Prosus, Naspers bly 2 firmas op JSE-indekse
Twee maatskappye het ’n veldslag vir aandeelhouers in hul aandele op die JSE gewen, maar dit lyk asof die oorlog nog nie verby is nie.
Hanlie Stadler - Naspers en Prosus gaan in die nuwe jaar steeds as afsonderlike maatskappye in die JSE se indekse gemeet word en nié as een beskou word nie, het die JSE middel Desember aangekondig.
Die JSE het egter ook gesê hy gaan vroeg in 2020 ’n projek hervat om te toets of die huidige metodologie vir die samestelling van sy twee belangrikste indekse “die toepaslikste beginsels vir maatstaf-konstruksie vir plaaslike beleggers daarstel”.
Dié projek is einde 2018 in die vooruitsig gestel, maar oënskynlik nie voltooi nie.
Eoin Ryan, hoof van beleggersverhoudinge, het einde November in ’n verklaring te velde getrek teen die JSE se aankondiging dat hy dit oorweeg om Naspers en Prosus as een entiteit te beskou vir die doeleindes van die beperkte aandeelhouersgeweegde indeks van alle aandele (capped Swix, oftewel die J433-indeks), wat die “de facto-maatstaf vir plaaslike aandelefondse in Suid-Afrika geword het”, en die indeks van alle aandele (Alsi).
Die Swix beperk die gewig van ’n enkele maatskappy in die indeks op 10% om uitermate blootstelling daaraan te voorkom.
Batebestuursmaatskappye plaas gewoonlik ook vir die Alsi ’n perk op hoeveel hulle in een maatskappy mag belê en soos Naspers styg, moet hulle aandele verkoop, wat die groei in die aandeelprys aan bande lê.
Die ontknoping van Prosus – waarvan Naspers 73,84% besit – is as een van die antwoorde op dié probleem beskou.
Prosus se primêre notering is op 11 September op die Euronext Amsterdam gedoen en die maatskappy het ’n sekondêre notering op die JSE.
Die JSE het met die Prosus-notering op albei maatskappye afsonderlik op die indekse ingesluit waarop Naspers ook is.
Op 5 November het die JSE egter ’n konsultasiedokument gepubliseer waarin hy sê hy oorweeg klagtes deur sekere batebestuursfirmas oor die Naspers-Prosus-vraagstuk.
“Aangesien Naspers en Prosus twee afsonderlike maatskappye is, word die perk afsonderlik toegepas en daarom is hul gekombineerde indeksgewig meer as die perk van 10%. Albei maatskappye trek egter ’n beduidende deel van hul waarde uit ’n onderliggende belang in Tencent, en sommige indeksgebruikers glo dit moet in ag geneem word wanneer hul indeksgewig beperk word,” luidens die JSE-dokument.
Die tydperk vir kommentaar op die konsultasiedokument het op 22 November gesluit.
In ’n Sens-verklaring van 10 Desember sê die JSE daar was “algemene steun uit die plaaslike batebestuursbedryf vir die voorstel, met ’n paar belangrike uitsonderings”. Daar was ook “baie uiteenlopende sieninge”.
Nagenoeg die helfte van rolspelers wat aan die konsultasieproses deelgeneem het, het nié die voorstel ondersteun nie. Benewens Prosus en Naspers self, het dit plaaslike beleggers en batebestuursmaatskappye ingesluit.
“Onder dié omstandighede en ná versigtige en gedetailleerde oorweging van al die feite en inligting tot sy beskikking het die JSE besluit om nie die voorgestelde aanpassing van die grondbeginsels van die indeks te verander om Naspers en Prosus saam op ’n vlak van 10% te beperk nie.”
Die gekombineerde gewig in die beperkte indeks van alle aandele (die J303-indeks) was op 31 Oktober 11,14% en in die beperkte aandeelhouersgeweegde indeks van alle aandele (die J433) 12,02%.
Die JSE sê Naspers se 31,1%-belang in Tencent was einde Maart (dus voor die Prosus-ontknoping) nagenoeg R2 027 miljard werd en 79% van Naspers se inkomste het van Tencent gekom.
Naspers se beherende belang in Prosus is sowat R1 264 miljard werd, wat meer is as Naspers se eie markwaarde van R965 miljard.
Die JSE se voorstel was dat Naspers en Prosus in beperkte indekse as een entiteit behartig word, aangesien dit die risiko van ’n enkele groot blootstelling aan Tencent sal beperk.
Daar is verwag dat die verandering met die kwartaallikse veranderinge einde Maart in werking gestel sou word.
Ryan het gesê Naspers het “uitgebreide konsultasie” met die JSE oor ’n tydperk van agt maande voor die Prosus-ontknoping gehou, juis om die beste manier te vind om die ontknoping “in die belang van alle belanghebbendes en beleggers, met die doelwit om waarde vir beleggers te ontsluit”, te doen.
Ryan het ook gesê die hersiening van die twee maatskappye se behandeling op indekse net maande ná Prosus se notering sou die indruk wek dat “beleidsekerheid in Suid-Afrika nie gewaarborg is nie”.
“So ’n persepsie kan ’n negatiewe uitwerking hê op hoe internasionale beleggers Suid-Afrika en die JSE as ’n beleggingsbestemming sien en kan ’n wesentlik negatiewe uitwerking op regstreekse buitelandse beleggings in Suid-Afrika hê.” - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie