Produksie van mielies 'kritiek' in rampdroogte
Produksie van mielies 'kritiek' in rampdroogte

Produksie van mielies 'kritiek' in rampdroogte

Volgens 'n landbou-ekonoom kan die droogte beteken die buurland kan 'n mielie-oes hê wat nie aan die vraag vir die hele land voldoen nie.
Karin Eloff
Charles Smith



Die produksietoestande in die Noordwes-Vrystaat en Noordwes lyk op die oomblik baie sleg en feitlik geen mielies of ander somergewasse is al in dié gebiede geplant nie.

Fanie Brink, onafhanklike landbou-ekonoom, sê die droogte kan beteken dat Suid-Afrika 'n mielie-oes van so min as tussen 4,5 en 6 miljoen ton kan hê, wat nie aan die vraag vir die hele Suid-Afrika sal voldoen nie.

Hierdie twee gebiede produseer gemiddeld sowat 72% van die land se totale witmielie-oes en is van die beste gehalte ter wêreld.

Brink sê in 'n verklaring soos sake nou staan, kan dié droogtegeteisterde streke se oeste 30% tot 40% kleiner wees as wat dit gewoonlik is.

Die planttyd vir 'n optimale oes is reeds verby en die uiters swak produksie wat in hierdie twee gebiede verwag kan word, sal 'n baie groot invloed op die totale mielie-oes vir die seisoen hê.

Omdat daar nog geen aanduiding is hoeveel hektaar reeds geplant is en nog geplant kan word nie, is dit nie moontlik om 'n oesskatting te maak nie.

Baie min witmielies word in die wêreld geproduseer omdat dit net in Afrika-lande as 'n stapelvoedsel gebruik word, terwyl die ander lande hoofsaaklik geelmielies as dierevoeding produseer. Daarom is dit nie altyd maklik om witmielies op die internasionale mark te koop om in te voer nie.

Hierdie seisoen is graanboere heeltemal blootgestel aan 'n rampdroogte en sal soos gewoonlik geen hulp van die regering ontvang nie, sê Brink.

“Die regering verstaan eenvoudig nie watter belangrike rol die landboubedryf speel onder baie moeilike omstandighede as die verskaffer van voedsel en ander grondstowwe aan die res van die ekonomie nie, omdat die skep van ekonomiese groei nie 'n deel van sy vernietigende sosialistiese en kommunistiese herverdelingsideologie is nie,” sê Brink.

“Die herverdeling van grond sal ongetwyfeld nog baie groot probleme vir die regering skep omdat baie swart boere in 'n enkele rampdroogte, soos tans ondervind word, heeltemal finansieel geruïneer sal word.”

Brink sê dit beteken die gemiddelde opbrengs vir hierdie seisoen kan enigiets rondom die onderste afwyking van drie ton per hektaar wees.

As altesaam 2 miljoen hektaar, wat baie twyfelagtig is, hierdie seisoen geplant sou word, beteken dit 'n oes van slegs ses miljoen ton. Indien slegs 1,5 miljoen hektaar geplant sou word, kan die totale oes selfs so laag as 4,5 miljoen ton wees, waarsku hy.

Onder hierdie scenario's sal die ongeveer 3,3 miljoen ton mielie-oordragvoorraad, wat na raming beskikbaar sal wees in die land vir die nuwe bemarkingsjaar wat op 1 Mei 2019 begin, nie voldoende wees vir die totale vraag na mielies van tussen tien en 11 miljoen ton vir die land self en Namibië, Botswana, Swaziland en Lesotho nie.

Dit beteken dat mielies teen baie hoër invoerpariteitspryse ingevoer sal moet word, wat hoofsaaklik bepaal sal word deur die veranderings in die internasionale mieliepryse en die wisselkoers.

Volgens Brink kan hierdie omstandighede 'n baie negatiewe uitwerking in 2019 op die ekonomiese groeikoers vir die tweede en die derde kwartaal hê in vergelyking met dieselfde kwartale vanjaar, sowel as die inflasiekoers.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer