Prosopis-kappery by Elisenheim is wettig
Prosopis-kappery by Elisenheim is wettig

Prosopis-kappery by Elisenheim is wettig

Klagtes oor groot bome wat by Elisenheim val, het opnuut die soeklig op die wettige én onwettige oes van bome geplaas.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Twee mense wat prosopisse buite die Elisenheim-landgoed afkap, beskik oor al die nodige toestemming én permitte hiervoor.

Boonop strek die afkap van dié bome tot voordeel van die Namibiese om­gewing omdat dit volgens plaaslike wetenskaplikes dié uitheemse plant is wat die nadeligste ekologiese impak op ons land het.

Dit volg nadat Elisenheim-inwoners hul kommer uitgespreek het oor groot prosopisse wat buite die landgoed afgekap word. Daar word ook beweer dat kameeldoringbome in die slag bly.

Die landgoed se bestuurder, mnr. Schalk Kruger het Donderdag aan Republikein bevestig twee persone het ministeriële goedkeuring en permitte om die prosopisse te benut. “Dit is 'n klas 1-indringerspesie, wat beteken dit hou 'n gevaar vir die omgewing in en mag daarom verwyder word,” het Kruger gesê.

“My kantoor het dié persone besoek en al hul dokumentasie is in orde. Dit is die enigste twee persone wat gemagtig is om dit te doen,” het Kruger gesê. Hy het bygevoeg Elisenheim-­inwoners met vrae is welkom om hom te kontak. Hy beskik ook oor afskrifte van die persone se dokumente.

TER PLAATSE ONDERSOEK

Tydens 'n ter plaatse besoek deur Republikein waar een van die permithouers, mnr. Manu Brassine, besig was om prosopisse rondom Elisenheim te oes, het hy ook al sy dokumente getoon.

Brassine beskik oor 'n oespermit wat in September deur die ministerie van landbou, water en bosbou se direktoraat van bosbou uitgereik is. Hiervolgens mag hy binne Windhoek se munisipale gebied tot 30 Desember ses ton van dié bome oes.

Die Elisenheim-eienaarsvereniging (EOA) het hom ook 'n toestemmingsbrief gegee om prosopisse te oes. Terselfdertyd beskik Brassine oor 'n ondertekende brief van die munisipaliteit se afdeling vir ekonomiese ontwikkeling en gemeenskapsdienste dat hy vir 'n jaar lank, vanaf Junie 2019, dié asook enige dooie bome mag oes.

Brassine sê hy kap reeds vir 20 jaar lank prosopisse en hou by die wet. Tog sien hy dikwels talle ander houtkappers wat ook bome afkap en nié oor permitte beskik nie. Hy het dit by bosbou aangemeld, maar meen daar word nie op sy klagtes gereageer nie.

EKOLOGIESE GEVAAR

Prosopisse, wat eintlik van Amerika en Mexiko kom, ding sterk met inheemse plantspesies mee en verdryf hulle later. Die bome is ook veel dorser as wat Namibië se damme en waterstelsels kan bekostig.

Die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie (Nust) se dr. Ben Strohbach het vantevore in 'n voorlegging gesê tydens 'n studie in die Gibeon-omgewing is bevind dat 'n prosopis van 3 mm hoog sowat 7,5 liter water per dag gebruik. Hier het dit ook reeds bykans alle natuurlike plantegroei vervang en dit bedreig veral kameeldoringbome.

Dit verwoes plantbiodiversiteit, het 'n beduidende impak op watergehalte en hoeveelheid, asook plaaslike ekonomieë.

Prosopisse is ook bewys om by verre vinniger as inheemse plantspesies te groei en dit te “versmoor”, terwyl dit allelopatiese stowwe vrystel wat keer dat ander plantspesies se sade ontkiem. Prosopisse­ se wortels is saamgestel om water op so 'n manier te oes dat inheemse plante bykans niks kan kry nie, het hy verduidelik.

Terselfdertyd het dit ook goeie kommersiële waarde wat benut moet word.

Benewens projekte deur byvoorbeeld die internasionale ontwikkelingsagentskap USAID om ­prosopisse in die Gibeon-omgewing te verwyder, steun die Namibiese ­regering ook die stryd teen uitheemse indringerplante.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!