Pous kritiseer Trump oor Jerusalem
Pous kritiseer Trump oor Jerusalem

Pous kritiseer Trump oor Jerusalem

Pous Franciskus het die Amerikaanse president tydens sy tradisionele kersboodskap in die Vatikaanstad op die vingers getik.
Pous Franciskus het pres. Donald Trump van Amerika in sy tradisionele Kersboodskap op St. Petrusplein in die Vatikaanstad gekritiseer.

Hy het gesê dit is nodig dat ’n tweestaat-oplossing in die dekades lange konflik tussen Israel en die Palestyne gevind moet word, het verskeie wêreldmedia berig.

Hy het Trump se besluit gekritiseer om Jerusalem as hoofstad van Israel te aanvaar. Sedert Trump se aankondiging op 6 Desember dat Amerika sy ambassade amptelik na Jerusalem gaan skuif, is daar oral onrus.

In sy “Urbi et Orbi” – die pous se Kersboodskap aan “die stad en die wêreld” – het hy gesê “die kinders van die Midde-Ooste ly weens die groeiende spanning tussen Israel en die Palestyne”.

Die pous het ook die ellende van vlugtelinge wêreldwyd vergelyk met die Kersverhaal.

Hy het ’n beroep op vrede in Jerusalem en die res van die Heilige Land gedoen en gesê: “Laat ons bid dat die wil om dialoog te hervat tussen die partye weer sal opvlam en dat ’n onderhandelde oplossing finaal bereik kan word. ’n Oplossing wat sal lei tot die vreedsame naasbestaan van twee state wat ooreenkom en wie se grense internasionaal erken sal word.”

Hy het God se ondersteuning gevra vir “almal in die internasionale gemeenskap wat deur welwillendheid geïnspireer word om dié gebied te help ondanks struikelblokke in die pad van harmonie, geregtigheid en veiligheid waarop al so lank gewag word”.

Hy het die toespraak begin deur ’n beroep op alle Christene te doen “om Christus te herken op die gesigte van klein kindertjies in plekke waar konflik en spanning heers en die winde van oorlog in ons wêreld waai.

“Ons sien Jesus in die gesigte van Siriese kinders, wat ly onder oorlog.” Hy het ook Irak en Jemen genoem, asook Suid-Soedan, Burundi, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Nigerië.

Hy het gebid vir die konflikte op die Koreaanse Skiereiland, gevra vir dialoog in Venezuela en die einde van konflik in die Oekraïene. Hy het ook die situasie in Mianmar en Bangladesj genoem.

In Brittanje het die biskop van St. Albans, Alan Smith, ook na Trump se Jerusalem-besluit verwys in sy Kerspreek. Hy het verwys na die mure wat Israel bou en gesê: “Mure bied net tydelike beveiliging, maar kan nooit op die lange duur veiligheid en vrede bring nie. Pleks van om mure te bou, moet ons snelweë bou om mense en gemeenskappe te laat saamkom.” - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer