Polisiebeampte getuig in kindermoordsaak
Polisiebeampte getuig in kindermoordsaak

Polisiebeampte getuig in kindermoordsaak

In ''n moordsaak op Keetmanshoop het ''n polisiebeampte gister erken die beskuldigde is in hegtenis geneem voordat ''n dossier aangelê is.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw



Die saak van die 32-jarige Desmond Cornelius Vries, wat op ''n klag van moord op Curtus Shille van der Westhuizen (6) en twee klagte van aanranding tereg staan, is vandeesweek weer in die Windhoek-hoërhof deur waarnemende regter Boas Usiku aangehoor.

Getuienis deur twee minderjarige kinders wat na bewering ooggetuies van die moord was, is Woensdag agter geslote deure aangehoor.

Sersant Philip Timo was gister in die getuiebank om te getuig oor die gebeure van die oggend van 1 November 2013 toe die ondersoekafdeling van die Namibiese polisie op Keetmanshoop na die moordtoneel ontbied is. Volgens Timo het dit gelyk asof die hele straat se inwoners buite huis nr. 235, Tseiblaagte, waar die slagoffer gevind is, bymekaargekom het.

Omstanders het Timo en sy kollegas na die huis van die beskuldigde gelei. Vries het geslaap en toe die polisiebeamptes hom wakker gemaak het, het hy erken dat hy die kind geslaan het, maar ontken dat hy geweet het hy is dood.



Polisiegetuienis

Onder kruisverhoor deur mnr. Milton Engelbrecht namens die beskuldigde het Timo erken dat hy nagelaat het om volgens korrekte polisieprosedure verklarings af te neem van volwassenes wat teenwoordig was toe twee kinders van sewe en agt jaar oud deur die polisie ondervra is. Timo het ook sy polisieverslag oor die gebeure om ongeveer 10:00 op 1 November 2013 geskryf, nadat die ­beskuldigde tussen 01:00 en 02:00 daardie oggend in hegtenis geneem is. Engelbrecht het dit aan die hof gestel dat die inhegtenisneming onwettig was.

Engelbrecht het verder gesê daar is geen getuienis dat die beskuldigde Van der Westhuizen vermoor het nie. Volgens hom was die getuienis van die twee minderjarige kinders dat Vries hulle en die oorledene met ''n plakkie geslaan het omdat hulle ''n ou man wat vir water gevra het, met sand gegooi het. Vries het daarna na sy eie huis gegaan.

Die staat se saak is dat Vries na bewering Curtus in die nag van 31 Oktober 2013 vermoor het deur hom te slaan, te skop en te wurg. Hy het glo die lykie in ''n bed saam met ''n ander kind geplaas waar hy later dood aangetref is. Die staat beweer verder Vries het gedurende Oktober 2013 gedreig om sy meisie, Florencia Florida Piete, te vermoor.

Curtus was die seun van me. Clemencia van der Westhuizen, ''n niggie van Piete wat in ''n romantiese verhouding met die beskuldigde was.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!