Premierliga se titelresies op volspoed

Twee bepalende wedstryde word môre in die hoofstad gespeel.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Krieket Namibië se eendagpremierliga (50 boulbeurte) kan môre weer hoogtepunte oplewer wanneer CCD Tigers en Trustco United onderskeidelik die tuisvoordeel teen die MR24/7 Welwitschias en Samsung FNB Wanderers het.
Tigers, wat laas Saterdag met sewe paaltjies deur Ceiling Centre WHS Old Boys by die Vegkopstadion oorskadu is, sal teen die sukkelende kusspan sy stempel wil afdruk om sy derde posisie (47 punte) op die ligastand te verstewig.
Die Welwitschias (vyfde, 19) sukkel tans veral met die kolf en sal moet uithaal om ’n oorwinning teen Pikky ya France en sy Tiere te bewerkstellig.
Die heersende kampioen Old Boys (93 punte) het dié naweek ’n loslootjie en geniet die eerste plek op die premierliga-punteleer ná sy oorwinning laas Saterdag teen Tigers.
Wanderers (82), terug ná sy afnaweek, was toe nog met sewe punte voor voor Old Boys. Die Wit Hingste kan môre opnuut die bordjies met ’n sege teen die Filistyne verhang en die eerste plek inneem.
Lo-han Louwrens se United-span het verlede Saterdag ’n oortuigende agt paaltjie-sege teen die kusspan by Gemsbokpark in Olympia behaal.
United is tans vierde op die ligaleer (44 punte) en met net twee ligawedstryde oor, lyk dit onwaarskynlik dat Welwitschia hulle sal kan inhaal.
MYLPALE
Nicolaas Scholtz, Tiaan Louw en Colin Schoonbee van Wanderers het almal volgens statistiek van die klub in 99 klubwedstryde (alle ligas) vir die rooi en swart gespeel. Môre wink nommer 100 vir dié groepie staatmakers.
Nog Hingste op die randjie van mylpale is die naatboulers JJ Smit en Karl Birkenstock, die draaiers Bernard Scholtz, Nicolaas Scholtz asook Michael Durant.
Smit, met 99 paaltjies in 92 wedstryde en 372.1 boulbeurte, spog met 13.59 lopies per paaltjie en staan ’n skrale 3.61 lopies per boulbeurt af. Sy beste vertoning is vyf slagoffers vir 18 lopies.
Die linkerarm-draaibouler Bernard Scholtz het 95 paaltjies in 66 eendagpremierligabotsings (440.1 bb) teen gemiddeld 14.83 lopies per paaltjie en 3.2 per bb laat kantel. Volgens beskikbare statistiek is sy beste vir Wanderers ’n merkwaardige 7/12.
Nicolaas Scholtz soek môre sy 50ste slagoffer teen die Filistyne. Ná 58 eendagpremierligakragmetings staan hy op 49 wat hy in 170.2 bb teen gemiddeld 13.18 per paaltjie en 3.79 per bb vermag het.
Met 5/18 as sy beste, gesels hy saam met die mees gerekende boulers in sy klub se geskiedenis. Birkenstock (41 eendagpremierligawedstryde, 173 boulbeurte, 49 paaltjies) is ’n steunpilaar vir die Hingste. Sy beste (5/9) wys hoe ’n gevaarlike bouler hy kan wees. Kolwers slaan gemiddeld 17 lopies (4.82 lopies per boulbeurt) van sy aflewerings voordat hy toeslaan en hulle terug kleedkamer toe stuur.
Durant, nóg ’n veteraan wat Namibië op internasionale vlak verteenwoordig het, is tans op 97 paaltjies in 64 kragmetings (331.5 bb) teen gemiddeld 14.41 per paaltjie en 4.21 per bb . Sy beste is 5/23.
EERSTE LIGA
Wanderers se tweede span keer môre na hul tuisveld terug vir ’n belangrike stryd indien hulle kampioene van die eerste liga (40 boulbeurte) wil bly. Hul opponent WHS Vintage spog altyd met die wêreldwyse ondervinding van ou bekende spelers.
Laas naweek het stortreën oor Pionierspark klaargespeel met Wanderers II se goeie opbouwerk om wenpunte teen Zebras in te samel.
Die Hingste het hul kolfbeurt op 258/4 afgesluit wat op Wessel Myburgh se 128 nie uit nie (120 balle, agt viere, vier sesse) gebou was. Die aanvangsbouler het gou sy kaptein Ewald Steenkamp (3) verloor, maar JC Balt (31 van 29 balle, 3x4 1x6) en Gerhard Lotter (71 van 64 balle, 6x4 3x6) het saam met hom gebaljaar.
Zebras het egter net 4.5 boulbeurte gekolf (22/0) toe die reën gekom het.
[email protected]


FOTO’S
Wessel Myburgh (voor) stap af ná sy onoorwonne honderdtal (128* van 120 balle, 8x4 4x6) vir Wanderers se tweede span teen Zebras. Sy onoorwonne kolfmaat was Olivin Glen-Spyron (1*). Foto Andrew Poolman

Nicolaas Scholtz stap môre in sy 100ste wedstryd vir Samsung FNB Wanderers op die veld. Foto Tielman van Lill

Karl Birkenstock kan môre sy 50ste paaltjie vir die Wit Hingste oes. Agter is Zane Green, kaptein, paaltjiewagter en openingskolwer van Ceiling Centre WHS Old Boys. Foto Tielman van Lill

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!