Presisieboerdery is die enigste opsie
Presisieboerdery is die enigste opsie

Presisieboerdery is die enigste opsie

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – “Presisieboerdery is nie die beste opsie vir volhoubare boerdery nie, dit is die enigste opsie vir die toekoms. Produsente se winsgewendheid is onder druk en die enigste manier om dit te verbeter, is om die logiese doeltreffendheid en produktiwiteit van jou vee te verhoog.”
Akademikus, kenner en navorser van presisieboerdery, dr. Jasper Coetzee, het tydens die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) se kongres boere van presisieboerdery geleer. Coetzee het meer as 42 jaar ondervinding in die bedryf, waartydens hy onder meer as wetenskaplike navorser, lektor, tegniese direkteur by ‘n voermaatskappy en ook ‘n konsultant vir boere was.
“Die gewilligheid van ‘n boer om nuwe tegnologie te gebruik, gaan sy winsgewendheid in die toekoms bepaal. Die nuwe tegnologie sluit wetenskaplike toerusting, nuwe voeding en nuwe seleksiemetodes in.
“Moet egter nie dink jy kan net in nuwe tegnologie induik nie. Jy moet eers die basiese korrek hê. Dit beteken jy moet jou kudde evalueer en moontlik ‘n omkeerstrategie uitwerk.
“Mense vra my dikwels wanneer die beste tyd is om met presisieboerdery te begin. Jy moes al twintig jaar gelede daarmee begin het. Die naasbeste tyd is vandag.”
Coetzee sê die klem in presisieboerdery lê op beter produktiwiteit en doeltreffendheid.
“Produktiwiteit verwys na die kilogramme wat per ooi of koei geproduseer word. Ons kan egter nie net na produktiwiteit kyk nie, maar moet ook na doeltreffendheid kyk. Dit behels hoeveel kilogram lam per ooi-massa, of kg kalf per koei-massa geproduseer word.
“Ons kan nie meer die koeie al groter maak en die kalwers word nie swaarder nie. Dan boer jy nie produktief nie en gaan jy nie geld maak nie.”


Maniere om winsgewendheid te verbeter
Coetzee sê ‘n landbouprodusent se hoofwinsdrywer is vleisproduksie per hektaar per jaar.
“Jy verhoog dit deur jou speenpersentasie te verhoog en terselfdertyd die groei van die lammers en kalwers te verbeter. Koste moet ook verminder word en dit is waar presisieboerdery inkom, want dit kan byvoorbeeld arbeidskoste en voeding bespaar,” sê hy.
“Presisievoeding help om die potensiaal van jou diere te ontsluit. Dis een van die probleme – boere het diere met hoë genetiese potensiaal, maar ontsluit dit nie en om daardie rede maak hulle nie maksimum wins nie.
“Presisieboerdery is nie die beste opsie vir volhoubare boerdery nie, dit is die enigste opsie vir die toekoms,” sê Coetzee.
Volgens hom behels presisieboerdery ‘n holistiese benadering wat op alle fasette van ‘n boerdery geïmplementeer word: Weiding, algemene bestuur, voeding, seleksie en teling van diere.
“Ons moet die gevorderde tegnologie wat beskikbaar is, begin gebruik. Ons wil die diere wat hoë genetiese potensiaal het, druk om meer geld vir ons te maak. Ons verlaag die insetkoste op die diere met die lae potensiaal.”
Coetzee het die voorbeeld van ‘n mielieboer geneem wat hoë en lae potensiaal grond het en wat mielies digter op die beter grond plant. “Jy kan meer kunsmis gee en meer insekdoder spuit omdat jou opbrengs op die grond baie hoër is. Vir die lae potensiaal sit jy minder in, omdat jou opbrengs swakker is.
“Dieselfde geld vir beeste en skape. Ons kan nie vir ‘n koei wat 'n 180 kg kalf produseer, dieselfde hoeveelheid lek gee as ‘n koei wat ‘n kalf van 250 kg produseer nie. ‘n Ooi wat een lam produseer, moet minder kos kry, want sy is van ‘swakker gehalte’ as ‘n ooi wat ‘n tweeling produseer.”
Die Australiërs pas dit reeds toe.
“Hulle bou ‘n gangetjie met ‘n skandeerder waardeur die ooie moet gaan om water te drink.
“As die ooi inkom en die rekenaar tel op sy is nie dragtig nie, laat hy haar net deurgaan om water te drink. As die ooi met ‘n eenling dragtig is, word sy uitgekeur om goedkoper, maar minder lek en water te kry. Die ooi wat met ‘n tweeling dragtig is, kry duurder of beter gehalte lek.”


Vóór jy met presisieboerdery begin
Coetzee sê produsente moet egter die basiese dinge reg hê voor hulle met presisieboerdery kan begin.
“Daar is verskeie boere in Namibië wat dit nog nie reg het nie. Jy moet akkuraat rekord hou en jou boerdery evalueer, sodat jy ‘n omkeerstrategie kan toepas. So kan jy vasstel waar jou tekortkominge lê en ‘n strategie uitwerk hoe jy die nuwe tegnologie kan implementeer – stapsgewys, soos jou begroting dit toelaat.
“Elektronika het in die veebedryf posgevat en dit gaan nie verdwyn nie. Dit ontwikkel so vinnig dat boere amper nie kan bybly nie.”
Coetzee sê ‘n swak boer kan nie nuwe tegnologie gebruik en dink hy gaan ‘n beter boer word nie.
“Wat presisieboerdery betref, is daar twee dinge wat jy eers moet doen: Jy moet ‘n hoogs vrugbare en korrektiewe kudde ontwikkel (‘n skaap en beeskudde) en dan moet jy die potensiaal van die kudde ontsluit.”
Coetzee het dit vergelyk met iemand wat ‘n agtsilinder voertuig koop en net in die stad ry. “Dit is hier waar skaapboere in Suid-Afrika en Namibië ‘n fout maak – hul kuddes is nie hoogs vrugbaar en -produktief nie.
“As jy jou kudde na ‘n skaapkamp skuif of lek voer en jy kry nie 40% meer lammers nie, is dit omdat jy nie die ooie volgens hul genetika geselekteer het om meer eierselle af te skei nie.
“Telers bly hamer op fenotipiese voorkoms – slegs bouvorm word ingereken en hulle vergeet van reproduksie. Dit is egter waar jou geld lê,” het hy gesê.


Ontwikkel só hoogs vrugbare kudde
Volgens Coetzee moet telers begin om vir kopers beraamde teelwaardes te verskaf. “Die beestelers het in die opsig al verder as skaaptelers gevorder. Ons moet ramme gebruik wat uit hoogs vrugbare kuddes kom.
“Alle onproduktiewe diere moet uitgegooi word. Onproduktiewe diere word deur presisieboerdery geïdentifiseer en hulle kry goedkoper kos (laer insetkoste), anders maak die boer nie meer wins nie.”
Coetzee sê ‘n hoogs vrugbare ooi is een wat vir minstens drie agtereenvolgende jare tweelinge gee. “In presisieboerdery word dié hoogs vrugbare ooie eenkant in ‘n elite-kudde geplaas. Ooie wat in hul eerste lamseisoen reeds tweelinge gee, het die genetiese potensiaal om hoogs vrugbaar te wees. Hulle word met ‘n hoogs vrugbare ram gepaar.”
Coetzee sê ‘n hoogs vrugbare ram word deur middel van hul ma se lamrekord geïdentifiseer. “‘n Hoogs vrugbare ram se ma is ook hoogs vrugbaar. Telers moet die inligting aan kopers kan verskaf.”
Hy het na ‘n ram verwys wie se ma vier jaar ná mekaar gelam het – die eerste jaar het sy ‘n tweeling gekry, die twee daaropvolgende jare drielinge en daarna ‘n eenling. Oor vier lamseisoene was haar vrugbaarheidsindeks 2,25. Die ideaal is egter 2,5 tot 2,7 en verkieslik nie onder 2 nie.
Coetzee het ook ‘n voorbeeld van ‘n tweede ram gebruik, wie se ma haar eerste twee teelseisoene oorgeslaan het en toe die derde jaar ‘n tweeling gehad het. Die ram se vrugbaarheidsindeks staan dus op 0,75.
“As jy nie hierdie hoogsvrugbare diere koop nie en lek moet gee, gaan jy nie genoeg lammers kry om die lek te betaal nie, want jou ooie reageer nie daarop nie omdat hulle nie die genetiese vermoë nie.”


Hoe word genetiese potensiaal ontsluit?
Gebruik die nuutste inligting, praktyke en tegnologie tesame met presisievoeding om jou diere se genetiese potensiaal te ontsluit.
“Gebruik deurvloei-proteïen. Dit is proteïen wat deurvloei na die melkpens, waar dit in aminosure omgeskakel word. Net aminosure kan gebruik word om die dier se spiere te laat groei, dit melk te laat produseer, eierselle afskei en spermselle te laat ontwikkel,” het Coetzee gesê.
Presisieboerdery raak ook jou weidingbestuur.
“Alle fasette van jou boerdery moet na presisieboerdery oorgaan. Dit beteken jy moet ‘n weidingkundige kry wat vir jou ‘n weidingsalmanak opstel. Dit is een van die eerste stappe in presisieboerdery – om jou veldbestuur reg te kry.”
Coetzee sê die Australiërs het in die opsig reeds ver gevorder. Hulle maak van satelliete gebruik wat foto’s van hul weiding neem en ‘n rekenaarprogram wat uitwerk hoeveel kilogram droë materiaal op die veld is, wat die drakrag is en ook vir jou wys as jy jou diere moet skuif.
Hy het ook gesê skaapboere moet van ‘n bestuursprogram gebruik maak.
“Ons het reeds plaaslik programme beskikbaar wat vir jou aandui wanneer jy wat moet doen. Byvoorbeeld, sou jy jou ooie volgende week wou laat dek, sou die program ongeveer ‘n maand gelede reeds vir jou aangedui het dat jy jou ramme vir fiksheid en vrugbaarheid moes laat toets het en vir hulle voer gee. Die program sou ook drie weke gelede vir jou gewys het dat jy vir jou ooie ontwikkelingsvoeding moet gee en koggelramme tussen hulle moes plaas.
“Prikkelvoeding en koggelramme werk saam. Jy het nie ‘n keuse nie, jy moet koggelramme gebruik. As jy die twee saam gebruik, kry jy hoë lampersentasie, mits jy hoë libido koggelramme gebruik.
“‘n Hoë libido koggelram is nie ‘n dorperram nie – dit is ‘n inheemse ram – ‘n swartkoppersie, ‘n Van Rooy of ‘n Damaraskaap.”
“Die tipe bestuursprogramme wys vir jou alles – ook wanneer jy moet ent. Jy kan nie meer daarsonder boer nie,” het Coetzee gesê.


Vet diere nie noodwendig onvrugbaar
Coetzee sê die skakelaar vir eierselafskeiding is vet.
“Dit is nie heeltemal reg om te sê oorvet koeie gaan nie kalf nie. Dikwels is koeie of ooie juis oorvet omdat hulle nie gekalf of gelam het nie en jy hulle toe nie uitgegooi het nie.
“‘n Vet dier is nie noodwendig onvrugbaar nie, maar alle onvrugbare diere is vet.
“Vetheid dryf produksie.”
Coetzee sê ooie wat vet is, se lampersentasie kan baie goed wees, mits jy vir hoogs vrugbare ooie geselekteer het. “Jy kan diere voer, maar dan moet die ooi vir jou ‘n lam gee. As jy haar nie reg selekteer nie, gaan jy jou bankrot voer.”
Coetzee sê ook daar word weg beweeg daarvan om skape te voel en so vas te stel hoe vet hulle is.
“In Nieu-Seeland gebruik hulle toerusting wat ‘n skaap se kondisie presies meet. Die skaap stap deur ‘n apparaat wat sy vetheidsgraad lees en ‘n wetenskaplike metode word gebruik word om sy kondisie te bepaal, sonder dat jy hoef te raai.
“Dieselfde wat gradering betref – in Australië het hulle ‘n ultrasoniese apparaat wat vetdikte direk en akkuraat meet en jy gradeer daarvolgens.”


Nuwe tegnologie
Nuwe tegnologie staan sentraal in presisieboerdery. Coetzee het ‘n paar voorbeelde hiervan genoem.
“Herwinbare elektroniese oorplaatjies word deesdae gebruik. Dit bevat ‘n rekenaarskyfie wat met ‘n elektroniese leesstok gelees kan word. Die plaatjie bevat inligting oor die dier se nommer, wie sy ma en pa is, sy ouderdom, entings en nog vele meer.”
Coetzee sê die oorplaatjies maak rekordhouding ook maklik en die boer hoef nie die heeltyd alles neer te skryf nie. Rekenaars kan met die plaatjie inligting outomaties versamel.
“In Australië gebruik hulle reeds dié tegnologie en dit behoort plaaslik binne vyf jaar in die mark te wees. As jou diere elektroniese oorplaatjies het, maak jy ‘n gangetjie waardeur hulle moet loop om water te gaan drink. ‘n Skandeerder word in die gangetjie geplaas en as die ooi met haar oorplaatjie verbyloop, tel die skandeerder die skape self.
“As jy byvoorbeeld ‘n skaal in die gangetjie plaas, word die dier geweeg elke keer as hy gaan water drink. Sekere skale kan ook diere uitkeer en vir jou in groepe sorteer.
“Jy kan by die huis sit en met die rekenaar instruksies vir die skaal stuur om diere uit te keer. Dit is veral handig as jy byvoorbeeld spesifieke skape wil verkoop of moet doseer. Jy kan ook deur middel van die skaal op jou rekenaar monitor as diere byvoorbeeld gewig verloor en dalk siek is en hulle ook uitkeer,” het Coetzee gesê.
Volgens Coetzee weeg hulle in Australië tot 500 lammers in ‘n uur met die nuwe elektroniese skale.
Hy het ook gepraat oor hanteringstoerusting, soos byvoorbeeld ‘n vervoerband vir skape waarop hulle geweeg, doseer, geënt of omgedop word sodat hulle gekastreer kan word. Volgens hom kan die apparate oor twintig jaar die norm van skaapboerdery word.
Hy het ook na ‘n elektroniese doseerspuit verwys.
“In die praktyk skat julle jul skape se gewig en doseer almal op grond van die skatting.
“Die elektroniese spuit werk saam met ‘n elektroniese skaal. Sodra die skaap inkom, weeg die skaal hom en druk hom vas. Dit stuur die gewig met bluetooth na die elektroniese spuit, wat presies die regte hoeveelheid medisyne uitspuit. Dit alles gebeur in sekondes.”
Coetzee het na meer toerusting gewys waar skape op ‘n mat in die drukgang gaan staan. Die mat werk met lugdruk en tel die skape op sodat hulle hang. “Dan kan jy hulle makliker ent of doseer en kan hulle nie met jou spook nie. Op die manier kan jy 700 skape in ‘n uur doseer, waar boere voorheen in ‘n hele dag net sowat 1 000 skape kon doseer.”
Volgens Coetzee word kameras ook ingespan om watervlakke in krippe en tenke te monitor. Jy kan dan ook van die huis af pompe aan- en afskakel. Hommeltuie word ook ingespan om oor mielies te vlieg en vir insekte of siektes te kyk en om veediefstal te bekamp.


Intensiewe boerdery
Coetzee sê deur presisieboerdery kan jy arbeidskoste laag hou – veral in voerkrale, waar voeding al meer geoutomatiseerd word.
“In intensiewe skaapboerdery word byvoorbeeld twee halfton silo’s in die dak geplaas. Die voermaatskappy kom laai die voer af. Die pille word outomaties gevoer, maar elke ooi kry nie dieselfde hoeveelheid nie. Dis waar presisievoeding inkom.
“Ons voer die ooie volgens hul massa en die aantal lammers wat hulle het. Sommige ooie sal dus 1 kg kos kry, ander 2 kg en ander 3 kg,” het Coetzee gesê.
As die silo’s leegraak, stuur hulle self ‘n boodskap na die voermaatksappy om weer kos te kom aflewer. Die elektriese motor pomp die voer uit – as die bakke leeg raak, word dit weer volgemaak – alles is outomaties en geen mens is hierby betrokke nie. Arbeid word uitgesny – as kostebesparing.


Deurvloei-aminosure
Proteïen bestaan uit 24 aminosure. By skape is die belangrikste deurvloei aminosure metionien en lisien – dit is die beste vir melkproduksie by beeste en veral skape, sê Coetzee.
“Lusern het nie baie hiervan nie en vismeel is loshande die beste, maar jy mag dit in sekere plekke nie gebruik nie.
“Ons behandel dus hierdie proteïenbronne sodat dit minder in die grootpens (rumen) afbreek. Dan kry ons meer benutbare metionien en lisien. Ons meng dit in sekere verhoudings met byvoorbeeld sonneblom en soja en dan kan ons die aminosuur vir die skaap gee.
“Met die nuwe inligting het ons begin om nuwe lek vir ooie te ontwikkel – ons noem dit opstoom lekke wat ooie so veel as moontlik melk laat produseer. As ons hierdie lekke vir skape voer, lam die ooie makliker, ontwikkel hul uiers beter, produseer hulle beter melk en kry jy hoë lamprestasie.”
Coetzee het ook vertel hoe hulle tydens proewe met lek dit reggekry het dat ooie met enkelinge so baie melk gehad het, dat hulle uitgemelk moes word.
“‘n Ooi moet soos ‘n melkkoei melk gee om die volle potensiaal van haar lam te kan ontwikkel. Julle lammers groei onder 200 g per dag, hulle kan egter dubbel dit groei as die melkproduksie verhoog word.”
Hy het ook gesê ná drie tot vier weke begin die ooi se melkproduksie sak en die lam se behoefte aan kos neem toe. “Hy kan dan nog nie grasvoeding verteer nie, dus moet ons kruipvoeding gee.”
Coetzee het vertel van ‘n geval in die Kaap waar ‘n boer ‘n hanslam wat hy aan ‘n koei laat suip het, huis toe gebring het.
“Toe hulle sy maats speen, weeg hulle gemiddeld 38 kg en die hanslam weeg 76 kg – twee keer meer as die ander omdat hy maksimum melk ontvang het. Dit is die potensiaal wat ons in ‘n lam kan ontsluit, maar ons doen nie, want ons ooie word nie reg gevoer nie.”


Hoekom is voerkraallammers nie betalend?
“Om terug te kom na julle op die plaas. ‘n Oudkollega van my het proewe oor die doeltreffendheid van ooie vóór en ná lamming gedoen. Die een ooi het 80 kg voer opgevreet en drie weke ná lamming het haar lam 23 kg geweeg. Vir elke 3,5 kg wat se gevreet het, het sy ‘n 1 kg lam geproduseer. As jy dit geld omsit – vir elke N$1 wat jy in voer insit, gee die ooi vir jou N$2 terug.
“In dieselfde groep was daar egter ooie wat 7 kg gevreet het en net 1 kg lam produseer het. Dus het sy net twee sent teruggegee op elke N$1 wat jy vir voer betaal het. Hierdie ooie kan jy nie voer nie, dit is nie betalend nie.”
Coetzee het ook verduidelik hoe dié ondoeltreffende voeromsetters nie geld vir voerkrale maak nie. “As die ma ‘n swak voeromsetter is, is die lam ook. Die lam eet 10 kg voer en tel 1 kg op. As voer N$4 per kg kos, eet die lam NS40 se voer om 1 kg in gewig op te tel, wat nie winsgewend is nie.”
Die meeste lammers wat van voerkrale in die ekstensiewe gebiede gekoop word, word reeds op sewe of agt maande gespeen. Hul voeromsetting is 8:1.
“Neem byvoorbeeld – ek koop ‘n lam by jou, en hy is sewe of agt maande oud. Ek sit hom in die voerkraal en hy vreet agt kilogram voer (of N$32) vir elke kg wat hy optel. Ek kry N$26 per kg. Met elke kilogram wat hy dus verder optel, verloor ek N$6.”


Kruipvoer vir beter voeromsetting
Coetzee meen boere moet lammers met behulp van kruipvoer vroeër speen en sodoende hul voeromsetting verhoog.
“Gee jou lammers kruipvoer en speen hulle onder 90 dae – ideaal tussen 65 en 84 dae. Dié lammers se voeromsetting is so goed dat jy N$10 maak vir elke kg wat hy in die voerkraal optel.”
Coetzee sê dit werk só:
“’n Goed ontwikkelde rumen by lammers word verkry deur grane en konsentrate vir hulle te voer – wat in kruipvoer ingesluit word. Lammers met ‘n goed ontwikkelde rumen kan vroeër gespeen word, vinniger vaste kos hanteer en sal hul gewig kan verbeter.
“As die droogte kom, kan die lammers op agt weke gespeen word en voerkrale toe geskuif word. Jy sal steeds geld maak, omdat hulle goed ontwikkelde rumens het.”
Hy het ‘n ooi as voorbeeld geneem wat in ‘n gebied loop waar dit net 142 mm gereën het. “Die ooi het supperlammer-ooilek gekry en die lammers kruipvoer. Op dag 92 het die een lam 34,5 kg en die ander een 36 kg geweeg. Saam het hulle 98% van die ooi se massa geweeg.
“Die doel is dat jou ooi op jou plaas op 100 dae haar eie gewig in die vorm van ‘n lam kan gee. Jy kan dit net regkry as jy selekteer vir ‘n ooi om meer eierselle af te skei.
“Vir elke N$1 wat jy aan kruipvoer bestee, kry jy N$2 of selfs N$3 terug, afhangende van die potensiaal van jou lammers.”
“Ek is betrokke by ‘n voerkraal waar ons jaarliks 80 000 lammers afrond. In die kraal moet ‘n lam 220 g ‘n dag groei om vir die koste te betaal. Daar kom lammers in wat 400 g tot 450 g ‘n dag groei. Ander kom in en groei aanvanklik goed, maar daarna minder as 220 g per dag. As ‘n lam minder as dit groei, voer jy teen ‘n verlies.
“Dieselfde gebeur in Australië, daar is lammers wat daagliks 560 g groei. Die swak groeiers hou ons 60 tot 80 dae in die voerkraal. Jy kan egter nie ‘n swak lam ‘reg voer’ nie.”


Watter skape selekteer ek om geld te maak?
Die meeste produsente het duisende skape en kan nie elke lammetjie wat gebore word, weeg nie.
“Die Australiërs maak so – die ooie het elektroniese oorplaatjies in en sodra die lammers gebore word, kry hulle dit ook. Hulle loop deur ‘n gang om te gaan water drink en haar lammetjie volg. Die skandeerder lees haar nommer en die van die lam. Vir vier tot ses weke word dit só gelees – die voorste nommer is die ma en die nommer wat volg is die lam.
“Die inligting oor watter lammers aan watter ooi behoort, is tot 90% akkuraat. Boonop word die lammers ook geweeg en weet hulle hoeveel produseer elke ooi. Op die manier het hulle in Australië vasgestel die beste ooie bring tot vyf keer meer geld as die swakstes in.”
Coetzee sê hierdie is die ooie wat jy vir jou elite kudde uitkies.
“Jy vind jou doeltreffendste ooi deur uit te werk watter een die meeste geld inbring per kg wat sy weeg. ‘n Ooi vreet 4% van haar liggaamsmassa en as jy dus meer doeltreffende ooie aanhou, kan jy meer ooie op dieselfde hoeveelheid kos aanhou.
“Gooi die swakstes uit en kruisteel met die res.”
Coetzee sê jou beste ooie moet nie net op ouderdom uitgeskop word nie. “Jy moet slegs op grond van produksie uitskop as haar tande, kloue en uier nog reg is – al word jou toppresteerder ooi vyf of ses jaar oud. Toppresteerderooie word nog sowat twee jaar langer gehou.
“Dit beteken jy bring minder jonger ooie in jou kudde in en kan strenger selekteer. Jou jong ooie se lampersentasie is minstens 20% laer as dié van die ouer ooie. Dit lei tot ‘n beter lampersentasie.” Vir meer inligting kan boere hom kontak (0833 86 83 82 & [email protected]).

Kommentaar

Republikein 2024-10-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 35° Eenhana: 22° | 35° Oshakati: 22° | 35° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 31° Otjiwarongo: 17° | 33° Omaruru: 16° | 34° Windhoek: 17° | 30° Gobabis: 20° | 31° Henties Bay: 12° | 18° Wind speed: 23km/h, Wind direction: S, Low tide: 08:15, High tide: 02:25, Low Tide: 20:44, High tide: 14:39 Swakopmund: 12° | 16° Wind speed: 26km/h, Wind direction: SW, Low tide: 08:13, High tide: 02:23, Low Tide: 20:42, High tide: 14:37 Walvis Bay: 12° | 20° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 08:13, High tide: 02:22, Low Tide: 20:42, High tide: 14:36 Rehoboth: 16° | 32° Mariental: 16° | 33° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 34° Lüderitz: 12° | 21° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 19° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 16° | 31° Lubumbashi: 16° | 33° Mbabane: 9° | 28° Maseru: 14° | 28° Antananarivo: 12° | 28° Lilongwe: 17° | 25° Maputo: 15° | 28° Windhoek: 17° | 30° Cape Town: 14° | 21° Durban: 13° | 24° Johannesburg: 15° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 15° | 30° Harare: 14° | 27° Currency: GBP to NAD 22.86 | EUR to NAD 19.14 | CNY to NAD 2.48 | USD to NAD 17.64 | DZD to NAD 0.13 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.28 | EGP to NAD 0.35 | KES to NAD 0.14 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.65 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.11 | RUB to NAD 0.18 | INR to NAD 0.21 | USD to DZD 133.1 | USD to AOA 909.05 | USD to BWP 13.35 | USD to EGP 48.54 | USD to KES 128.5 | USD to NGN 1654.69 | USD to ZAR 17.64 | USD to ZMW 26.64 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index Same 0 | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1855.02 Up +0.33% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 13834.74 Down -0.75% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 30545.11 Down -0.13% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 674.71/OZ UP +0.53% | Copper US$ 4.35/lb UP +0.75% | Zinc US$ 3 079.80/T UP 0.02% | Brent Crude Oil US$ 74.56/BBP DOWN -0.0062 | Platinum US$ 993.84/OZ UP +0.99% Sport results: Weather: Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 35° Eenhana: 22° | 35° Oshakati: 22° | 35° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 31° Otjiwarongo: 17° | 33° Omaruru: 16° | 34° Windhoek: 17° | 30° Gobabis: 20° | 31° Henties Bay: 12° | 18° Wind speed: 23km/h, Wind direction: S, Low tide: 08:15, High tide: 02:25, Low Tide: 20:44, High tide: 14:39 Swakopmund: 12° | 16° Wind speed: 26km/h, Wind direction: SW, Low tide: 08:13, High tide: 02:23, Low Tide: 20:42, High tide: 14:37 Walvis Bay: 12° | 20° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 08:13, High tide: 02:22, Low Tide: 20:42, High tide: 14:36 Rehoboth: 16° | 32° Mariental: 16° | 33° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 34° Lüderitz: 12° | 21° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 19° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 16° | 31° Lubumbashi: 16° | 33° Mbabane: 9° | 28° Maseru: 14° | 28° Antananarivo: 12° | 28° Lilongwe: 17° | 25° Maputo: 15° | 28° Windhoek: 17° | 30° Cape Town: 14° | 21° Durban: 13° | 24° Johannesburg: 15° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 15° | 30° Harare: 14° | 27° Economic Indicators: Currency: GBP to NAD 22.86 | EUR to NAD 19.14 | CNY to NAD 2.48 | USD to NAD 17.64 | DZD to NAD 0.13 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.28 | EGP to NAD 0.35 | KES to NAD 0.14 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.65 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.11 | RUB to NAD 0.18 | INR to NAD 0.21 | USD to DZD 133.1 | USD to AOA 909.05 | USD to BWP 13.35 | USD to EGP 48.54 | USD to KES 128.5 | USD to NGN 1654.69 | USD to ZAR 17.64 | USD to ZMW 26.64 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index Same 0 | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1855.02 Up +0.33% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 13834.74 Down -0.75% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 30545.11 Down -0.13% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 674.71/OZ UP +0.53% | Copper US$ 4.35/lb UP +0.75% | Zinc US$ 3 079.80/T UP 0.02% | Brent Crude Oil US$ 74.56/BBP DOWN -0.0062 | Platinum US$ 993.84/OZ UP +0.99%