoor
Polisie warm op voortvlugtige se spoor

Polisie warm op voortvlugtige se spoor

Die Duitse toeris het Afrika van Egipte af vroualleen veilig op haar fiets deurkruis - tot sy in Bethanie aangekom het en 'n verkragtingslagoffer geword het.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die Namibiese polisie (Nampol) sê hulle is warm op die spoor van 'n voortvlugtende verdagte wat Maandag 'n Duitse vrou glo op 'n plaas in die Bethanie-distrik verkrag het.

"Ons gaan hom enige tyd optel en ons het ook alle boere in die omgewing gewaarsku om op die uitkyk vir hom te wees," het komm. Rudolf Isaak, die //Kharasstreek se streekskommissaris, gistermiddag gesê nadat hy aan ’n helikoptersoektog na die verdagte deelgeneem het.

Volgens die kommissaris sal die helikoptersoektog vandag moontlik voortgesit word, "afhangende van die inligting wat die polisie nog ontvang, maar ons is baie warm op sy spoor".

Die 32-jarige toeris en avonturier het Afrika van Egipte af vroualleen veilig op haar fiets deurkruis - tot sy in Bethanie in die //Kharasstreek aangekom het en verkrag is.

Daar is sy Maandag omstreeks 21:00 op die plaas Barbie glo deur 'n man verkrag wat teregstaan op twee aanklagte van misdade wat hy glo in die Aus-omgewing gepleeg het. Volgens Isaak is die verdagte op borgtog vrygelaat nadat hy aangekla is van roof en aanranding met die opset om ernstig te beseer.

"Die man het die kamerdeur na bewering met 'n onbekende voorwerp oopgebreek terwyl die vrou geslaap het. Hy het glo geld en waardevolle items van haar geëis, waarna hy haar verkrag het," lui Nampol se misdaadverslag.

Isaak het gesê die vrou se kamer is sowat 500 m van die hoofhuis op die plaas af. Hy het ook bevestig die verdagte staan nie op enige moord- en dwelmklagte tereg nie.

'n Polisiehelikopter en spoorsnyers is sedertdien ingespan in 'n uitgebreide soektog na die verdagte, wat bekend is aan die polisie in die Aus- en Bethanie-omgewing.

Volgens Isaak bly die verdagte se familie ook in dié omgewing.

"Hy kruip in die berge in die omgewing van Helmeringhausen weg. Hy het op die plaas Tiros in die Helmeringhausen-distrik ook ingebreek en goedere gesteel," het Isaak gesê.

"Ons het sy spore gevolg en op sy slaapplek in die berge afgekom met Tiros se gesteelde goedere, onder meer 'n duvet. Ons het ook die Duitse toeris se gesteelde selfoon en N$500 by die slaapplek gevind," het Isaak gesê.

Isaak sê die slagoffer het mediese behandeling op Keetmanshoop ontvang: "Sy was in die hospitaal op die dorp en sy is deur maatskaplike werkers gesien."

Barmhartige samaritane op die dorp het ook na die vrou omgesien.

Isaak het gesê die slagoffer is “nog baie emosioneel en getraumatiseer”.

Hy het gesê sy is Windhoek toe gestuur waar sy goed versorg word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!