Prokureur gee Zuma se kodewoord vir omkoopgeld
Pres. Jacob Zuma het in die 1990’s die kodewoord “Eiffel Tower” gebruik om geld te aanvaar as deel van omkoopgeld van R500 000 per jaar wat hy as adjunk-president ontvang het in die wapentransaksie.
Só beweer Ajay Sooklal, ’n prokureur wat Maandag getuig het in die People’s Tribunal into Economic Crimes.
Sooklal sê hy het noue bande met mense wat in Suid-Afrika se groot wapentransaksie van die 1990’s betrokke was, asook met mense in die ANC.
Sy bewerings verwys na die ondersoek van Suid-Afrikaanse owerhede na die Franse wapenvervaardiger Thales, wat sentraal staan in die bewerings van korrupsie teen Zuma.
Van die ander skokbewerings wat Sooklal Maandag gemaak het, is dat Franse amptenare verskeie kere probeer het om die ondersoek na Thales deur die nasionale vervolgingsgesag te ontspoor. Dit het selfs ’n regstreekse versoek in 2004 deur Jacques Chirac, destydse president van Frankryk, aan Thabo Mbeki, toe president van Suid-Afrika, ingesluit.
Sooklal sê hy was by vergaderings in Frankryk en Suid-Afrika tussen Suid-Afrikaanse amptenare en dié van Thales, waar hy insae in baie van die inligting gehad het.
Thales het na bewering R500 000 per jaar aan Zuma betaal om Thales in die wapenskandaal-ondersoek te beskerm. Volgens Sooklal het dit daarop uitgeloop dat die vervolgingsgesag die klagte teruggetrek het.
Die ANC self kom egter ook nie skotvry af in Sooklal se getuienis nie. Thales het na bewering voor die 2006-verkiesing ’n skenking van €1 miljoen aan die ANC gegee. Die betaling is aan Mendi Msimang gedoen, wat toe tesourier-generaal van die ANC was.
Sooklal het ook getuig Schabir Shaik, voormalige finansiële adviseur van Zuma, het geld van Thales ontvang via ’n Switserse bankrekening. Van die geld is oorgedra na Mac Maharaj en sy vrou, Zarina, wat daarna die geld na ’n bankrekening in die eiland Man oorbetaal het. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie