Politieke strydros die naweek begrawe
Die partystigter Attie Beukes het sy lewe aan die land se politiek toegewy.
Augetto Graig
Die gestorwe stigterpresident van die Kommunistiese Party van Namibië, mnr. Attie Beukes, het ’n lang en opdraande pad in die land se politieke arena gestap.
Hy is Maandagaand 17 Mei op 69-jarige leeftyd by die Lady Pohamba Privaat Hospitaal aan ’n hartaanval oorlede, maar het ook aan chroniese longprobleme gely, volgens sy vrou Rosetta.
Attie Beukes, seun van Barend en Maria Beukes, is op 9 Augustus 1951 op Mariental gebore en was altyd ’n man van beginsel en uitgesproke aandrang op regverdigheid.
Hy was in 1975 ’n stigter van die Rehoboth-tak van Swapo en het die Suide ywerig aangemoedig om by dié party aan te sluit. In 1978 is hy in hegtenis geneem en sowat drie maande lank deur die Suid Afrikaanse polisie gemartel, wat tydperke in alleen-aanhouding ingesluit het. Ná sy vrylating het Beukes volgens sy familie steeds vir Swapo aanhou bevorder.
Later het hy vir ses jaar landelike ontwikkeling vir die Raad van Kerke (CCN) gedoen. Dit was in dié tyd dat hy saam met Erica en Hewat Beukes Swapo se marteling van sy eie lede ontbloot het. In 1987 het die drietal saam Namibia: A Struggle Betrayed laat publiseer, wat besonderhede van die praktyke oopgevlek het. Die drie het Swapo verlaat en in 1989 het hulle saam die Werkers Revolusionêre Party (WRP) gestig om aan nasionale verkiesings deel te neem.
In 2014 is die WRP tot die Kommunistiese Party van Namibië herdoop en het dieselfde jaar die eerste keer in nasionale verkiesings meegeding. Die party het nie aan die 2019-verkiesing deelneem nie. Beukes was president van die party tot sy dood.
Die familie beplan vandag ’n roudiens om 17:30 by die Universiteit van Namibië se ontspanningsentrum. ’n Nagwaak sal Vrydag dieselfde tyd by erf 309 op die hoek van Mostert- en Pretoriusstraat in Pionierspark gehou word. Die begrafnisdiens Saterdag begin om 07:30 vanaf dieselfde woning en vanaf 08:30 by St. Boniface Rooms-Katolieke Kerk in Pionierspark.
Hy laat sy vrou Rosetta, sy jonger broer Martin en vyf dogters Ratula, Natasha, Toni, Heidi en Nadia agter.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie