President vereer politieke figure
President vereer politieke figure

President vereer politieke figure

Wyle Winnie Madikizela-Mandela en prof. Carlos Lopes het saam met ’n stewige groep Namibiërs erkenning gekry.
Augetto Graig
Augetto Graig

President Hage Geingob het onlangs eerbewyse toegeken aan individue wat betekenisvol bygedra het tot die bevryding van Namibië en tot die land se ontwikkeling en die bevordering van vrede en geregtigheid in Namibië.

Buitelanders wat toekennings ontvang het, sluit in die oorlede presidentsvrou van die buurland Suid-Afrika, me. Winnie Madikizela-Mandela.

“Sy was ’n sterk, vreeslose vrou van Afrika wat deur haar onbaatsugtige optrede ’n toringfiguur in die milieu van die bevrydingstryd was. Me. Winnie Madikizela-Mandela was ’n staatmaker van ons stryd en ’n standvastige anti-apartheidsaktivis wat die voorbeeld van die majesteit van moederskap uitgeleef het,” lui die motivering. Sy is die eersteklas eer van die mees briljante orde van die son toegeken.

Prof. Carlos Lopes van Guinee-Bissau was teenwoordig om sy soortgelyke eerbewys te ontvang. In 2019 is hy deur Geingob aangestel om deel te wees van die hoëvlakpaneel oor die Namibiese ekonomie. Hy het ook ’n groot rol in die vorming van die Namibiese raad vir die bevordering van beleggings en ontwikkeling (NIPDB) gespeel.

Afgetrede luitenant-generaal Daniel Ishmael Opande van Kenia het dieselfde eerbetoon ontvang vir sy leiding van die Verenigde Nasies se oorgangsvredesmag (Untag) in 1989 en 1990. Ná Namibië se onafhanklikwording het hy gehelp om die Namibiese weermag (NDF) uit lede van SWATF en PLAN saam te stel.

Aan generaal-majoor Charles Namoloh is ook die eersteklas orde van die son toegeken vir sy bydrae tot Swapo en later PLAN voor hy in die NDF gedien het. Hy was Namibië se ambassadeur in Angola, die minister van verdediging, die minister van streek- en plaaslike owerheid, die minister van behuising en landelike ontwikkeling en tot 2020 die minister van veiligheid en sekuriteit.

Nog ’n Namibiër wat die eersteklas orde van die son toekenning ontvang het, is die minister in die presidensie verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en ­maatskaplike welsyn, me. Doreen Sioka. Sy word vereer vir haar bydrae tot die onafhanklikheidstryd as die eerste vrou van die Zambezi om in gevegte by die Wenela-grenspos en by die Katima Mulilo- militêre basis in 1977 en 1978 deel te neem.

Later het sy die rol van verpleegster en van onderwyser in Zambië en Angola volgestaan, voor sy ná onafhanklikwording na haar moederland teruggekeer het. Haar bydrae tot die verandering van Swapo se grondwet om geslagsgelykheid in partystrukture te eis, word erken saam met haar werk as adjunkspeaker, en haar werk as minister van arbeid en maatskaplike welsyn.

Mnr. Asser Kapere is ’n ontvanger van dieselfde eer, terwyl me. Anna Shiweda die eersteklas toekenning vir die orde van die arend ontvang het vir haar bydrae tot PLAN se militêre en gesondheidsprogramme. Sy is ’n parlementslid en adjunkminister van landbou, water en bosbou.

Khomas se goewerneur me. Laura McLeod-Katjirua is ook die eersteklas orde van die arend toegeken vir haar deelname in die gewapende onafhanklikheidstryd en haar werk vir Swapo. Me. Eunice Iipinge het dieselfde eer gekry vir haar werk vir PLAN, Swapo se vroueraad en die Namibiese nasionale vroue-organisasie (Nanawo). Sy is ’n parlementslid en president van die Pan-Afrika vroue-organisasie (PAWO).

Aan me. Zenzi Awases is die eersteklas orde van die arend toegeken vir haar leiding van vroue in mynbou en haar bydrae as stigterpresident van die vroue in mynbouvereniging van Namibië (Wiman). Oorlede hoof Sophia Jacobs het ook dieselfde eer ontvang vir haar werk om die lot van San-mense in Namibië te verbeter.

Mnr. Lazarus Guiteb het dieselfde eer ontvang, terwyl me. Teopolina Mushelenga met die tweedeklas orde van die arend vereer is.

Aan brigadier-generaal Martin Shiomba is die eersteklas mees vooraanstaande orde van Namibië toegeken saam met afgetrede kolonel Elly Shilomboleni, afgetrede luitenant-kolonel Elia Ambambi en afgetrede majoor Gideon Amakali. Me. Anne Gebhardt het dieselfde eer ontvang saam met mnr. Ignatius Uhuru Dempers en me. Elina Ndapuka.

Aan mnr. Dawid Boois is die derdeklas orde van Namibië toegeken saam met mnr. Jonas Hedimbi en oorlede mnr. Alfons Dikuua. Me. Georgina Mwiya-Simataa is ook met die derdeklas orde van Namibië vereer, saam met me. Theresia Basson en me. Annelise Angula.

Aan me. Selma Hausiku-Mpasi is die vyfdeklas orde van Namibië toegeken saam met me. Constanzia Tlhabanello, me. Tuulikki Uule, mnr. David Muluti, me. Teckla Lameck en wyle mnr. Joel Tjijahura.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!