Pote: Embrose gaan diep Bok-spore laat
Rugby
Cobus Claassen
Embrose Papier was 'n fenomeen op skolevlak en daar is waarnemers wat voorspel hy kan nog ontwikkel in Suid-Afrikaanse rugby se weergawe van die Wallaby-legende George Gregan.
Groot verwagtinge vir 'n buksie wat klein is in terme van hedendaagse rugby – al is hy 'n skrumskakel.
Die 21-jarige Papier is bestem om Saterdag die eerste keer in die Springbokke se opdrafspan te wees wanneer hulle Skotland op Murrayfield aanvat.
Pote Human, wat vanjaar die Blou Bulle in die Curriebeker afgerig het, sê daar is by hom geen twyfel nie dat dít die eerste van vele in 'n Bok-trui vir dié boorling van Clanwilliam kan wees.
“Ek volg sy loopbaan al sedert hy (in 2012) in Pretoria aangekom het en jy kon dadelik sien die outjie is spesiaal. Onder die spelers saam met wie ek al oor die jare heen gewerk het, is Embrose een van dié met die meeste talent.”
Human was destyds die Hoërskool Garsfontein se hoof van rugby toe die Blou Bulle vir Papier by dié skool in die ooste van Pretoria “geplaas” het.
Papier het in 2010 die Bulle se talentwerwers by die o.13-Cravenweek in Graaff-Reinet – toe hy die Boland verteenwoordig het – oortuig hy moet sy rugby in die Jakarandastad speel en is toe later, in sy graad 9-jaar, Pretoria toe.
Hy het die unie sedertdien op alle ouderdomsvlakke met onderskeiding verteenwoordig – van skole- tot Superrugby-vlak.
Sy opgang hierdie seisoen was skielik.
Hy was verlede jaar nog lid van Human se Tukkies-span wat die Varsitybeker gewen het en het dié seisoen 'n Springbok geword nog voordat hy verlede maand sy Curriebeker-debuut vir die Ligbloues gemaak het.
Human sê die Bulle het Papier geleidelik blootstelling gegee in die Superreeks en dit is goed dat die Bok-breier, Rassie Erasmus, dieselfde benadering in toetsrugby volg.
“Ek is bly vir Embrose en ek is oortuig hy sal opgewasse wees vir die uitdaging teen die Skotte. Hy het 'n goeie voorgevoel en kan 'n wedstryd lees. En hy is baie vinnig van die merk af en rats,” sê hy.
“Dit is ook goed vir sy selfvertroue dat hy in Superrugby gewys het hy is fisiek reg om op die hoogste vlak te speel. Embrose staan vir niemand terug nie.”
Hy is nie bekommerd dat die druk van die hoë verwagtinge Papier sal kortwiek nie, sê Human.
“Nee wat, hy weet waaroor dit gaan en hy sal fokus op dít wat saak maak. Hy is iemand wat hard werk en hy is baie beskeie. Hy sal beslis nie grootkop kry nie.”
Met Faf de Klerk wat weens klubverpligtinge nie Saterdag teen Skotland speel nie, behoort Papier se Bulle-spanmaat, Ivan van Zyl, die plaasvervanger-skrumskakel te wees.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie