Polisieman skiet glo man in albei bene

’n Interne ondersoekspan van Nampol ondersoek beweringe dat ’n polisiebeampte ’n man twee keer geskiet het sonder geldige rede.
Augetto Graig
Augetto Graig – ’n Saak is dié week by die interne ondersoekafdeling van die Namibiese polisie aanhangig gemaak ná ’n skietvoorval wat ’n 25-jarige sokkerspeler met ’n wond in een been en ’n koeël in die ander gelaat is.
Volgens sy dokters sal hy nie weer sokker kan speel nie en sy belowende toetsperiode by ’n plaaslike sokkerklub is gevolglik ook kortgeknip.
Gister se operasie het hom in pyn gelaat.
Hy vertel dit was op 26 April toe hy ná 22:00 op pad huis toe was ná sokkeroefening, toe hy ’n dronk man se verlore foon in die straat opgetel het.
“Ek het omgedraai en teruggegaan om die foon op te tel. Soos ek die telefoon wou optel, het ek omgedraai en ’n polisievoertuig gesien,” lees sy verklaring.
“Ek het oor die straat gedraf en in die bosse langs Unam se Khomasdal- kampus ingegaan. Polisiebeamptes het my agtervolg en ’n waarskuwingskoot afgevuur.
“’n Polisiebeampte het gesê ek moet nader kom. Ek was reeds in sy bewaring toe hy my met sy vuurwapen agter die linkeroor geslaan het. Soos ek grond toe geval het, het hy my twee keer geskiet. Die eerste skoot was deur my regterbeen en met die tweede skoot het die koeël bo my linkerknie gestop.
“Ná die tweede skoot het hy my geboei en sy stewel op my nek geplaas. Terwyl ek gelê en bloei het, het hulle my mediese behandeling geweier,” volgens die verklaring.
“Ek was op die grond. Hy het bo-oor my gestaan. Ek het flou geword en skielik hoor ek doefdoef,” het hy aan Republikein vertel.
Die betrokke polisiebeampte was in die blou uniform van die Windhoekse stadspolisie geklee, onthou hy.
Die stadspolisiehoof, mnr. Abraham Kanime, het by navraag gesê hy is bewus van die skietvoorval. “Dit was ná ’n rooftog. Hy het ’n man beroof en weggehardloop. Hy is gejaag en dit is hoe hy in hegtenis geneem is. Ons het reeds ’n saak geopen,” sê hy.
Kanime sê die jong man se weergawe van gebeure is onoortuigend.
“Hy kan sê wat hy wil. Die polisie is opgelei in die gebruik van vuurwapens. Almal kan ’n storie vertel om homself te bevoordeel. Hoekom het hy nie ’n klag kom indien nie? As hy dink hy is willekeurig of onwettig geskiet, kan hy ’n saak open, of na my toe kom. Ek sal help met die ondersoek,” het Kanime vroeër gesê.
Die jong man wat weens vrees van polisie-intimidasie anoniem wil bly, sê: “Hy (Kanime) moet ondersoek instel. Dit maak nie sin nie. Hulle het niks by my gekry nie; daar was geen roof nie,” dring hy aan.
[email protected]


FOTO’s
Die koeël het nog in die been vasgesit. Foto verskaf
Die man is na bewering met 'n vuurwapen agter die oor geslaan. Foto verskaf
Die skietwond op die sokkerspeler se regterbeen. Foto verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!