Pompeo na Saoedi-Arabiu00eb oor joernalis se verdwyning
Pompeo na Saoedi-Arabiu00eb oor joernalis se verdwyning

Pompeo na Saoedi-Arabië oor joernalis se verdwyning

Turkse bronne glo dat Jamal Khashoggi in die konsulaat vermoor is en daar van sy lyk ontslae geraak is.
Pres. Donald Trump van die VSA het Maandag sy minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, opdrag gegee om met Saoedi-Arabië se koning in Riaad te vergader oor die verdwyning van die Saoediese joernalis Jamal Khashoggi.

Volgens Trump het hy en die Saoediese koning, Salman bin Abdoel Aziz al Saoed, omtrent 20 minute oor Khashoggi, wat Amerikaanse burgerskap het, gesels.

Khashoggi het op 2 Oktober spoorloos verdwyn ná ’n besoek aan die Saoediese konsulaat in Istanboel.

Trump sê dit wil voorkom asof die koning en kroonprins Mohammed bin Salman niks van die voorval weet nie.

Turkse bronne glo dat Khashoggi, ’n rubriekskrywer van The Washington Post, in die konsulaat vermoor is en daar van sy lyk ontslae geraak is.

“Dit klink vir my of moordenaars wat onafhanklik optree miskien betrokke kon wees. Wie weet?” het Trump aan joernaliste by die Withuis gesê.

ONDERVRAGING

Salman het Maandag ’n interne ondersoek na Khashoggi se verdwyning gelas, met ’n gesamentlike Turkse en Saoediese span wat die konsulaat van hoek tot kant moet deursoek.

Saoedi-Arabië is glo besig om 'n verslag saam te stel waarin hulle beken dat die Saoedi-joernalis Jamal Khashoggi in Turkye dood is toe dinge verkeerd geloop het terwyl hy ondervra is, berig CNN.

Volgens een bron sal daar in die verslag melding gemaak word van die operasie wat sonder klaring en deursigtigheid uitgevoer is en die betrokke persone sal verantwoordelik gehou word.

Die verslag word nog opgestel en die situasie kan nog verander, het nog 'n bron volgens CNN gesê. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer