Polisiekonstabel wag op vonnis
Polisiekonstabel wag op vonnis

Polisiekonstabel wag op vonnis

Die stiefma van die jeugdige wat deur ’n polisiekonstabel buite ’n kroeg in Khomasdal doodgeskiet is, het gister tydens betoë vir vonnisoplegging getuig.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw – Me. Norah Bennett (68), stiefmoeder van die 25-jarige Fabrice Mael wat in Oktober 2012 deur polisiebeampte Justin Simataa buite Club Image in Windhoek doodgeskiet is, het gister tydens submissies vir Simataa se vonnisoplegging oor die onbeskryflike hartseer van haar kind se dood getuig.

Bennett, ’n voormalige Untag-werknemer, het Mael se vader tydens haar diens in Namibië ontmoet. Sy het getuig dat sy Mael sedert die ouderdom van vyf jaar as haar eie aangeneem het en het die hof vertel van die hegte verhouding wat sy met haar stiefkind gehad het. Ná haar egskeiding het die jong Mael by haar gebly tot sy dood. “Ek het die enigste kind verloor wat ek gehad het – wat ’n verskriklike ding is. Daar is geen hartseer erger as die moord op ’n kind nie. Ek het deur ’n lewende hel gegaan,” het sy aan die hof vertel.

Bennett, wat ná die dood van haar seun uitgevind het sy meisie was swanger, is nou die ouma van ’n driejarige dogtertjie na wie sy omsien. Op regsverteenwoordiger Constance Moyo se vraag of Mael geweet het van sy meisie se swangerskap het Bennett verduidelik dat sy aanvanklik nie geweet het of hy daarvan bewus was nie. ’n Jaar ná sy dood het sy egter ’n kalenderinskrywing in sy kamer ontdek wat sê “Ek is ’n pa. Ek is so gelukkig”.

Bennett het verder aan die hof gesê dat sy uiters besorg is oor die tipe vuurwapens wat in Namibië verkoop word. Die semi-outomatiese pistool waarmee haar seun geskiet is, sal volgens haar nie in die VSA aan die publiek verkoop word nie omdat dit ’n militêrgegradeerde wapen is.

Simataa, wat op 30 Maart skuldig bevind is op klagte van moord, poging tot moord, kwaadwillige beskadiging van eiendom en die afvuur van ’n vuurwapen in ’n openbare plek, het op die aand van die moord ’n reeks koeëls op ’n Volkswagen Golf voertuig afgevuur waarin Mael en sy vriende was. Mael is op die toneel dood en nog ’n jong man, Millikan Likando, is ernstig beseer.

Die skietvoorval het ná ’n onderonsie tussen Simataa, Likando en Mael plaasgevind. Volgens getuienis voor die hof is die partye ná die bakleiery uitmekaar en Likando en Mael het in ’n Volkswagen Golf geklim toe die beskuldigde op hul lostrek met sy CZ-kaliber-pistool. Simataa, wat nie ten tyde van die voorval aan diens was nie, het van die toneel gevlug, maar het later teruggekeer.

In sy sluitingsrede aan die regter het mnr. Mbanga Siyomunji, wat Simataa verteenwoordig, voorgestel dat Simataa tot 25 jaar gevangenisstraf waarvan 5 jaar vir ’n tydperk van 5 jaar opgeskort is, vir die moordklag gevonnis word. Verder vra hy vir ’n vonnis van 8 jaar vir die poging tot moord-klag en dat dié vonnis saam met die 25 jaar gevangenisstraf uitgedien behoort te word, 3 jaar vir saakbeskadiging wat in sy geheel opgeskort behoort te word en ’n verdere 18 maande gevangenisstraf of ’n boete van N$3 000 vir die afvuur van ’n vuurwapen in ’n openbare plek.

Die staat is egter van mening dat ’n vonnis van 35 jaar gevangenisstraf vir die moordklag, 15 jaar vir poging tot moord waarvan 5 jaar vir ’n tydperk van 5 jaar opgeskort is, 3 jaar vir die kwaadwillige beskadiging van eiendom en 2 jaar vir die afvuur van ’n wapen in ’n openbare plek ’n toepaslike vonnis sal wees. Die laasgenoemde 2 jaar mag saam met die vonnis van 35 jaar uitgedien word, wat op ’n vonnis van effektiewelik 48 jaar gevangenisstraf neerkom.

Regter Nate Ndauendapo sal op 20 April uitspraak lewer.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!