Posisioneer jouself betyds vir groter wins

Die regte fosforaanvulling het ‘n impak op die sleutelkwessies wat rooivleisprodusente se winsgewendheid dryf.
Elvira Hattingh
Christo du Plessis, Dierevoedingskundige: Feedmaster – In hierdie artikel kyk ons na die sleutelkwessies in rooivleisproduksie wat wins dryf, en hoe fosforaanvulling produsente se winsgewendheid kan verbeter.

Dit is naamlik:

1. Speenpersentasie

2. Speengewigte

3. Optimale benutting van jou goedkoopste voerbron, naamlik natuurlike weiding

4. Bemarking op die regte tyd, op die regte plek teen die regte prys. Dit is natuurlik net moontlik as jy wel die korrekte kwaliteit diere het om te kan bemark.

FOSFORAANVULLING IS TE DUUR: REG OF VERKEERD?

Die persepsie bestaan dat fosforaanvulling te duur is, maar in werklikheid is dit duurder om dit nié aan te vul nie. Die stelling dat ‘n fosfortekort diereprestasie nadelig beïnvloed, is by geleentheid deur wyle dr. Jasper Coetzee gemaak.

As daar na fosforaanvulling en selfs lekaanvulling in die algemeen gekyk word met die klem op opbrengs op bedryfsuitgawes, maak lekaanvulling as deel van volhoubare diereproduksie ekonomies soveel meer sin.

In die meeste gevalle kan ‘n boer baie gou vir jou vertel wat sy lekrekening die vorige jaar was. Omdat die opbrengs op die kapitaal wat bestee is, versteek is of selfs wegraak in die alledaagse bedryfsuitgawes, word fosforaanvulling nie noodwendig as ‘n noodsaaklike uitgawe gesien waarvan die opbrengs uitbetaal op die dag van bemarking nie. Selfs verkeerde bemarkingskeuses kan hierdie belegging se opbrengs benadeel. Daarom is dit belangrik om weer na wins ná lekkoste te kyk – uitgesluit die ander faktore wat dit soms uit verhouding trek.

Grafiek 1 toon plaaslike navorsingsdata opgestel deur Feedmaster waarin wins ná lekkostes vergelyk word met wanneer fosforaanvulling gegee is, pleks van byvoorbeeld net ‘n soutklipaanvulling. Dit wys ‘n verbetering in winsgewendheid van 42%. Die data is in Desember 2019 opnuut aangepas ná die nuutste markpryse bekom is.

Wat die werklike koste van fosfaataanvulling betref, maak produsente baie maklik die fout om hulle teen die sakprys vas te staar. Indien ‘n mens die lae innames, asook die wins ná lekkoste van fosfaatlekke in ag neem, besef jy jy jouself eintlik in die voet geskiet deur op die fosfaatlek te probeer spaar en sodoende nie jou lekbakke vol gehou het nie.

Die realiteit van fosfaatkostes per grootvee- en kleinvee-eenheid per dag is vanweë die klein daaglikse inname, in werklikheid baie laag. ‘n Bees se inname is 100 – 200 gram per dag, wat 71 sent kos. Oor ‘n tydperk van ses maande, kos dit N$130,03 om fosfosaanvullings aan ‘n grootvee-eenheid toe te dien.

Kleinvee se inname beloop 20-50 gram per dag, wat 12 sent kos. Oor ‘n periode van ses maande werk dit uit op N$21,62 per skaap of bok.

Die realiteit van lae innames kan dalk ook soos volg verduidelik word: Een bees vreet amper 1 jaar lank aan ‘n sak P6, en een skaap of bok vreet ongeveer 5 jaar aan ‘n sak P6.

EKONOMIESE IMPAK VAN FOSFORTEKORTE

Dit is onmoontlik om die belangrikheid van fosfor in rooivleisproduksie, veral by beeste, te oorbeklemtoon. Soek ons effektiewe groei by ons diere, praat ons terselfdertyd van effektiewe energiemetabolisme in die liggaam van die dier. Vir effektiewe energiemetabolisme benodig die liggaam weer genoeg fosformolekules in die elektronvervoerketting vir optimale energie-oordrag.

Fosfor speel dus ‘n uiters belangrike rol in die omset van weidingsenergie in bruikbare groei- energie. Die ernstigste gevolg van ‘n fosfortekort, is ‘n verlaagde weidingsinname wat ‘n produsent se goedkoopste voerbron bly.

Hierdie verlaagde inname lei tot vertraagde groei, swak herbesetting as gevolg van die swak kondisietellings van aanteelvee, anestrus en verlaagde melkproduksie. Laasgenoemde het weer ‘n uitwerking het op diere se speengewigte.

Laer speengewigte tydens speentyd veroorsaak menigmaal dat die verkeerde bemarkingskeuses ook gemaak word. Dit beïnvloed weer die winsgewendheid van die produksiestelsel en het ‘n impak op die kalwers wat te lig bemark word.

Dit beteken dat diere truggehou word as gevolg van ‘n laer inkomste per kop tot hul gewigte reg is, wat weer bemarking buite die tradisionele speenkalfveilingseisoen veroorsaak wanneer daar nie genoeg kompetisie onder die kopers is nie. Prys is dan ook laer en nie mededingend nie.

Kalwers moet selfs met onnodige aanvullende voeding gehelp word wat ook die wins opvreet. Daar word nie in hierdie geval verwys na kruipvoeding wat ‘n spesifieke bestuursstelsel is nie. Kruipvoeding bevorder verhoogde groei en winsgewendheid. Wanneer speenkalfpryse styg, maak dit dus sin om kruipvoeding te gee.

Om die voordele van optimale energiemetabolisme te beklemtoon, kan ons dit ook deurtrek na navorsing wat gedoen is. Die verskil in dragtigheid is bewys tussen diere wat in ‘n positiewe energiebalans was, teenoor diere wat tydens paring in ‘n negatiewe energiebalans was. Daar was ‘n aansienlike verbetering in herkonsepsie die oomblik toe die diere gepaar is tydens ‘n periode van positiewe energiebalans, teenoor ‘n negatiewe balans waar die diere kondisie verloor het tydens paring.

By kleinvee waar prikkelvoeding meer algemeen bekend is, sien ons selfs ‘n meer drastiese verbetering in dragtigheidspersentasies en veral hoër fekunditeit of, in boeretaal, ‘n verhoging in die getal meerlinge wat gebore word.

IS ALLE FOSFAATBRONNE DIESELFDE?

Die biobeskikbaarheid en kwaliteit van fosfaatbronne wat in die afmeng van fosfaatlekke gebruik word, is die afgelope ruk onder ‘n vergrootglas geplaas in voedingskringe en het navorsing op hierdie bronne interessante feite uitgewys. Hieruit kan ons aflei dat die tradisionele gebruik van P18- (DCP)bronne aan die verdwyn is en eerder plek maak vir P21- en P23- (MCP)bronne. Laasgenoemde het ‘n 1:1-verhouding van kalsium tot fosfor en ook ‘n mindere mate van interaksie tussen die beskikbare fosfaat en kalsium.

Wat selfs nog meer interessant is, is die opneembaarheidspersentasies op elkeen van hierdie bronne wat dit definitief vir die boer finansieel die moeite werd maak om die veevoervervaardiger te vra van watter bronne hulle gebruik maak sodat daar nie vir fosfaat betaal word wat nie vir produksie gebruik word nie.

Met die posisionering van Futterfos in die mark, het Feedmaster dan ook alles in sy vermoë gedoen om ’n monokalsiumfosfaatbron met 22,7% fosfaat te bekom, wat seker van die beste verteerbaarheid het. In gevalle waar die wisselkoers invoere verhinder, maak Feedmaster ook van die beste P21-bronne in Suitd-Afrika gebruik. Die gebruik van laer verteerbare di-kalsiumfosfaat- (P18)bronne, kom glad nie in Feedmaster se fosfaat voor nie.

‘n Goeie fosfaatlek verskaf egter nie net fosfaat aan die dier nie, maar ook ‘n wye verskeidenheid mikrominerale wat ook noodsaaklik is vir optimale produksie. Dit bly egter van kardinale belang dat die mikrominerale wat gebruik word in ’n gebalanseerde verhouding tot mekaar aangevul word.

Futterfos is so geformuleer dat dit meer as net aan die 25% wetlik voorgeskrewe behoeftes voldoen en het dus ’n hoër mineraalspesifikasie as die normale P12-produkte in die handel wat op 25% van behoefte geskoei is. Tradisionele fosfaatlekke se mikromineraalvlakke verskaf slegs 25% van die dier se daaglikse behoeftes, volgens die wetlike vereistes. Die nuutste navorsing toon egter dat hoër aanvullingsvlakke groter voordele vir diere en ook boere inhou.

‘N TREE VORENTOE

Navorsing wat nuut op die biosbeskikbaarheid van fosfaat fokus, en wat vir Feedmaster ook ‘n nuwe dimensie bewerkstellig vir volhoubare verbetering, is die koppeling van DCAB-waardes vir alle lekprodukte. Dit verwys na die katioon-anioon balans in die dier se dieet.

Die nuutste navorsing, wat so onlangs soos Desember 2019 tydens ‘n boeredag naby Grootfontein met ons gedeel is, beklemtoon die uitwerking wat positiewe en negatiewe katioon-anioon balans op die absorbering van fosfor en kalsium uit die been van ‘n dier het.

Baie boere maak byvoorbeeld die fout om onnodige swael by hulle lekke te voeg, wat die katioon-anioon balans van die lek negatief maak. Dit begin ‘n bioschemiese reaksie wat die absorbering van fosfor uit die been aktiveer.

Saam met fosforabsorbsie, vind kalsiumabsorpsie ook plaas. Dit veroorsaak ‘n aansienlike verlaging in beendigtheid wat weer simptome soos osteochondrose en verhoging in beenbreuke tot gevolg het.

Talle voermaatskappye trap ook in hierdie slaggat omdat hulle nie noodwendig kwaliteit najaag nie, maar net die laagste koste van verkope najaag en dan roumateriaal aankope waarvan die kwaliteit nie na wense is nie.

Dr. Kenneth Botha van Nutrigenics wat deel van hierdie navorsingsprojek was en ook die lesing op Grootfontein in Desember 2019 aangebied het, het verskei voorbeelde van fosfaatbronne getoon wat onaanvaarbare hoë swaelvlakke bevat het. Indien hierdie roumateriale gebruik word wat onder verdenking is, kan dit die katioon-anioon balans vinnig negatief verander en hierdie onttrekking uit die been versnel.

Daar is verskeie ander faktore wat ook bydra tot die finale balans van die rantsoen wat die dier daagliks vreet en dit sluit byvoorbeeld chloor- en swaelvlakke van boorgatwater, waterkwaliteit van gronddamme, asook van die weidings in. Indien presisieboerdery die pad is wat jy loop, sal dit dan help om ten minste waterontledings van jou belangrikste waterbronne te doen om te sien of daar sekere elemente in is wat dalk ‘n groot invloed op die totale rantsoen se katioon-anioon balans mag hê.

Verseker lê die grootste verantwoordelikheid by jou veevoervervaardiger en is dit ook waarom Feedmaster proaktief wil wees om te verseker dat die produk wat ons ontwikkel en vervaardig, wel ‘n DCAB-waarde op die sakkaartjie het. Dit is om te toon dat ons lekreeks aan die regte balans voldoen om vir ons produsente gemoedsrus te gee.

Ongelukkig is hierdie veranderinge nog nie deel van die Wet op Kunsmis, Veevoere en Landboumiddels, Wet 36 van 1947, nie. Dit bring mee dat daar wel produkte met ‘n negatiewe DCAB teen ‘n moontlike goedkoper prys , met ‘n gebalanseerde produk meeding.

Daarom moet die regte inligting ons boere in staat te stel om ten minste die regte besluit te neem wat ekonomies die meeste voordeel sal verseker.

OPSOMMING

Navorsingsresultate toon dat kalfpersentasie van 80% gerealiseer is teenoor die 51% van die kontrolegroep wat geen fosforaanvulling gekry het nie. Verder is ‘n toename in speenmassas van tot 27,5% gerapporteer danksy die aanvulling van fosfor in gebiede arm aan fosfor.

In ons moeilike ekonomiese tye kan geen boer dit bekostig om nie hierdie voordeel te ontsluit nie. Dit is ‘n basiese boerderybeginsel wat net voordele vir die produsent inhou.

Dit sal ook wys wees om twee keer na die inhoud van ‘n sak fosfaat te kyk voordat jy dit koop, om seker te maak die produk is wat dit moet wees en dat jy die volle opbrengs op jou “belegging” kry.

Feedmaster se span tegniese ddviseurs is beskikbaar om te help met enige navrae oor fosforaanvulling. Bel 061 290 1300.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!