Portugese gemeenskap vier nasionale dag
Portugese gemeenskap vier nasionale dag

Portugese gemeenskap vier nasionale dag

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Nagenoeg 100 miljoen Portugese wêreldwyd vier Saterdag dié land se nasionale dag.

'n Groot feesgeleentheid vind ook in Windhoek plaas.

Dit sluit 'n glansdinee in wat deur die Portugese ambassade aangebied word.

Die dinee vind Vrydagaand by die Safari-konferensiesentrum plaas en sowat 400 mense is uitgenooi.

Die koor van die Universiteit van Porto, bekend as Tuna Uni­ver­sitária do Porto, tree by die ge­leentheid op en lewer ook Saterdagaand 'n uitvoering in die Nasionale Teater.

“Tuna” verwys na 'n groep studente in swart togas wat tradisionele instrumente speel en serenades sing wat uit die 13de eeu dateer.

Die doel van die vieringe is om hulde te bring aan die Portugese gemeenskap in Namibië wat bygedra het tot die land se ontwikkeling en vooruitgang, terwyl hulle steeds nou bande met Portugal as hul land van herkoms het, sê mnr. Fábio Lopes Paulos, attaché vir handel en ekonomie by die Portugese ambassade in Windhoek, in 'n verklaring.

Na raming is daar, weens die immigrasie van Portugese sedert die 16de eeu na Indië, die Amerikas, Macau, Oos-Timor, Indonesië en Afrika, meer as 100 miljoen mense wêreldwyd met Portugese voorvaders. Portugal self beskik oor sowat 10 miljoen inwoners.

Die Portugese ontdekkings­reisiger, Diego Cão, was die eerste Europeër om in Namibië voet aan wal te sit. Hy het in 1486 'n kruis van 2 m hoog by Kaap Kruis opgerig.

Die oorspronklike kruis het vir 400 jaar hier gestaan tot 'n Duitse matroos dit in 1893 goedgedink het om dit te verwyder en saam met hom huis toe te vat. 'n Replika is later opgerig.

Anders as ander lande vier Portugal nie op sy nasionale dag 'n oorlog of sy onafhanklikwording nie.

Die Portugese herdenk op 10 Junie die lewe en werk van die beroemde Portugese digter, Luís de Camões.

Sy 16de-eeuse epos, Os Lusíadas, of “Die Seuns van Lusus”, word beskou as een van die grootste ­Renaissance-werke in enige taal.

Os Lusíadas is 'n epiese vertelling van Portugal se goue era toe talle ontdekkingstogte onder leiding van Prins Hendrik die Seevaarder ­onderneem is. Adamastor, die mitiese onheilskarakter in die gedig, ­verteenwoordig die vreesaanjaende natuurelemente waaraan die seevaarders uitge­lewer was.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer