Private gedenkdiens vir Dieter Voigts
Private gedenkdiens vir Dieter Voigts

Private gedenkdiens vir Dieter Voigts

'n Prominente sakeman van Windhoek is ná 'n maandelange siekbed dood.
Tanja Bause
Tanja Bause – “Hy was 'n absolute heer, 'n 'old school'-man, 'n held vir baie. Hy was eerlik, opreg en eties in al sy handelinge.”

So beskryf mnr. Hans Dietrich Voigts, beter bekend as Dieter, se familie hom. Hy is op 15 Januarie ná 'n maandelange siekbed by sy huis op Swakopmund dood.

Sy vrou, Helga, het hom liefdevol tot die einde versorg. Hy laat sy vrou, twee kinders en vyf kleinkinders agter.

Weens Covid-19-beperkings sal 'n klein gedenkdiens met familie op Swakopmund gehou word. Wanneer die beperkings opgehef word, sal 'n tweede diens in Windhoek plaasvind.

Voigts is op 26 Maart 1938 in Windhoek gebore. Hy was die jongste van vier kinders met twee ouer susters en een ouer broer. Volgens sy dogter, me. Adriane Jandrell, het hy gelukkige kinderjare gehad.

Sy kinderjare het hy meesal in Windhoek en op die familieplaas, Voigtland, 35 kilometer buite Windhoek, deurgebring.

“Dit was op die plaas waar sy liefde vir perde en die buitelewe begin het.”

Hy het by die Deutsche Höhere Privatschule (DHPS) skoolgegaan en sy laaste skooljare in Kaapstad by Rondebosch Boys High voltooi.

“Hy het sy tyd in Kaapstad en in die koshuis ten volle geniet. Hy was baie aktief in sport,” het sy gesê.

Hy was van 'n jong ouderdom af 'n handelaar en in 1957, op 19-jarige ouderdom, het hy Duitsland toe gegaan om 'n vakleerlingskapkursus by 'n klein- en groothandelaar te doen. Nadat hy sy vakleerlingskap by Neuhaus & Co suksesvol voltooi het, het die maatskappy hom 'n permanente pos aangebied.

“Die versoeking vir Dieter was groot om eerder perd te gaan ry, maar hy het besluit om die werk by Neuhaus & Co te aanvaar. Hy het vir vier jaar daar gewerk en as hoof van die uitvoerafdeling bedank.

“Toe hy in Duitsland was, het hy baie gereis en konserte, musiekblyspele en museums in sy vrye tyd besoek. Hy het die kulturele aspekte wat Europa bied, terdeë geniet.”

In die vroeë sestigerjare, terwyl hy nog in Duitsland was, het sy pa Gerhard Voigts op 'n gereelde basis die boeke van Wecke & Voigts met hom gedeel.

“Die saadjie om moontlik by die maatskappy in die destydse Suidwes-Afrika aan te sluit, is daardeur gesaai,” het sy gesê.

In 1963 het hy Duitsland verlaat om by sy pa en sy oom Harald Voigts by Wecke & Voigts aan te sluit. Hy het nooit teruggekyk nie en ná meer as 60 jaar se diens, het hy in 2019 op 81-jarige ouderdom afgetree.

Voigts was baie by die besigheid betrokke. Hy het elke jaar Duitsland toe gereis om handelsware vir sy winkels aan te koop en om homself oor die nuutste tendense in te lig. Hy was ­innoverend, altyd positief en het die onderneming van krag tot krag laat groei.

Toe hy in 2019 aftree, was daar byna 900 mense werksaam in die besigheid. Die besigheid bestaan uit vier Spar-winkels, een kleinhandelwinkel en een groothandelafdeling.

“Vir my pa was sy werknemers nommer een en hy het elke werknemer by sy naam geken. Hy het ook hulle familie-omstandighede geken en elkeen elke oggend gegroet wanneer hy by die werk gekom het.”

Beide sy kinders, Adriane en Robert, het by die besigheid aangesluit en verskeie jare saam met hom gewerk.

“Hy was 'n mentor en 'n voorbeeld nie net vir sy kinders nie, maar ook vir sy hele span by Wecke & Voigts. Sy leuse was: Ons is die Wecke & Voigts-familie,” het sy gesê.

Voigts het in verskillende stadiums gelyktydig op 13 verskillende direksies gedien. Buiten Wecke & Voigts het hy 22 jaar op die direksie van die destydse Eerste Nasionale Bank gedien. Hy het in 2010 uit die direksie getree. Die bank het hom vereer deur 'n raadsaal na hom te vernoem.

Voigts was altyd positief oor sy land. Hy het nooit aan sy land en sy mense, waarvoor hy baie lief was, getwyfel nie. Hy was betrokke by die beplanning van die Onafhanklikheidsvieringe, 'n baie belangrike geleentheid vir hom en die land.

Sy passie – behalwe sy besigheid – was sy perde. Sedert kindsbeen het hy perdgery en was suksesvol daarmee in Namibië en Suid-Afrika. Hy was lief daarvoor om in die land en oraloor die wêreld te reis.

Kommentaar

Republikein 2025-02-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 27° Rundu: 19° | 26° Eenhana: 18° | 22° Oshakati: 19° | 24° Ruacana: 19° | 22° Tsumeb: 19° | 25° Otjiwarongo: 18° | 28° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 30° Gobabis: 19° | 28° Henties Bay: 18° | 22° Wind speed: 21km/h, Wind direction: W, Low tide: 09:43, High tide: 03:43, Low Tide: 21:49, High tide: 15:55 Swakopmund: 17° | 18° Wind speed: 17km/h, Wind direction: W, Low tide: 09:41, High tide: 03:41, Low Tide: 21:47, High tide: 15:53 Walvis Bay: 17° | 21° Wind speed: 21km/h, Wind direction: W, Low tide: 09:41, High tide: 03:40, Low Tide: 21:47, High tide: 15:52 Rehoboth: 20° | 32° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 26° | 36° Aranos: 22° | 33° Lüderitz: 19° | 35° Ariamsvlei: 24° | 36° Oranjemund: 16° | 26° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 28° Lubumbashi: 17° | 21° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 17° | 24° Lilongwe: 19° | 27° Maputo: 21° | 37° Windhoek: 19° | 30° Cape Town: 18° | 22° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 23° Harare: 17° | 23° #VALUE! #VALUE!