'Polisiebeampte' pers dokter glo af
’n Mediese dokter is glo afgepers met ’n storie dat ’n pasiënt aan wie hy glo ivermektien voorgeskryf het met nierskade in die hospitaal opgeneem is.
Henriette Lamprecht – ’n Windhoekse dokter is glo afgedreig totdat hy N$30 000 opgedok het nadat hy na bewering deur ’n klaarblyklike polisiebeampte van die pad gedwing is. Nog drie mans wat reeds in die hof verskyn het, was by die voorval betrokke.
Volgens dr. Winnie Weder, wat reeds vir meer as twee dekades ’n spreekkamer in Katutura het, het die voorval op 19 Julie oor die etensuur plaasgevind. In sy verklaring aan die polisie sê hy nadat die beampte in ’n polisievoertuig sonder polisieligte op die dak hom afgetrek het, het dié hom eers daarvan beskuldig dat hy te vinnig gery het.
Nog drie mans wat nie polisie-uniforms aangehad het nie, het te voorskyn gekom en glo hul “polisiekaarte” gewys en by Weder in die motor geklim. Volgens een van die mans was hulle besig met ’n ondersoek na ’n geval waarin hy ivermektien voorgeskryf het aan ’n pasiënt wat glo in die hospitaal met nierversaking opgeneem is.
Weder is aangesê om na die polisiekantoor te ry. Een van die mans het volgens hom “baie aggressief” opgetree en hom met arrestasie sonder enige borgtog gedreig. Weder is glo aangesê om na die Sentrale Hospitaal te ry waar hy langs ’n dubbelkajuitbakkie moes parkeer. In gesprekke hier onder die mans is daarop aangedring dat hulle N$130 000 moet betaal voordat hulle hom sal laat gaan.
Ná vele dreigemente het die mans glo ingestem tot die N$30 000 wat Weder gesê het hy kan betaal. Hy is na die bank geneem om die kontant te onttrek terwyl een van die mans ook binne die bankgebou gesit en wag het. Weder het die geld aan hom oorhandig waarna hy dit aan die man in die bakkie oorhandig en weggestap het.
Volgens Weder kon hy een van die mans tydens ’n uitkenningsparade identifiseer. Die voertuig en die persoon wat hom afgetrek het, is ook op straatkameras geïdentifiseer. Weder sê een van die afpersers was na bewering ook betrokke by ’n voorval in Mariental waar hy mense met vervalste NaTIS-papiere afgepers het.
Die woordvoerder van die Namibiese polisie, adj.komm. Kauna Shikwambi, sê die saak (saaknommer CR347072021) word nog ondersoek. Shikwambi sê die dossier was teen verlede week by die kantoor van die aanklaer-generaal vir ’n besluit oor vervolging.
“Tot op hede weet ek drie mense wat nie polisiebeamptes is nie, is in verband met die voorval in hegtenis geneem,” het sy by navraag gesê. Volgens haar het hulle reeds in die hof verskyn en is op borgtog vrygelaat.
“Of daar polisiebeamptes by die saak betrokke was, moet nog deur die voortgesette ondersoek bepaal word.”
Die mans verskyn weer op 1 November in die hof.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie