Pravin skuif agter die grofgeskut in
Guptas wéér in die soeklig
Vida Booysen
Die nasionale tesourie onder leiding van Pravin Gordhan, minister van finansies in Suid-Afrika, se grofgeskut het Maandag begin bulder in sy stryd om die staatsbeheerde maatskappye se gunstige kontrakte met die omstrede Gupta-familie stop te sit.
Eskom en Denel het albei in die spervuur gekom oor transaksies met Gupta-maatskappye waarmee die tesourie nie tevrede is nie.
Daarby het die toedraai van die beleërde Suid-Afrikaanse Lugdiens se geldkraantjie (nóg ’n reddingsboei van belastingbetalersgeld) dié staatsbeheerde maatskappy genoop om hoed in die hand ’n advertensie in ’n Sondagkoerant te plaas. Hierin vra hy of iemand dalk vir hom R16 miljard voor einde Oktober wil leen.
Dit het ook aan die lig gekom dat nóg ’n staatsmaatskappy, die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), ’n spandabelrige R42 miljoen aan 70 toiletsitplekke vir sy nuwe lokomotiewe bestee het. Dit blyk uit hofstukke wat Prasa Vrydag by die hooggeregshof ingedien het om die kontrak vir die nuwe lokomotiewe – wat deur sy eertydse hoof, Lucky Montana, afgeteken is – tersyde gestel te kry.
Die AmaBhunghane-ondersoekeenheid berig ook dat ’n maatskappy wat met die Guptas verbind word, Trillian, sowat R167 miljoen uit ’n ander staatsentiteit, Transnet, verkry het. Die tesourie stel ondersoek in na kontrakte tussen die twee maatskappye.
Eskom en Tegeta
’n Openbare stryery het tussen die nasionale tesourie en Eskom oor die kragmonopolie se steenkoolkontrakte met die Gupta-beheerde Tegeta Exploration and Resources uitgebreek.
’n Verslag deur die tesourie het onthul dat Eskom meer as R130 miljoen aan Tegeta betaal het vir steenkool wat nie bruikbaar was nie.
Maandag het die tesourie ontken dat Eskom aan hom sy volle samewerking gegee het in die proses om sy steenkoolkontrakte te hersien.
Sedert April het die tesourie verskeie pogings aangewend om inligting uit Eskom en spesifiek sy uitvoerende hoof, Brian Molefe, en dr. Ben Ngubane, voorsitter van Eskom se direksie, te kry, lui die verklaring wat die tesourie Maandagmiddag uitgestuur het. Die tesourie beweer ook hy het Eskom vergeefs versoek om ’n lys van betalings en rekeningstate te verskaf wat hy van 1 September 2015 tot 30 April vanjaar aan Tegeta gemaak het.
Lungisa Fuzile, direkteur-generaal van die tesourie, het Eskom gevra om sy stelling terug te trek wat lui “al die steenkoolkontrakte tussen Tegeta en Eskom is omvattend deur verskeie agentskappe insluitend die nasionale tesourie geoudit”, wat volgens die tesourie duidelik nie die geval is nie.
Gordhan het nou die politieke ekwivalent van ’n skoot met ’n bazoeka op Eskom afgetrek, het David Maynier, die DA se woordvoerder oor finansies, in sy reaksie op die tesourie se verklaring gesê.
“Ons verwelkom dit dat die minister nou vir Brian Molefe aanvat en hom daarvan beskuldig dat hy nie sy samewerking gee nie en die hersiening van die steenkoolkontrakte ondermyn,” sê Maynier.
Hy het die voorsitter van die parlementêre finanskomitee, Yunus Carrim, gevra dat die komitee so gou as moontlik met Molefe vergader.
Eskom het Maandagmiddag laat in ’n verklaring gesê dat hy “geskok en verward” is dat die tesourie só ’n verklaring oor die Tegeta-kontrakte uitgereik het en herhaal dat hy steeds sy samewerking met die ondersoek gee.
Denel en VR Lazer Asia
Denel is ook in die sop nadat die tesourie na bewering prokureursbriewe aan die staatswapenvervaardiger gestuur het waarin Denel Asia gelas is om sy gesamentlike onderneming met VR Lazer Asia te staak.
Laasgenoemde het bande met die Guptas. ’n Sakevennoot, Salim Essa, beheer 64,9% van die maatskappy terwyl die orige 25,1% aan ’n maatskappy onder beheer van Duduzane Zuma en Rajesh Gupta behoort.
Volgens berigte is die tesourie gereed om hof toe te gaan om die transaksie te stuit.
Gordhan word beskou as die sleutelfiguur in die tesourie se stryd om korrupsie te stop en pres. Jacob Zuma en sy sakevriende, veral die Guptas, se pogings teenstaan om toegang tot die staatskas te kry.
Die voorgenome vervolging van Gordhan weens ’n ondersoek deur die Valke word ook beskou as ’n poging om hom te verwyder as struikelblok in die pad van diegene wat staatsgeld vir eie gewin aanwend. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie