Privaatskole dra miljarde by tot onderwys
Privaatskole dra miljarde by tot onderwys

Privaatskole dra miljarde by tot onderwys

Borgskappe wat jaarliks ’n inkomste van tot N$1,2 miljoen per skool beloop, het opgedroog.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Privaatskole in Namibië het die afgelope 18 jaar die ministerie van onderwys, kuns en kultuur se begroting N$833 miljoen jaarliks gespaar. Dit kom neer op ’n besparing van N$14,9 miljard vir die bogenoemde tydperk.

Dié statistieke is vervat in die Namibiese Privaatskole Organisasie (Napso) se versoek aan minister Anna Nghipondoka vir dringende finansiële ingryping vir die 24 Napso-skole om die volgende ses maande te oorleef.

Napso se uitvoerende hoof, mnr. Wouter Niehaus, vra namens die skole vir ’n inspuiting van N$17 miljoen vir die 6 620 leerlinge, wat op N$2 608 per leerling neerkom.

Sou dié subsidie deurgetrek word na al 206 privaatskole in die land met hul 43 886 leerlinge, sal dit N$114 miljoen vir die volgende paar maande beloop.

Volgens Niehaus is die nodige N$114 miljoen ’n fraksie in vergelyking met die N$817 miljoen wat die privaatskole die regering jaarliks spaar.

Sou privaatskole nie ondersteun word nie, sal dit daartoe lei dat die onderwysbegroting in 2021 “daadwerklik” verhoog omdat ouers geen alternatief het as om hul kinders by staatskole in te skryf nie. Die ministerie sal gevolglik dié koste moet oorneem wat gewoonlik deur privaatskole gedra is.

Die koste kan insluit die bou van nuwe skole om ’n bykomende 43 886 kinders te akkommodeer. Dit verteenwoordig sowat 450 klaskamers wat ’n verdere N$337 miljoen kan beloop, sou die ministerie nuwe klaskamers moes bou. Ook moet sowat 1 250 ekstra onderwysers aangestel word.

“Omdat die verhouding tussen onderwysers en leerlinge laer is by privaatskole, sal dit daartoe lei dat 1 900 onderwysers hul werk kan verloor, wat weer minder inkomstebelasting vir die regering is,” sê Niehaus. Dit sluit administratiewe en koshuispersoneel, tuiniers en skoonmakers uit.

Sou die Napso-skole noodgedwonge hul deure moet sluit, sou hulle ook nie hul lenings by banke kan delg nie.

Volgens Niehaus is die skole veral weerloos teen die verwoestende uitwerking van die Covid-19-pandemie. Dit omdat 68% van hul ouers direk in die private sektor betrokke is en salarisinperkings van 30 tot 100% te bowe moes kom.

Net 6% van die ouers is staatsdiensamptenare wat geen salarisinperkings het nie. Die meeste van die skole het ook reeds hul salarisse met 20% tot 60% gesny.

“Privaatskole het 100% van hul borgskappe en fondsinsamelingsprojekte vir 2020 verloor. Dit verteenwoordig 35% tot 60% van die skole se inkomste en verskaf jaarliks ’n inkomste van tussen N$294 000 en N$1,2 miljoen per skool,” sê Niehaus.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer