Polisieman getuig oor tiener se inhegtenisneming
Een van die konstabels van die Windhoekse stadspolisie wat van moord beskuldig is nadat hulle glo ’n 17-jarige ná sy inhegtenisneming aangerand het, was gister in die getuiebank.
Jacqueline Louw – Die Windhoekse stadspolisiekonstabel Werner Johannes Shetekela (33) het gister in die Windhoek-hoërhof getuig hy en sy kollegas het nie die tiener aangerand wat hulle op 16 April 2013 in hegtenis geneem het nie.
Shetekela en sy medebeskuldigdes, konstabels Kleopas Shiikalepo Kapalanga (30) en Elia Nakale (36), staan tereg op die moord op die jong Mandela Ramakhutla, wat ’n week na sy inhegtenisneming gesterf het.
Dié drie het aan die begin van hul verhoor voor regter Dinnah Usiku skuld ontken op die klagte van moord, ontvoering en dwarsboming van die gereg waarop hulle tereg staan.
Hulle het aangevoer dat hulle Ramakhutla op die aand van 16 April in verband met ’n diefstal by die Windhoek-munisipaliteit se hoofkantoor in hegtenis geneem het. Hulle het glo met hom na gebiede in Katutura en Wanaheda gery om die huis waar hy gewoon het, te vind. Ramakhutla het erken hy was een van die mense op ’n kringtelevisie-opname wat die diefstal vasgelê het.
Shetekela het getuig dat hy en sy kollegas opgedaag het by ’n huis wat Ramakhutla aan hulle uitgewys het. Volgens Shetekela het Ramakhutla se niggie, me. Paulette Nashilundo, die deur oopgemaak. Ramakhutla se ouma, me. Alina Shetekela, het die konstabels meegedeel dat Ramakhutla by sy pa woon.
Me. Alina Shetekela het tydens die aanhoor van die staat se getuienis getuig dat konstabel Shetekela tydens daardie voorval vir haar gesê het dat Ramakhutla gelukkig is dat hy nie geskiet is nie, omdat hy nie wil sê wie tydens die diefstal by die munisipale kantore by hom was nie.
Shetekela het egter gister getuig dat hy met niemand daardie aand gepraat het nie.
Na ’n vrugtelose rit na Ramakhutla se vader se huis, is hulle deur ’n huurder meegedeel dat Ramakhutla in Wanaheda woon.
Shetekela het verder getuig dat hy en sy kollegas tou opgegooi het ná ’n besoek aan Mercystraat in Wanaheda en besluit het om Ramakhutla na die Windhoek-polisiekantoor te neem.
Shetekela het getuienis ontken wat vroeër in die verhoor gelewer is dat Ramakhutla by die polisiekantoor ingedra is en nie self kon loop nie. Volgens hom het Ramakhutla self by die polisiekantoor ingestap en het geweier om sy van aan die ondersoekbeampte te verskaf, waarop die beampte glo aan hom gesê het: “As jy nie vir ons jou van sê nie, sal ons warm water op jou gooi.”
Shetekela het getuig dat hy en sy kollegas huis toe is nadat hulle Ramakhutla in die hande van offisiere by die Windhoek-polisiekantoor gelaat het. Hulle is die volgende dag terug na dié kantoor waar hulle meegedeel is dat Ramakhutla in die Katutura-staatshospitaal opgeneem is.
Shetekela het verder ontken dat hy en sy kollegas aan polisieoffisiere gesê het Ramakhutla was dronk en het weer bevestig dat hy nie daardie aand met enigiemand by die polisiestasie gepraat het nie.
Die saak duur vandag voort.
Die drie beskuldigdes is vry op borgtog.
Mnr. Cliff Lutibezi tree namens die staat op. Mnre. Boris Isaacks, Willem Visser en Kadhila Amoomo verteenwoordig Shetekela, Kapalanga en Nakale onderskeidelik.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie