Pretorianer lei rower-jaagtog op Swakop

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die bloedstollende gille van ‘n Windhoekse sakevrou wat omstreeks eenuur gistermiddag op die strand op Swakopmund deur twee mans met messe aangeval is, het uiteindelik drie van die bendelede se turf laat sit.

Me. Andriëtte Lucks (45) het langs Strandweg op een van die bankies gesit en oor die see uitkyk toe sy aangeval is.

“Ek het met my suster oor die foon gepraat en gesien twee mans kom aangestap. Naby my het hulle uit mekaar beweeg, met die een wat voor die bankie verbystap en die ander een agterom.

“Ek sien toe die een voor my het ‘n mes in sy hand. Ek het dadelik op die sand in ‘n bondel gaan sit en my hande om my knieë geklem om my lyf te beskerm. Die man aan my agterkant het my met ‘n mes oor my rug gesny. Hulle het my handsak gegryp, maar ek het verwoed aan my selfoon vasgeklou. In die proses is ek ook aan my voorarm gesteek. My suster, met wie ek gepraat het, het die bloedstollende gille gehoor, maar natuurlik nie besef wat aangaan nie,” vertel Lucks.

Intussen het ‘n jong Pretorianer, mnr. D.C. Roux (27), en sy vriendin in Strandweg by Lucks verbygery en haar hoor gil.

“Ek het iemand vreeslik hoor skree en my meisie wys toe vir my daar hardloop drie mans, die twee wat haar aangeval het en een wat ‘n ent weg gestaan het.

“Hulle het in ‘n goudkleurige Toyota Run-X gespring waarin nóg drie mans was. Die tannie het agter hulle aangehardloop en steeds die heeltyd geskree,” vertel Roux.

Lucks sê sy was omtrent dieselfde tyd as die rowers by hul wegkomvoertuig.

“Toe ek weer sien, het ek langs die bestuurder se deur gestaan. Maar wat kon ek doen? Een ding het ek darem reggekry, en dit was om al die mense langs Strandweg uit hul huise te gil. Die kans is groter dat my keel môre seer gaan wees as dat my arm gaan pyn,” het sy skertsend uit die hospitaal vertel.

EMed Rescue 24 en lede van die buurtwag was baie vinnig op die toneel, sê sy.

Roux het intussen die vlugtende rowers agternagesit.

“Ek het seker vir ses of sewe minute agter hulle aangejaag. Ander mense het besef wat aangaan en ook agter hulle aangejaag. Ons was later seker drie voertuie wat hulle agtervolg het,” vertel hy.

Roux sê toe die vermeende rowers besef hulle is besig om die stryd te verloor, het hulle stilgehou en vier het uitgespring en weggehardloop.

“Ons het drie gevang, maar die ander het weggekom.”

Dit blyk hulle het uit die dorp probeer vlug en het uiteindelik naby die Shell-diensstasie langs die Hentiesbaaipad stilgehou en weggehardloop.

Roux, wat elke jaar saam met sy ouers op Hentiesbaai vakansie hou, meen nie hy is ‘n held nie en sê die ander mense wat die rowers agternagesit het, verdien ewe veel lof.

Die drie vermeende rowers wat vasgetrek is, is in polisieaanhouding, en teen druktyd was die polisie en die plaaslike buurtwag nog na die ander op soek.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!