Private ekwiteitsfondse groei sterk
Elvira Wood
Die rekordbedrag van R29 miljard wat deur private ekwiteitsfondse in 2015 in Suid-Afrika en Suider-Afrika ingesamel is, is beduidend van plaaslike en internasionale beleggers se vertroue in dié sektor.
So meen Michael Rudnicki, hoof van private ekwiteitsmarkte by KPMG.
Hy het Dinsdag in Sandton vrae beantwoord op die bekendstelling van die Suider-Afrikaanse Waagkapitaal- en Private Ekwiteitsvereniging (Savca) se jaarverslag oor private ekwiteitsfondse.
“Al kom meer as 75% van die beleggings wat in dié soort fonds gemaak word uit Suid-Afrika en net ongeveer 25% spesifiek uit die VSA en Brittanje, voorspel ons dat internasionale beleggings binne die volgende dekade 50% van die totale bedrag sal uitmaak.”
Luidens die verslag wat saam met KPMG voorberei is, is 145% meer ingesamel in 2015 teenoor die R11,8 miljard in 2014. Die verslag is saamgestel uit vraelyste wat gestuur is aan 72 fondsbestuurders wat vir 84 private ekwiteitsfondse verantwoordelik is.
Erika van der Merwe, uitvoerende hoof van Savca, sê die studie toon dit is meestal pensioenfondse, internasionale ontwikkelingsfinansierders en ander beleggingsfondse wat in private ekwiteitsfondse belê.
“Hoewel Suid-Afrikaanse pensioenfondse nou toegelaat word om 10% van hul bestuurde bates in private ekwiteitsfondse te belê, (teenoor die 2,5% wat voorheen toegelaat is) ervaar ons nog nie dat hulle ten volle van dié vergunning gebruik maak nie,” sê Van der Merwe. Rudnicki reken dit is omdat beleggers private ekwiteitsfondse as meer riskant as ander beleggingsmoontlikhede beskou.
“Ons navorsing (dié soort fondse bied ’n verdienste in saamgestelde rente van tot 18% oor tien jaar in randterme en 10% in dollarterme) behoort fondsbestuurders gerus te stel dat private ekwiteitsfondse beter vaar en minder riskant as baie genoteerde aandele is,” sê hy. Van die R29 miljard wat ingesamel is, is R10,5 miljard reeds belê.
Beleggers het in 2015 verkies om in fondse in die finansiële dienstesektor en die kleinhandelsektor te belê – 16% van die R29 miljard onderskeidelik.
14% van dié bedrag is belê in infrastruktuurbeleggings, 12% in vervaardiging, 6% in dienste, terwyl 5% in reis en ontspanning belê is.
Dit is ’n aansienlike skuif weg van beleggings van 23% in infrastruktuur, 19% in mynbou, 15% in vervaardiging, 9% in kleinhandel en 6% in dienste en finansiële dienste tien jaar gelede.
“Ons moet in ag neem tien jaar gelede was daar groot infrastruktuurprojekte in die aanloop tot die Wêreldbeker-sokkertoernooi wat in Suid-Afrika aangebied is.
“Nou oorweeg beleggers ander opsies afhangend van hul mandaat,” verduidelik Rudnicki.
Die totale waarde van bates wat deur private ekwiteitsfondse in Suid-Afrika en Suider-Afrika bestuur word, was op 31 Desember 2015 R165,3 miljard.
- Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie