Pres. Geingob: Die siekte is nie ’n grap
Omdat die land nog geen sterfte weens Covid-19 aangeteken het nie, blyk dit Namibiërs neem nie die siekte ernstig op nie, sê die staatshoof.
Denver Kisting – Pres. Hage Geingob het gistermiddag opnuut ’n beroep op Namibiërs gedoen om Covid-19 ernstig op te neem.
“Op die oomblik is die siekte nie ’n grap nie. In Namibië sien ons nie die liggame nie; so, ons neem dit ligtelik op. Die siekte is erg.”
Hy het dié opmerkings by Staatshuis gemaak toe hy aangekondig het die Erongostreek sou nie gisteraand om middernag van fase 3 na fase 4 beweeg nie.
Trouens, sê Geingob, die skerp toename in infeksies op Walvisbaai maak dié dorp die episentrum in die land.
Die staatshoof het gemeenskapsoordrag van Covid-19 op dié hawedorp bevestig. “Dit is vreesaanjaend.”
Behalwe dat dié streek tot 3 Augustus aanbly in fase 3, word die plaaslike owerhede van Walvisbaai, Swakopmund en Arandis steeds as beperkte areas beskou.
Volgens dr. Kalumbi Shangula, die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, beteken dit geen beweging gaan in en uit die drie plaaslike owerhede toegelaat word nie, behalwe om kritieke en noodsaaklike dienste en goedere te lewer en vir mediese noodgevalle.
Permitte sal net vir dié redes toegeken word, sê hy.
Hy sê al die persoonlike besonderhede van dié mense moet geboekstaaf word.
Reis van en na die res van die Erongostreek en die res van die land is volgens Shangula wel toelaatbaar.
Hoewel Hentiesbaai deel is van die Arandis-kiesafdeling vorm dié kusdorp nie deel van die plaaslike owerheid van Arandis nie en is derhalwe nie ’n beperkte area nie, het die gesondheidsminister gesê.
Maatreëls om die mees kwesbare lede van die drie plaaslike owerhede te beskerm, sluit in dat versorgers van bejaardes in selfkwarantyn moet wees en geen besoeke by korrektiewe instellings toegelaat word nie, sê hy.
Wat saamtrekke in die ganse Erongostreek betref, mag dit in dié stadium net uit ’n maksimum van tien mense bestaan.
Vir die res van die land geld ’n perk van 250 mense sedert verlede week.
Hoewel die koop en verkoop van alkohol onder fase 3 toelaatbaar is, mag geen drank op die persele waar dit aangeskaf word, geniet word nie.
Openbare vervoer na en van die drie dorpe is tans verbode, het Shangula gesê.
Geingob het gesê van die 485 bevestigde gevalle van die siekte wat teen gistermiddag in die land aangeteken is, spruit 436 – of 90% – daarvan uit die Erongostreek.
Van dié gevalle kom 391 – of 81% – op Walvisbaai voor.
Dít, sê Geingob, noodsaak aanvullende maatreëls vir die drie plaaslike owerhede om die verdere verspreiding van die virus hok te slaan.
Gisteroggend het Shangula gesê 73 nuwe bevestigde gevalle van Covid-19 is in die land aangeteken – 72 van Walvisbaai en een in kwarantyn in Windhoek. Dié persoon het ook van die hawedorp na die hoofstad gereis.
Geingob sê ’n tros gevalle kom op Swakopmund voor.
Wat die res van die land betref, kom daar in dié stadium “sporadiese gevalle” voor, het die president gesê.
Geingob het voorts gesê die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling in samewerking met die drie plaaslike owerhede ondersoek tans geskikte alternatiewe behuising waar geraakte lede van daardie gemeenskappe tydelik veilig gehuisves kan word.
Onderskeidelik 100 en 60 leë huise is op Swakopmund en Walvisbaai onder die massabehuisingskema ge?dentifiseer om van die gemeenskapslede te huisves.
Oor toerismeproeflopie
Die staatshoof het gesê hy het self sy bedenkinge oor die grense wat tussen 15 Julie en 15 Augustus vir toeriste sal oop wees.
Boonop, sê hy, sou hy nie op reis gegaan het as hy by sy bestemming 14 dae in kwarantyn moes deurbring voor hy sy vakansie kan geniet nie.
Hy sê hy verneem egter dié opsie sal wel deur langtermynvakansiegangers uitgeoefen word.
Geingob het gesê: “Kom ons kyk uit vir mekaar gedurende dié moeilike tye. Hou ook ons broers en susters wat met Covid-19 gediagnoseer is in jul gebede.”
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie