Projekskole vorder goed
Die adjunkminister van onderwys, kuns en kultuur het gister skoolbouprojekte in die hoofstad besoek.
Augetto Graig - Me. Anna Nghipondoka, die adjunkminister van onderwys, kuns en kultuur, het gister deur projekskole in Windhoek getoer.
Dit is deel van die regering se poging om die tekort aan klaskamers in die hoofstad te takel.
Haar toer het die splinternuwe Westmont Hoërskool, Havana Sekondêre Projekskool en die Tobias Hainyeko Gekombineerde Projekskool ingesluit.
Westmont was voorheen bekend as die Michelle McLean Projekskool en het sowat 'n jaar gelede nog bestaan uit tente op 'n sementblad by die Michelle McLean Primêre Skool. Vandag spog die skoolhoof, mnr. Brian Pieterse, met 14 klaskamers waar 326 kinders nou kan skoolgaan.
Pieterse erken die skool het 'n hoë druipsyfer gehad. Hy sê daar is nog plek vir leerlinge in graad 9, terwyl graad 8 byna vol is. In die Khomasstreek het sowat 330 gr. 8-leerlinge nog nie plek gekry nie.
“Baie leerlinge het laas jaar laat gekom omdat hulle van buite Windhoek af hierheen kom. Baie kon Engels praat, maar nie lees of skryf nie. Ons het in plaas van oggendbyeenkomste Dinsdae, Woensdae, Donderdae en Vrydae leeslesse aangebied, wat regtig baie gehelp het,” het hy gesê.
Die skool se leuse is “Streef saam, bereik saam”.
Nghipondoka is bekommerd oor die tekort aan telefoonlyne en internettoegang by die nuwe skool.
“Internetverbinding is 'n probleem by ons skole,” sê sy. “Ons lewe nou in 'n ander era.'
Oor die grade wat nog nie vol is nie, het sy gesê: “Laat hulle kom. Die skool moet teen Maandag vol wees.”
Pieterse het belowe alle oop plekke sal spoedig gevul word en gesê ouers kan reeds van vandag af al namens hul kinders aansoek doen.
“Ek is bly om te sien hier waar ons net tente gehad het, is vandag klaskamers. Soms maak die instroming van leerlinge dit moeilik om te beplan, maar die geboue is goed ontwerp,” sê Nghipondoka.
Haar toer het by die Tobias Hainyeko Projekskool in Windhoek afgesluit.
Sy het daarop gewys dat dit nie verwar moet word met die gevestigde Tobias Hainyeko Primêre Skool in Etetewestraat nie.
BOODSKAP VAN LIEFDE
Eersgenoemde skool is op 23 Februarie 2015 gestig. Daar is die bouwerk nog druk aan die gang en leerlinge en personeel deel die perseel met besige bouers.
“Laas jaar, toe ek na die skool toe gekom het, was daar net tente oral. Dit het daardie dag gereën en ek onthou die toestand van die onderwysers se teekamer. Ek het hier met 'n seer hart vertrek,” het die adjunkminister aan die meer as 1 200 leerlinge gesê.
“Ons het vordering gemaak en hier staan die skool nou met geboue reg rondom ons. Binnekort sal julle die klaskamers begin gebruik en daarvoor moet julle die regering dankbaar wees,” het sy gesê.
Haar boodskap aan die leerlinge is een van liefde.
“Ons is so lief vir julle,” het sy gesê, “en dit is hoekom julle die trekkers en stootskrapers hier om julle sien. Dit is oor julle, omdat ons wil hê julle moet leer en later die land help ontwikkel.”
Nghipondoka het almal daaraan herinner dat uitdagings tydelik is, en “deur kop te hou, respek te hê en dit af te handel waaroor 'n mens beheer het, kan uitdagings oorbrug word”.
Aan die onderwysers het sy gesê: “Dankie vir julle volharding. Daar is lig aan die einde van die tonnel. Onthou, dit is ons ingesteldheid teenoor uitdagings wat bepaal of hulle brûe of struikelblokke is.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie