Popkultuur voed zombies

Jacqueline Louw
Pop verloor sy naïwiteit en begin goed en boos, die alledaagse en uitsonderlike aanspreek.
Uniek aan die beweging is dat dit oor internasionale grense hande vat, dat koel nie net ‘local’ is nie, maar dat almal dit kan wees. Koel is ’n spesifieke staat van menswees en word ’n herkenbare, universele eienskap.
Don McLean antisipeer die wêreldwye afname in die baanbrekende musiekgolf reeds in 1971 met sy liedjie “American Pie”. Die popbeweging kom tot inkeer, raak krities teenoor homself. Randfiguur- musikantgroepe begin die kreatiewe toon aangee. Hoofstroom-popmusiek pamperlang die massa, oorspronklikheid raak berekend en suksesresepte word slaafs nagejaag. Dit was ten koste van suiwer selfekspressie wat een van die hoekstene van pop was. Die resultaat is dat kreatiwiteit ly en stuk-stuk breindood begin sterf.
Alle kulture het diktators. Popgroepbestuurders beskerm hul kroos fanaties. Kruisbestuiwing tussen musikante raak seldsamer en minder spontaan. Die wittebrood is te spoedig verby. Jimi Hendrix se musiekna­latenskap raak ’n regstameletjie. Beslis nie koel nie. Die eienaarskap oor sommige gewilde liedjies bly vir dekades twispunte (“Mr Bo Jangles”). Omring deur die geldgierigheid van die bestuurders, is die verbruiker die uiteindelike slagoffers.
Die musiekindustrie spring af met vinielplate. Nuwe terme word geskep uit die vervaardigingsproses. Eerste snit (“First cut”) en groef (“Groof” en ook “groovy”) kry wyer betekenis.
Gou-gou spoed die industrie voort na lompe 8-baan bandspelers wat byna die hardnek­kige klein kasette uit die wiegende Kombi skop. So word die wisselvallige tafel gedek vir CD’s en iPods.
Die beperkte speeltyd van ’n viniellangspeelplaat, ongeveer 20 minute per sy, het dit verbruikersvriendelik gemaak. Die luisteraar se ore is genoeg tyd gebied om met die omdraai te rus en te besluit om óf na die ander sy óf na ’n ander opname te luister.
Vandag kan jy, as die ‘remote’ se batterye pap is, vir ure na ’n maniese herhalende getjank in ’n kringloop luister tot jy zombie voos is.
Die popmusiek-amoeba begin muteer wanneer ambisieuse geldmakers die deeg begin knie. Die klank moet altyd nuut wees en ’n magdom tipes word geïdentifiseer: Rock, Folk, Kelties, Krautrock, Country, Glam Rock, Middle of the Road, Motown, Hard Core, Heavy Underground, Soul, Psigedeliese- en Acid Rock, die lys is by verre nie voltooi nie. Die onderskeid tussen die soorte was soms vaag, maar die meriete, al dan nie, van elkeen is gedebatteer.
Pink Floyd eksperimenteer met klanke wat blindes laat gril. Hulle bly groei en word die voorlopers van reusagtige, teatrale vertonings. Alle bestuurders se handpalms begin jeuk.
Die visuele kunste wil die nuwe stemme steun en skep gepasde kop­skuiwende werke waarin skreiende neon-oranjes, pers en lemmetjiegroen heers. Vorms vloei platweg tot Yin Yang-komposisies. Die toe­skouer word genooi om binne-in kleur te kyk en nie daaroor nie.
Collages en montages volg en selfs eksperimentele flieks van wisselende gehalte word opgesaal uit die Hollywood-stal. Oor die jare klim “Easy Rider” al hoe hoër op die kultusberg se ererol.
Fotografie is ’n gewillige meeloper en deur wyelens-skote, solarisasie-tegnieke en kontroversiële, dikwels skokkende werke ver­skuif kamera- kliekers die grense van hierdie medium. Dit gaan vir eers moeilik om die publiek te oortuig, maar later word fotografie uiteindelik ook as kuns aanvaar. Kom binne, kunsfotografie.
Die konvensionele ivoortorings van die hogere visuele kunste was onder druk en moes óf assimileer óf kapituleer.
Tog weet almal nou wie het gewen. Maar dit was destyds nie ’n uitgemaakte saak nie en die prys was hoog.
Volgende aflewering: Goedgelowige, kranksinnige verkleurmannetjies.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!