Polisieskuiwe op Rundu nie oor massamoord
Polisieskuiwe op Rundu nie oor massamoord

Polisieskuiwe op Rundu nie oor massamoord

Die polisiehoof se adjunk en sy stafoffisier het hul ondersoek na vermeende polisielaksheid op Rundu voltooi.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die inspekteur-generaal van die polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, sê die herontplooiing van die stasiebevelvoerder op Rundu volg nie op ondersoeke na beweerde polisienalatigheid ná die familiemoord wat dié dorp verlede naweek geruk het nie.

Ndeitunga het gister by navraag gesê hoofinsp. Andreas Haingura se oorplasing na die logistieke afdeling as hoof van die voorradestoor, was lankal beplan.

Sy pos as stasiebevelvoerder sal deur hoofinsp. Paulus Hauwanga gevul word.

Honderde inwoners van Rundu het Saterdag by die Sauyemwa-begraafplaas bymekaargekom om die vyf mense te begrawe wat na bewering deur 'n familielid vermoor is.

Mee. Ndongo Ntumba (77), Ndara Elizabeth Mpane (46) en laasgenoemde se kleinkinders, Musenge Muruti (6), Hausiku Kampumburu (4) en Musenge Tjingelesu (3), is na bewering verlede Saterdagnag deur mnr. Jesaya Gabriel Chuhunda (20) tydens 'n woedebui met 'n stok aangerand en doodgeslaan.

Hy is Mpane se seun en Ntumba se kleinseun. Die kinders was sy suster se kleuters, wat die moordnag by hul ouma en oumagrootjie deurgebring het.

Die voorval het verlede Sondag in die Ndama- informele nedersetting by Rundu plaasgevind, glo nadat Chuhunda eers met sy suster skoor gesoek en haar aangerand het.

Sy was na bewering twee keer by die polisie om hulp te kry.

Ndeitunga het gister ontken dat die polisieskuiwe op dié dorp met die ondersoek hierna te doen het en sê dit was lankal beplan.

Die polisiehoof het verlede week sy adjunk, maj.genl Anna-Marie Nainda, en sy stafoffisier, komm. Petrus Amadhila, na Rundu gestuur vir 'n opvolgondersoek na die voorval. Dit was nadat hy reeds die voorlopige verslag oor die gebeure aan die minister van veiligheid en sekuriteit, mnr. Charles Namoloh, voorgelê het.

Ndeitunga het aan Republikein gesê hy het egter gevoel daar is leemtes en dat hy sekere kwessies verder wil laat ondersoek.

Hy het gister gesê Nainda en Amadhila het Sondag eers teruggekeer en hy wag nog op hul verslag.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!