Polisieman verskyn vir moord
Polisieman verskyn vir moord

Polisieman verskyn vir moord

Hofverrigtinge in die verhoor van die man wat glo ''n jong man buite ''n kroeg in Khomasdal doodgeskiet het, moes gisteroggend vir twee ure uitgestel word sodat misverstande tussen die beskuldigde en sy regsverteenwoordiger uitgestryk kon word.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw – Die moordverhoor van ’n polisieman wat na bewering ’n jong man in ’n motor buite ’n kroeg in Windhoek in Oktober 2012 geskiet het, het Maandag weer ’n aanvang in die hoërhof voor regter Nate Ndauendapo geneem.

Polisiebeampte Justin Munsu Simataa was gister in die beskuldigdebank om in sy eie verdediging te getuig.

Die 31-jarige Simataa staan tereg op klagte van moord, poging tot moord, alternatiewelik die nalatige afvuur of hantering van ’n vuurwapen, kwaadwillige saakbeskadiging en die afvuur van ’n vuurwapen in ’n openbare gebied of openbare pad. Dit is in verband met die voorval waarin die 25-jarige Firmino Fabrice Mael op 26 Oktober 2012 doodgeskiet is. Nog ’n jong man, Millikan Likando, is ook in dieselfde voorval ernstig beseer. Simataa ontken skuld op al die klagte teen hom.

Simataa het glo die weg versper van klante wat bier wou koop in ’n kroeg in die omgewing van Richardine Klopperstraat in Khomasdal. Mael het na bewering vir hom geld aangebied wat hy geweier het. Volgens getuienis het ’n onderonsie tussen die beskuldigde en twee jeugdiges, Millikan Likando en die oorledene, Fabrice Mael, ontstaan.

Die beskuldige het gister getuig dat hy in die rigting van die oorledene se motor geskiet het omdat sy lewe in gevaar was.

In getuienis wat in Julie vanjaar gelewer is, is die partye na bewering ná die bakleiery uitmekaar en Likando en Mael het in ’n Volkswagen Golf geklim toe die beskuldigde op hul lostrek met sy CZ kaliber-dienspistool. Die regsverteenwoordiger vir die staat het die beskuldigde ondervra in verband met sy getuienis dat hy sewe tot agt meter weg van die motor was toe hy gevuur het en in teenstelling met ander getuies wat die afstand as slegs een meter beskryf het. Simataa het ontken dat hy ooit teen die bestuurder se venster geskiet het.

Mael het ná die skietvoorval op die toneel aan sy beserings beswyk en die gewonde Likando is in die Katutura-staatshospitaal opgeneem. Simataa, wat nie ten tyde van die voorval aan diens was nie, het van die toneel gevlug en is later in hegtenis geneem.

Die saak is tot op 9 Desember uitgestel vir die aanhoor van vertoë deur die partye se regsverteenwoordigers.

Me. Constance Moyo tree namens die staat op en mnr. Mbanga Siyomunji verteenwoordig die beskuldigde.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer