Presidentsvrou dagvaar IPC-partylid
Presidentsvrou dagvaar IPC-partylid

Presidentsvrou dagvaar IPC-partylid

’n Onderwyser het onder meer beweer me. Monica Geingos was by die ineenstorting van Air Namibia betrokke.
Andrew Poolman
Henriette Lamprecht

Die presidentsvrou, me. Monica Geingos, eis duisende van ’n onderwyser en partylid van die Independent Patriots for Change (IPC) vir lasterlike aantygings wat hy teenoor haar oor onder meer haar verhouding met James Hatuikilipi en haar beweerde aandele in WestAir Aviation gemaak het.

Abed Linoovene (Bishop) Hishoono, ’n onderwyser by die Elao Gekombineerde Skool en ook ’n aktivis vir die IPC in die Ohangwenastreek, moet haar ook “onvoorwaardelik” verskoning vra en die beweringe terugtrek.

Hy het tussen 12 en 16 Februarie vanjaar in ’n stemboodskap wat wyd versprei is, volgens Geingos verskeie “vals gerugte, insinuasies en verklarings” oor haar gemaak.

Onder meer is gesê sy was “in die geheim” betrokke by die ineenstorting van Air Namibia deur haar sakebelange in WestAir Aviation; dat sy “op korrupte wyse en onvanpas” besluite met betrekking tot die beplande likwidasie van Air Namibia beïnvloed het om haar eie ekonomiese belang te beskerm en te bevorder; dat sy ’n huidige aandeelhouer in WestAir Aviation is en ’n sentrale figuur was in die stigting van die maatskappy.

Hishoono het ook verwys dat Geingos romanties betrokke was en ’n seun het by ene “Hatuikulipi” wat tans in die tronk is. Hatuikulipi was glo ook “op ’n manier betrokke by die reëling” van Geingos se huwelik met die Namibiese president Hage Geingob.

Geingos se verklaring haal Hishoono woordeliks aan, dat hy sou gesê het: “Hatuikulipi is die een wat aan die president ’n vrou gegee het. Die einste en enigste Monica wat sy meisie was en saam met wie sy selfs ’n kind gehad het, ’n ten volle opgegroeide seun van 20 jaar. Hoe kan jy tot so ’n vrou verbind wees, om by jou as president aan te sluit?

“Aan wie behoort WestAir? Dit behoort aan Monica. Wie se vrou is Monica? Sy is Geingob se vrou. Deur wie aan hom gegee? Deur Hatuikulipi. Waar is Hatuikulipi? Hy is in die tronk. Welkom in Namibië. Dit is hoe dinge is.”

Geingos sê bogenoemde uitlatings is lasterlik en was bedoel om te beteken sy is korrup, gierig, selfsugtig, dat sy haar eie belange bo die belange van Namibiërs stel, dat sy saamgesweer het met sekere individue om op korrupte en onvanpaste wyse om Air Namibia ineen te laat stort en dat sy op korrupte en onvanpaste wyse haar invloed tot nadeel van Namibiërs gebruik.

Die lasterlike beweringe het volgens die presidentsvrou die “uitsluitlike doel” gehad om haar aansien en waardigheid in die oë van Namibiërs en die buiteland te skaad.

Geingos sê in hofdokumente die bewerings is vals, het geen feitelike grondslag nie en is gemaak deur Hishoono wat sy politieke posisie en sy posisie as onderwyser gebruik het om geloofwaardigheid daaraan te gee.

Die presidentsvrou eis dat Hishoono onvoorwaardelik die aantygings terugtrek, vergoeding van N$350 000 betaal en dat hy haar binne vyf dae van die hofbevel om verskoning vra.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer