Pompeo keer nadat Trump laat waai teen Iran
Pompeo keer nadat Trump laat waai teen Iran

Pompeo keer nadat Trump laat waai teen Iran

Amerika het hom in Mei vanjaar onttrek aan die kernkragooreenkoms wat hy en vyf ander wêreldmoondhede met Iran onderteken het.
Die Amerikaanse president, Donald Trump, het vriend en vyand verras met sy verklaring dat hy sonder voorwaardes met Iran se leiers sal vergader. Dit blyk egter dat raadgewers agter die skerms nié so gretig is om die voorwaardes prys te gee nie.

“Ek sal met enigiemand vergader. Ek glo aan vergaderings,” het Trump in die Withuis op ’n gesamentlike nuuskonferensie met Giuseppe Conte, die premier van Italië, gesê, berig die BBC.

Dit kom ná vyandige uitlatings tussen Trump en Hassan Roehani, president van Iran, vroeër die maand toe Amerika hom reggemaak het om verskerpte sanksies teen Iran in te stel.

“Amerikaners moet verstaan dat vrede met Iran die moeder van alle vrede is, terwyl oorlog met Iran die moeder van alle oorloë is,” het Roehani gesê. Hy het Trump gewaarsku om “nie verder met die leeu se stert te speel nie, anders sal jy dit berou”.

Amerika het hom in Mei vanjaar onttrek aan die kernkragooreenkoms wat hy en vyf ander wêreldmoondhede met Iran onderteken het.

Ingevolge dié ooreenkoms sou Iran ter wille van verminderde sanksies sy kernkragprogram afskaal.

Volgens USA Today het dit egter nie Iran se vermoë om uraan te verryk ten volle uitgeskakel nie.

ROEHANI SE DREIGEMENT

Trump het in hoofletters gereageer op Roehani se dreigement en hom onder meer gewaarsku om “die VSA nooit ooit te dreig nie, of jy sal die gevolge dra soos min nog in die geskiedenis beleef is . . .”

Maar Maandag was Trump die ene gemoedelikheid en hy het verwys na sy persoonlike vergaderings vroeër vanjaar met Kim Jong-oen, leier van Noord-Korea, en pres. Wladimir Poetin van Rusland, wat volgens hom nog vele vrugte gaan afwerp.

Hy het gesê indien Iran wil vergader, sal hy enige tyd daarvoor te vinde wees.

“(Dit is) goed vir die land, goed vir hulle, goed vir ons en goed vir die wêreld. Geen voorwaardes nie. As hulle wil vergader, sal ek vergader.”

Trump se minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, het later ’n bietjie briek aangedraai. Hy het aan CNBC gesê hoewel hy ten gunste van ’n vergadering tussen Trump en Iran se leierskorps is, is daar talle voorwaardes.

Daar is ook van Iran se kant af voorwaardes. Hamid Aboetalebi, een van Roehani se raadgewers, sê daar moet eers na die kernkragooreenkoms teruggekeer word, daar moet “respek” vir Iran wees en daar moet ’n afname in die vyandigheid wees voordat enige ontmoeting met Trump kan plaasvind, berig The Guardian. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer