Private lugvaartmaatskappye ontken rassisme
Private lugvaartmaatskappye ontken rassisme

Private lugvaartmaatskappye ontken rassisme

Die meeste Namibiese vlieëniers, swart en wit, word genooi vir onderhoude, sê rolspelers in die lugvaartsektor.
Estelle de Bruyn
Catherine Sasman - Klein, private lugvaartmaatskappye het aanstoot geneem oor 'n bewering dat hulle weier om swart Namibiese vlieëniers in diens te neem.

Ene “John D” wat sê hy is 'n swart Namibiese vlieënier, was woedend toe hy gereageer het op 'n artikel waarin Air Namibia se werwing van vlieëniers bevraagteken is. Daarin is beweer ervare wit Namibiese vlieëniers word uitgesluit.

John D het in 'n e-pos geskryf dat hy as 'n swart vlieënier gesukkel het om in die lugvaartbedryf in Namibië 'n pos te kry, wat volgens hom ondernemings in besit van witmense is en deur wit vlieë­niers oorheers word.

Hy voer aan dat Westair, Bay Air, Scenic Air, Wilderness Air en Desert Air, asook ander elk minstens 20 vlieëniers in diens het. Landwyd is volgens hom onder hulle net drie swart vlieëniers.

Hierbenewens beweer John D die meeste wit vlieëniers wat vir hierdie maatskappye werk, is Suid-Afrikaners met nie meer as 400 vliegure se ondervinding nie.

“Ek vind dit vreemd dat hulle wil kla oor Air Namibia, wanneer dit inderdaad hulle is wat die voorbeeld met die aanstelling-praktyk gestel het deur nie swart vlieëniers met min vliegure aan te stel nie en ons vir maande, selfs jare werkloos gelaat het,” skryf John D.

Dit is nie waar nie, sê private vliegmaatskappye.

Die hoof- operasionele­ beampte by Westair Aviation, mnr. Henri van Schalkwyk, sê die maat­skappy nooi elke Namibiese vlieënier met 'n vlieënierslisensie vir onderhoude.

Hy het benadruk dat die maatskappy verlede jaar vier keer advertensies vir vlieëniers gepubliseer het. Altesaam 14 aansoeke is ontvang waarvan nege aansoekers uit voorheen benadeelde agtergronde gekom het.

Al nege swart vlieëniers is vir onderhoude genooi, maar twee van hulle het nie vir die onderhoude­ opgedaag nie. Drie van die aansoeke was nie suksesvol nie, twee het reeds werk gehad en twee ander aan wie aanbiedinge gemaak is, het dit van die hand gewys.

“Ons werwingsproses is beslis nie rassisties nie, maar ons stel vlieëniers aan wat aan die vereistes voldoen, ons gee nie skiet op veiligheid nie. Enige vlieënier wat nie die werk gekry het nie, het dus nie aan die standaarde voldoen nie,” het Van Schalkwyk gesê.

Alle aansoekers ondergaan 'n tegniese toets en vier paneellede voer 'n onderhoud met die kandidaat, wat meebring dat die keuringsproses nie bevooroordeeld is nie, het Van Schalkwyk benadruk.

Veiligheidstandaarde by private lugrederye is uiters streng. By Westair word verwag dat iemand wat die pos van kaptein beklee, minstens 1 500 vliegure het en 'n medevlieënier 500.

“Wat op die ou einde die deurslag in lugvaart gee, is dat 'n mens die beste kandidaat aanstel omdat die statistiek bewys dat dinge verkeerd kan gaan. Wanneer dit gebeur, het 'n mens die regte persoon nodig om die regte besluite op die regte tyd te neem ten einde te verseker dat almal oorleef,” het Van Schalkwyk gesê.

Met veiligheid as die operatiewe wagwoord, sal Westair nooit 'n vlieë­nier aanstel wat pas uit die vliegskool kom nie. Die maatskappy het egter 'n kadetprogram wat aan nuwelinge die geleentheid bied om van 'n vyf-sitplek eenmotorige vliegtuig tot 'n straalvliegtuig te vorder.



hoogste standaarde gehandhaaf

Die maatskappy word boonop nege keer 'n jaar deur verskillende owerhede geouditeer ten einde seker te maak dat dit aan die Basiese Lugvaart­risikostandaard (BARS), die hoogste lugvaart­standaard in die wêreld, voldoen. Die grondslag van die ouditerings is vlugveiligheid.

Die finansiële bestuurder en waarnemende menslike hulpbronbestuurder by Bay Air Avia­tion, mnr. Kay Seifert, sê die maatskappy het tans elf mense in diens wat vier vlieëniers insluit wat by daaglikse operasies betrokke is.

Hy het die versekering gegee dat die maat­skappy se werwingsprogram voorkeur gee aan enige iemand, ongeag velkleur, etniese groep of nasionaliteit, wat oor die nodige kwalifikasies en die meeste ondervinding beskik solank aan die minimum vereistes voldoen word.

Scenic Air se besturende direkteur, mnr. Mike Böttger, sê die maatskappy het in die verlede swart vlieëniers in diens gehad en sal in die toekoms voortgaan om dit te doen sonder om ooit op grond van ras, geslag of geloofs­oortuiging te diskrimineer.

“Om die waarheid te sê, soos dinge nou werk sal Namibiese vlieëniers wat werkgeleenthede benodig, altyd eerste in die ry wees,” het Böttger gesê.

Hy het daarop gewys dat die Namibiese burgerlugvaartowerheid (NCAA) 'n databasis van Namibiese vlieëniers het wat op soek is na werk. Hulle sal slegs 'n aansoek om 'n werkpermit vir 'n buitelandse vlieënier ondersteun, indien geen Namibiërs beskikbaar is nie.

“In werklikheid is dit 'n feit dat daar baie min Namibiese handelsvlieëniers is. Dit is om hierdie rede dat 'n hele aantal buitelanders, veral Suid-Afrikaanse vlieëniers, in Namibië werk,” het Böttger gesê.

“Daar is geen plek vir rassisme of politiek in lugvaart nie omdat ons verantwoordelik is vir mense se lewens,” het mnr. Raymond Waldeck, die hoofvlieënier van Desert Air gesê.

Desert Air se besturende direkteur, mnr. Thys Rall, het op sy beurt gesê die maatskappy was inderdaad die eerste om 'n swart vlieënier, mnr. Grant Gariseb, aan te stel. Hy is nou die vlieënier van die presidensiële straler.

Rall sê egter dat sodra swart vlieëniers by private maatskappye aangestel word, word hulle deur Air Namibia opgeraap. Ander verkies om by die Namibiese lugmag aan te sluit.

Rall sê die private lugvaartbedryf verkies nie buitelandse vlieëniers nie omdat dit baie probleme met werkpermitte meebring.

Hy het bygevoeg dat vaardighede in die lugvaartbedryf in Namibië dun gesaai is.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer