President se VSA-besoek u2019n groot sukses
President se VSA-besoek u2019n groot sukses

President se VSA-besoek ’n groot sukses

Geingob gee terugvoer in belang van deursigtigheid
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn

Die onlangse besoek aan Amerika deur ’n Namibiese afvaar­diging bestaande uit ministers en sakelui onder leiding van pres. Hage Geingob, was uiters geslaagd en Namibië se beleid van ekonomiese diplomasie is amptelik geïmplementeer.

Tydens ’n mediakonferensie Woensdag by Staatshuis het pres. Geingob terugvoer oor die besoek aan die VSA gegee en gesê hy doen dit in die gees van deursigtigheid en openlikheid.

Kostebesparing

Hy het opnuut gewys op die kostebesparing wat vanjaar teweeg gebring is.

Hy het verduidelik dat hy in die verlede dikwels by die Waldorf Astoria-hotel in Manhatten tuisgegaan het, en toe “normale” tariewe betaal het. Dié keer het die hotel te hore gekom dat Geingob die president van Namibië is en wou hê hy moet US$10 000 per nag betaal. Gevolglik is besluit om eerder ’n woonstel teen ’n koste van US$1 100 (nagenoeg N$15 125) per nag te huur.

Die president se afvaardiging het ook net van een groep bemanningslede aan boord van die president se straler gebruik gemaak om Amerika toe en terug te vlieg. Sodoende is die koste van die bemanning met 50 persent gesny.

Ministers wat die president vergesel het, het nie almal saam gereis nie, maar was in Amerika net vir die duur van geleenthede wat hulle moes bywoon.

Geingob het dit ook duidelik gemaak dat die Namibiese sake-afvaardiging wat hom vergesel het vir hul eie koste aanspreeklik was.

Hy sê die sitting van die Algemene Vergadering van die VN het, benewens die 15 minute wat staatshoofde vir ’n spreekbeurt gegun is, ook waardevolle geleenthede vir skakeling en vergaderings met ander staatshoofde en wêreldleiers gebied.

NETWERK

Tydens die besoek het hy betekenisvolle samesprekings met staatshoofde van onder meer Jamaika, Zambië, Brasilië, Senegal, Kanada, Portugal, Togo en Guiana gevoer. Hy het ook besoek ontvang van die voormalige Finse president, mnr. Marti Ahti­saari, wat in 1989 en 1990 die spesiale verteenwoordiger van die VN se sekretaris-generaal in Namibië was.

Volgens Geingob is die besoek aan Amerika gebruik om die beleid van ekonomiese diplomasie in werking te stel en beleggingsgeleenthede in Namibië aan internasionale vennote te bemark. Hy sê ’n voorvereiste vir volhoubare, inklusiewe ontwikkeling is vennootskappe.

“Regerings alleen kan nie ontwikkeling vir almal bewerkstellig nie,” het hy gesê.

Geingob is ook deur oudpres. Bill Clinton genooi om die Clinton Globale Koalisie se byeenkoms met die tema “Vennootskappe vir Globale Voorspoed” by te woon. Geingob het die geleentheid gebruik om Namibië se saak te bepleit by verskeie welvarende filantrope wat die geleentheid bygewoon het.

Een van die sleutelgeleenthede was ’n voorloper-aanbieding vir die 8-9 November “Belegging in Namibië”-konferensie in Windhoek. Daar is 100 mense verwag, maar uiteindelik het 148 mense opgedaag.

As gevolg van hierdie geleentheid verwag Geingob dat ’n groot Amerikaanse afvaardiging die beleggerskonferensie in November sal bywoon. Hierbenewens het die New Jersey kamer van handel reeds aangedui dat dit aan die begin van 2017 ’n afvaardiging na Namibië sal lei onder die tema: “Namibië – deurgang na SADC.”

In die twee toesprake wat Geingob aan die Amerikaanse universiteite, Columbia en by die Kennedy School of Governance aan Harvard universiteit, gelewer het, het hy onderskeidelik oor grondwetlike demokrasie in Namibië en die nuwe Afrika gepraat.

Verskeie Amerikaanse publikasies het tydens die besoek onderhoude met Geingob gevoer. Dit sluit in dieNew York Times,Wall Street Journal,Bloomberg,The Economist enForbes.

Geingob het ook die versekering gegee dat hy nie vir die onderhoude betaal het of betaling daarvoor ontvang het nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!