Polisievergrype kos staat duur
Polisievergrype kos staat duur

Polisievergrype kos staat duur

’n Skadevergoedingeis is verlede week in die hoërhof in Windhoek toegestaan aan ’n man wat herhaalde kere onskuldig deur polisielede in hegtenis geneem is.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - Regter Thomas Masuku het Woensdag ’n bevel in die Windhoek-hoërhof gemaak in die guns van mnr. Benhardt Lazarus wat die staat vir sy onwettige inhegtenisneming en aanhouding, asook verlies aan inkomste gedagvaar het.

Die hof het altesaam N$417 000 aan hom toegeken vir skade wat hy weens onwettige inhegtenisneming by drie geleenthede gely het.

Die twee polisieoffisiere wat by die gebeure betrokke was, is beveel om op 4 Oktober aan die hof te verduidelik hoekom hulle kwytgeskeld behoort te word van die koste van die verhoor uit hul eie sak.

“Dit sou in my opinie ondenkbaar wees om belastingbetalers toe te laat om die hele rekening van die beamptes se opgeblase ego te betaal,” het Masuku in sy uitspraak gesê.

Hy het ook beveel dat ’n afskrif van die uitspraak op die twee offisiere, Freddy Nghilinganye en Sackey Kokule, asook die inspekteur-generaal beteken word.

Masuku het in sy uitspraak gesê dat Lazarus, wat ’n kroeg in Wanaheda in Katutura besit, in Oktober 2014 ’n klag by die polisie aanhangig gemaak het nadat ’n boerpotmasjien asook kontant uit ’n musiekoutomaat in sy onderneming gesteel is. Die polisie het aangedring op die reeksnommer van die boerpotmasjien – wat aan ’n kliënt behoort het. Hy het dit nie gehad nie en moes sy kliënt van die voorval inlig. Die kliënt het ’n nommer van ene sersant Nghilinganye aan hom gegee wat glo “van hulp kon wees”.

Nadat Nghilinganye en speurder Kokule vir Lazarus by sy kroeg besoek het en ’n verklaring oor die diefstal van hom verkry het, het sy beproewing begin. Later dieselfde dag het hy dreigemente van die twee polisiebeamptes ontvang wat gesê het hy was self vir die inbraak verantwoordelik.

Op 31 Oktober 2014 het die twee hom sonder 'n lasbrief by sy kroeg in hegtenis geneem en is hy tot 2 November 2014 in die polisieselle by die Wanaheda-polisiekantoor aangehou. Op 2 November het Nghilinganye en Kokule vir Lazarus na sy huis geneem wat hulle sonder ’n lasbrief deursoek het. Hy is daarna vrygelaat.

Op 8 November 2014 is hy weer eens, sonder ’n lasbrief, in hegtenis geneem en vir drie dae aangehou.

Masuku het in sy opsomming van Lazarus se getuienis genoem die laaste voorval van Nghilinganye en Kokule se onregmatige behandeling het op 19 April 2015 plaasgevind. Daartydens het hulle hom weer eens by sy kroeg genader en hom meegedeel dat hulle hom in hegtenis gaan neem “omdat hy geen respek vir hulle of vir die wet het nie”. In ’n onderonsie wat tussen die drie uitgebreek het, het Lazarus losgeruk en weggehardloop. Hy het getuig dat die twee offisiere vier skote op hom afgevuur het. Hy is nie raakgeskiet nie.

Met sy terugkeer na die kroeg het hy gevind die offisiere het sy voertuig gekonfiskeer waarin N$27 000 kontant was waarmee hy voorrade moes aankoop.

Lazarus het hierna regshulp ingewin en ’n saak teen die regering, as werkgewer van die twee offisiere, gemaak.

Masuku het in sy uitspraak genoem die beskuldigdes het “tot hul krediet” hul aanspreeklikheid erken. Die hof moes dus slegs die omvang van die skadevergoedingseis bepaal.

Masuku het N$300 000 aan Lazarus toegestaan vir sy onwettige inhegtenisneming en aanhouding, N$27 000 vir die verlies aan die geld wat tydens beslaglegging in sy voertuig was, en N$90 000 vir die verlies aan inkomste wat hy weens die twee offisiere se dade gely het.

Die regter het ook gesê mense in diens van die regering moet voortaan onthou dat indien hulle optree op ’n veragtelike wyse en in stryd met waarvoor hulle in diens is, ’n boodskap uitgestuur sal word: ’n Persoonlike prys sal betaal word en daar sal nie ’n openbare beursie wees om vir hul onbesonnenheid te vergoed nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!