Probleem-olifante: 10 van kant gemaak
Konflik met landbouers
Francoise Steynberg
Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het bevestig dat tien probleem-olifante in die afgelope maand van kant gemaak is.
Volgens die woordvoerder van die ministerie, mnr. Romeo Muyunda, is vier olifante elk in die streke van Omusati en Otjozondjupa van kant gemaak, asook twee in die Kavango-Oosstreek.
Muyunda sê hierdie olifante het mens-dier-konflik veroorsaak en onder meer gewasse in landerye vernietig.
“Die situasie in die land is in dié stadium ongelukkig so dat sommige olifante weens mens-dier-konflik van kant gemaak moet word,” het Muyunda gesê.
Hy sê die probleem-olifante kom in die streke van Omusati, Oshikoto, Otjozondjupa, Onhangwena, Kunene, Zambezi en Kavango-Oos en Kavango-Wes voor.
VLEIS VERGOED SKADE
“Die ministerie het vooraf toestemming by die minister gekry om dadelik tydens mens-dier-konflik op te tree. Die idee is wanneer daar probleemdiere is, hoef ons nie deur die rompslomp van burokrasie te gaan nie,” het die woordvoerder gesê.
“Sodra 'n geval van mens-dier-konflik sou voorkom, is ons gereed om dit te takel.”
Wanneer 'n olifant van kant gemaak word, word die vleis aan die gemeenskappe gegee: “Omdat hul landerye reeds deur die probleem-olifante vernietig is, moet voedsel aan hulle voorsien word.”
Muyunda het 'n beroep op gemeenskappe gedoen om nie die gereg in eie hande te neem nie.
Een so 'n geval het onlangs in die Kavango-Oosstreek voorgekom toe 'n olifant gestroop is. Die olifantkarkas, met sy tande, is op die plaas Navana, sowat 90 km suidoos van Rundu gevind.
Beamptes van die ministerie en die Namibiese polisie het die saak opgevolg en hulle het 'n skietwond bo die regteroog van die olifant ontdek.
“Geen patrone is op die toneel gevind nie. Die olifant is dalk elders geskiet en het in die landery van die plaas gaan val,” het Muyunda gesê.
Niemand is in hegtenis geneem nie.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie