Prins William veg teen wildmisdaad
Prins William veg teen wildmisdaad

Prins William veg teen wildmisdaad

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Prins William het vandeesweek op United for Wildlife se taakmagvergadering in Londen sy stem weer eens teen wildmisdaad dikgemaak.

“Die afgelope vier maande is beslag gelê op nege reusevondse van tonne ietermagôskubbe, renosterhorings en ivoor in Suidoos-Asiese lande alleenlik,” het hy gesê.

In sy toespraak het die hertog van Cambridge veral op die beskerming van ietermagôs gefokus, wat deur stropery en smokkelary uitgewis word.

United for Wildlife bestaan uit sewe bewaringsorganisasies, wat regerings en internasionale maatskappye byeenbring om onwettige wildhandel te stop.

“Dit het baie harde werk en ware toewyding geverg om by die punt te kom waar ons vandag is. Ons moet almal trots daarop wees dat ons ’n impak begin sien. Maar dit is slegs dit: die begin,” het prins William gesê.

“Hoewel ons vooruitgang gemaak het, is dit skaars ’n druppel in die emmer van wat ons kan bereik. Die omvang van dit waarmee ons te doen het, bly kommerwekkend.”

Prins William het die vergadering van die taakmagte vir die finansiële en vervoersektore bygewoon en dit was die eerste keer wat die twee groepe byeengekom het om oplossings vir die stryd teen onwettige wildhandel te vind.

Lede van die taakmag het voorbeelde gegee van hoe hulle werk en hoe wetstoepassers inligting kan gebruik om sterk sake teen smokkelaars te bou.

Sedert die vestiging van die taakmagte het hulle 52 geregtelike ondersoeke ondersteun, agt smokkelaars in hegtenis geneem en op wildprodukte ter waarde van US$500 000 beslag gelê.

Die vervoertaakmag is in 2014 gestig om die vervoersektor te betrek om relevante en geteikende oplossings vir wildsmokkelary te identifiseer en te ontwikkel, wat verhoogde bewustheid, aanmelding en wetstoepassing insluit.

Verlede jaar is die finansiële sektor byeengebring om ’n finansiële taakmag te stig wat help met hulpbronne en intelligensie in ’n poging om onwettige inkomste uit smokkelary te ontwrig.

Die hertog is ’n kampvegter vir wildbewaring en het in September in Namibië kom kuier om meer oor swartrenosterbewaring in die Kunenestreek te leer.

Hy is die president van United for Wildlife en die koninklike beskermheer vir Tusk, wat die Save the Rhino Trust (SRT) Namibia en die Geïntegreerde Landelike Ontwikkeling en Natuurbewaring (IRDNC) ondersteun.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!