Private skole wil Maandag oopmaak
Nantu verteenwoordig nie onderwysers in private skole nie.
Henriette Lamprecht – Private skole in Namibië wil Maandag soos beplan hul deure vir alle grade open.
Dié skole het gister uit een mond gesê hulle beplan dat hul leerlinge wel Maandag almal sal terug keer skool toe, in weerwil van ’n kennisgewing van die ministerie van onderwys, kuns en kultuur wat vroeg gisteroggend die terugkeer van leerlinge in fases weer en dié keer tot 21 September aangeskuif het.
Volgens die kennisgewing wat deur die minister, me. Anna Nghipondoka, onderteken is, keer alle graad 7-, 8- en 9-leerlinge buiten dié in die Khomasstreek, Maandag terug.
Grade 4, 5 en 6 in alle streke, ingesluit die van Khomas, keer op 14 September terug. Op dieselfde dag kan Khomas se graad 7-, 8- en 9-leerlinge ook terug skool toe gaan.
Preprimêre grade tot graad 3 in al die streke van die land, kan uiteindelik weer op 21 September teruggaan skool toe. Die besluit volg volgens Nghipondoka ná konsultasie met die Namibiese Nasionale Onderwysersunie (Nantu) oor die stygende aantal Covid-19-gevalle in die land.
Beide die Vereniging vir Private skole in Namibië (APSN) en die Namibiese Privaatskole Organisasie (NAPSO) het gister gesê leerlinge in dié skole keer terug soos beplan. Die voorneme is met die minister, sowel as die uitvoerende direkteur in die ministerie, me. Sanet Steenkamp, gedeel.
Volgens Napso se uitvoerende hoof, mnr. Wouter Niehaus, is die ministerie van onderwys geregtig om alternatiewe vorms van leer vir staatskole aan te wend. Dit stel hulle volgens hom in staat om die opening van staatskole in fases te doen.
Niehaus het verwys na proklamasie 48 wat deur pres. Hage Geingob uitgevaardig is en wat volgens hom spesifiek daarvoor voorsiening maak dat die beheerliggaam van ’n skool in enige ander geval gemagtig sal wees om alternatiewe vorme van leer te gebruik.
“By implikasie gee dit toestemming aan beheerliggame van private skole om, soos uiteengesit in die proklamasie, op 7 September te open,” het Niehaus gesê.
Hy het egter beklemtoon skoolhoofde van private skole en private onderwysinstellings moet steeds verseker almal voldoen aan die maatreëls om die verspreiding van Covid-19 te voorkom en te bestry.
Niehaus verwys na ’n mediavrystelling deur die ministerie gister waarin die hervatting van die infasering van aangesig tot aangesig onderrig onder proklamasie 48 aangekondig is.
Hierin word uiteengesit “die bepalings van subregulasie (1) verhoed nie (a) in die geval van ’n staatskool die verwante minister verantwoordelik vir onderrig en (b) in enige ander geval, die beheerliggaam van die skool en onderwysinstelling waarna in die subregulasie verwys word, om gebruik te maak van ander vorme van onderrig nie.”
“Nantu verteenwoordig nie ons onderwysers in ons private skole nie,” het APSN se voorsitter, me. Colette Rieckert, op haar beurt gesê.
“Ons verstaan nie vir hoe lank die unie en sy lede nog wil probeer weghardloop van die coronavirus nie,” het sy gesê.
Volgens Rieckert is proklamasie 48 uitgevaardig ná ’n breedvoerige opname en konsultasie met kenners op die gebied van gesondheid en onderwys. Die lae voorkoms van infeksies by kinders, die lae sterftekoers in Namibië en die ernstige kommer oor die sielkundige toestand van die jeug in Namibië is onder meer as oorweging gebruik om skole weer te heropen.
Volgens Rieckert kan APSN-geaffilieerde skole nie die vertraging in die terugkeer van leerlinge na skole aanvaar nie.
“Ons skole is gereed om ons leerlinge terug te verwelkom.” het sy gesê.
Deur voort te gaan om die heropening van skole en die land se ekonomie uit te stel, sal volgens Rieckert tot meer sterftes in die land lei wat nie die direkte gevolg van die virus is nie, maar ’n indirekte oorsaak van Covid-19. Dit sluit selfdood as gevolg van depressie, werksverliese en honger in.
Sy het beklemtoon die geaffilieerde skole is breedvoerig toegerus om die risiko vir infeksie te verminder en te bestuur.
“In die meeste gevalle is ons kinders veiliger by die skool waar die Covid-19-regulasies in plek is, hul interaksie met portuurgroepe gestruktureerd is en hulle besig gehou word. Eerder as wat dit sou wees sou hulle tuis bly en hier, of in winkelsentrums en ander openbare ruimtes met hul portuurgroepe uithang,” het sy gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie