Presidente baklei wyl Amasone brand
Bolsonaro beskuldig Macron daarvan dat hy by hom as onafhanklike land wil inmeng, volgens The Guardian.
Terwyl presidente Jair Bolsonaro van Brasilië en Emmanuel Macron van Frankryk soos twee skoolseuns baklei oor foto’s van elkeen se vrou en daar verskonings geëis word, brand die Amasone-woud voort.
Bolsonaro weier nou om hulp van US$22 miljoen vir die Amasone te aanvaar, berig die BBC. Voordat hy hulp “vir die wêreld se longe” sal aanvaar, eis hy nou eers ’n verskoning omdat Macron gesê het Bolsonaro het gelieg oor sy pogings om klimaatsverandering te beveg.
Die bekgeveg het begin nadat Bolsonaro saam geskerts het oor verwysings na hoe Macron se vrou, Brigitte, lyk. Sy is 25 jaar ouer as hy. Hy het op Facebook by ’n verwysing na Brigitte geskryf: “Moenie die ou (Macron) verneder nie” en “Treurig”.
Macron het by navraag gesê hy vind die aanmerkings “buitengewoon ongeskik”.
In nog ’n verwikkeling het Onyx Lorenzoni, Bolsonaro se stafhoof, Macron gespot dat hy nie eens ’n voorspelbare brand in die Notre Dame-katedraal kon voorkom nie en dan wil hy hom bemoei met die brande in Brasilië, berig Globo volgens die BBC.
Bolsonaro beskuldig Macron volgens The Guardian daarvan dat hy by hom as onafhanklike land wil inmeng deur te wil help met die Amasone-krisis. Sy veiligheidshoof, genl. Augusto Heleno, praat van Macron se “betreurenswaardige kolonistiese houding”. Hy sê verder dat 90% van Franse oudkolonies in ’n jammerlike toestand is.
Tussen hierdie bekgevegte deur woed ’n rekordgetal brande in die Amasone. Daar is volgens satellietbeelde 80% meer brande as verlede jaar.
Daar word beweer boere het die brande gestig nadat Bolsonaro gesê het landbou geniet voorkeur.
Bolsonaro, wat die finansiering van Brasilië se omgewingsagentskap met 95% gesny het, sê nou die land het nie hulpbronne om die brand te beveg nie.
Bolsonaro het Vrydag onder wêrelddruk toegegee en die weermag ingestuur om die brande te bestry. Militêre operasies word nou in sewe state uitgevoer om die brande te bestry en omgewingsmisdade te voorkom.
Die brande woed volgens Reuters nie net in Brasilië nie. ’n Stuk van sowat 10 000 km² van die woud in Bolivië brand ook naby dié land se grens met Brasilië en Paraguay. – Netwerk24/Reuters, The Guardian en BBC, verwerk

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie